Sê jou sê in Afrikaans –

dit is Jeugmaand [’n reeks]

Ontmoet vir William Sezoe, ’n jong en gedrewe taalaktivis, voorsitter van ‘n ATKV-jeugtak en vervaardiger asook mede-aanbieder van sy eie radioprogram.

#Jong stemme behaal sukses in en deur Afrikaans

Junie is Jeugmaand en Afrikaans.com plaas die kollig op jongmense wat ’n verskil in hulle gemeenskappe maak. Eerste aan die beurt, is William Sezoe. William het grootgeword op die klein Weskusdorpie Velddrif. Die afgelope twee jaar is hy op skool in die Paarl en het hy reeds diep spore getrap en homself bewys as ’n taalaktivis wat ten doel het om ander jongmense te motiveer om die lewe met woema aan te pak. Dié energieke jongman is vanjaar in graad 12 by New Orleans Sekondêr in die Paarl en dit is duidelik dat hy beslis nie iemand is wat ledig rondsit nie. Hy is die voorsitter van die ATKV-Jeugtak by sy skool, asook ‘n vervaardiger en medeaanbieder van die program “Afrikaans is tops” by hul plaaslike gemeenskapsradio, Radio KC op 107.7 FM.

Wat die lewe se uitdagings betref sê hy:

“Baie sal sê jy is nie goed genoeg nie, maar ek sê altyd jy moet juis jou omstandighede toelaat om jou te dryf om die beste JY te wees! Want dit weet ek beslis … die lewe is nie altyd maklik nie en al gaan dit hoe moeilik, moenie toelaat dat jou omstandighede bepaal wie jy is nie.”

René Arendse van Afrikaans.com het met William gesels:


Dink jy jongmense se waarde word onderskat of oorskat?

Ons jongmense word absoluut onderskat. Baie het die siening dat ons naïef is oor die lewe en die res van die wêreld, maar dit is onwaar. Ons het passie en kennis – veral t.o.v. ons taal. Ons ATKV-Jeugtak getuig hiervan!

Wat beteken sukses vir jou?

Vir my het sukses nie baie te doen met geld nie … vir my is sukses wanneer jy in samesyn met jou familie kan wees … kan saam eet en gesels en ook lekker skinder … skinder oor goeie goed natuurlik!

Een woord om jouself te beskryf.

Vreesloos!

Wat is van die snaaksste byname wat jy al genoem is?

Weetbix en Pastoor

Waar is jy op jou gelukkigste?

Agter ‘n mikrofoon.

‘n Paar kitsfeite:

Koek of pizza? Pizza

Boek of fliek? Fliek

Hip-hop of rap? Rap

Instagram of Facebook? Facebook

Winter of somer? Winter