Kom in ’n feestelike bui met dié heerlike nagereg

Tuis 5 Kook dit 5 Kom in ’n feestelike bui met dié heerlike nagereg
resep-Swartwoudkoekstruif

Skrywer: Karla Janse van Vuuren

As iemand my moet vra wat my heel gunsteling-resep is, ’n regte staatmaker, sal ek vandag se resep noem. Ek het dit 18 jaar gelede by een van my beste vriendinne gekry. Dit is deel van ’n kosbare versameling resepte wat ek vir my kombuistee gekry het, en ek het dit oor die jare ook al met baie bruide gedeel. Vandag deel ek dit ook met Afrikaans.com se lesers. Ek het nog nie iemand teëgekom wat nié van hierdie Swartwoudkoekstruif hou nie. Boonop is daar beweegruimte as jy nie kersies kan kry nie (of dalk van ’n ander planeet kom en nie daarvan hou nie!). Ek het dit al met geblikte en vars aarbeie gemaak, en selfs met bloubessies. Albei kere was die bak skoongelek.

Ek het dit onlangs gemaak om my sussie en haar gesin op eie bodem terug te verwelkom. Hulle was drie jaar lank in Nederland voordat Suid-Afrika hulle huis toe geroep het. My sus is ’n groot liefhebber van hierdie poeding, en dit het sommer lekkerder geproe met die wete dat sy nou nie meer in anderland sit nie.

So, maak dit dié feesseisoen vir jou geliefdes. Niemand gaan kla nie! En, jy mag dit maar op Kersoggend vir ontbyt eet – dis mos net muffins, vrugte en suiwel!

Swartwoudkoekstruif

Bestanddele (genoeg vir 6-8):

6 dubbelsjokolade-muffins (gekoop of tuisgebak)

60 ml brandewyn (of appelsap vir ’n alkoholvrye weergawe)

1 blikkie kondensmelk

1 blikkie swartkersies*

1 houertjie ongegeurde volroom-roomkaas

Sap van 1 suurlemoen

250 ml room, styfgeklits

1 Flake

Ekstra vars kersies vir versiering

Metode:

  1. Klits die kondensmelk, roomkaas en suurlemoensap goed saam tot glad.
  2. Sny die muffins middeldeur en pak ’n laag onderin jou koekstruifbak. Sprinkel die helfte van die brandewyn oor die muffins.
  3. Skep die helfte van die kondensmelk-mengsel oor, en skep die helfte van die kersies bo-op dit. Pak dan nog ’n laag muffins bo-op, en sprinkel die res van die brandewyn oor. Herhaal met die res van die kondensmelk en swartkersies.
  4. Plaas in die yskas vir ’n paar uur of verkieslik oornag sodat die geure kan ontwikkel. Net voordat jy dit wil voorsit, klits die room styf, skep dit bo-op en krummel die Flake ook oor. Versier met vars kersies.

*Jy kan 300 g vars kersies ook gebruik. Verwyder die pitte en sny middeldeur. Stowe vir ’n paar minute in ’n suikerstroop tot net sag maar nie pap nie. Drup ook van die stroop oor die muffins vir ekstra lekkerte.

by | Nov 16, 2026 | Kook dit

Deel hierdie plasing