Skrywer: Alita Steenkamp
Daar is al sedert Januarie vanjaar, die 40ste herdenking van Koos du Plessis se dood, op verskeie maniere hulde gebring aan ʼn musikant sonder weerga. Die man met die ragfyn netwerk van woorde en besonderse stem. Nou kry Kapenaars en die mense van Stellenbosch ook die geleentheid om ʼn spesiale konsert ter viering van Koos se uitmuntende bydrae by te woon.
Op Saterdagaand 13 April om 7-uur gaan sewe kunstenaars bymekaar kom vir hierdie uitsonderlike viering van Koos se musiek en woorde.
Die digter Danie Marais gaan met Irma en Mornay du Plessis gesels – Koos se vrou en dogter. Irma het die pragboek Erfdeel, met al Koos se lirieke en melodieë bygewerk en die boek is nuut deur UJ Press uitgegee. Die kletsrymer Churchil Naudé gaan van Koos se gedigte voorlees. Lise Swart, Schalk van der Merwe en musikant Andries Bezuidenhout, Koos se skoonseun, is ook deel van die produksie met hulle weergawe van Koos se onvergeetlike liedjies. Daar sal ook ʼn uittreksel uit Niel van Deventer se dokumentêr, En tog die deuntjie draal vertoon word.
Plek en tyd: 19:00 by die Daisy Jones-kroegteater op die Summerhill-wynlandgoed op die R44 net buite Stellenbosch.
Kaartjies: R150 by Quicket. Besprekings is noodsaaklik. WhatsApp 064-968-2015 https://qkt.io/jiGw4u
Die deure maak reeds om 17:00 oop. Bestel iets te drinke by die kroeg en geniet dit onder die prieel met ʼn wonderlike uitsig oor die wingerde. Ligte etes soos burgers of ʼn pizza, spesiaal gemaak in ʼn houtvuur-oond, is ook beskikbaar.
Erfdeel UJ Press, sal te koop wees.







