Skrywer: Karla Janse van Vuuren
“VAT HOM, JANNIE! DUIK HOM PLAT!”
My ore tuit soos die man langs my uit volle bors skree. En nee, hierdie is nie ’n Springbokrugbywedstryd op Loftus nie. Dit is nie eens matriekseuns wat vir die eerstespan uitgedraf het en mekaar nou die stryd aansê nie. Dis mini-rugby. Dit is halfvier op ’n Donderdagmiddag by ’n laerskool. Die kinders is ses. Hulle is glad nie veronderstel om mekaar plat te duik nie (rugby is nie ’n kontaksport wanneer hulle só klein is nie!).
Ongelukkig neem die ouers (en veral die pa’s wanneer dit kom by mini-rugby en -krieket) dinge baie ernstig op. Soveel so dat hulle sommer hulle maniere vergeet en op hulle kinders (en die onderwysers en ander ouers) skree asof hulle niks gewoond is nie. Soms word kragwoorde ingespan. Ek het al tot gesien hoe oë vernou en vuiste gebal word as gemoedere baie hoog begin loop… en dit was by ’n mini-netbalwedstryd!
Daar word ook glad nie telling gehou by hierdie tipe wedstryde nie – die idee is om die kinders ’n gevoel te gee vir die spel sonder om te kompeterend te wees. Maar watwou, die ouers staan daar en tel elke doel, drie of lopie, en klop mekaar na die tyd selfvoldaan op die rug as hulle spannetjie ‘gewen’ het.
Ek weet nie of ek die enigste een is wat so voel nie, maar ek dink as jy by jou kind se skool of enige geleentheid gekoppel aan die skool is, met of sonder jou kind, moet jy regtig jou beste gedrag uithaal en wys. Daar is ’n sêding wat ek nou nie presies gaan uitskryf soos ek hom al gehoor het nie, maar om op te som, mens mors nie waar jy moet eet nie. Die skool is die plek waar jou kind met trots sy of haar kop moet kan lig en die wêreld in die oë kyk.
Jy moenie die rede wees hoekom jou kind haar kop in skaamte laat sak nie.
Dit gaan vir my verder as sportgeleenthede. Sosiale geleenthede op skooleiendom is ’n mynveld wat ouers versigtig moet aandurf, veral as daar alkohol betrokke is. Gewoonlik by skole is daar gereeld geleenthede om saam te kuier. Ongelukkig gebruik baie ouers die geleentheid om te kyk hoeveel brannas-en-Coke hulle kan drink. ’n Paar jaar gelede het ’n enkelma by só ’n geleentheid een te veel Brutal Fruit gedrink en daarna só by my man haar flikkers gegooi, dat ons tot vandag toe nog daaroor lag. En sy kan dit nie eens onthou nie… maar ek dink daaraan elke keer wat ek haar groet terwyl ons by die skoolhekke vir ons kinders wag.
Selfs skoolgeleenthede weg van die skoolgronde (maar gekoppel aan die skool) moet met handskoene aangepak word. Dadelik kom iets by my op: Skool-gholfdae. In my opinie is dit net ’n verskoning vir sekere pa’s wat so bietjie kan gholf speel om baie te kuier. My man was vroeër in die jaar by ’n buurskool se gholfdag, en een lid van sy vierbal het al vroegoggend met slukkies tequila sy korrel na daardie klein wit balletjie probeer verbeter. Nodeloos om te sê was dié pa teen die tyd van die funksie aan die einde van die geleentheid, so kaste toe dat hy snaakse danspassies op onvanpaste tye uitgevoer het, kliphard gelag het sonder rede, en ogies gemaak het vir die jong onderwyseresse. Hy het ook alles van ’n knipmes tot twee kaste bedenklike wyn gekoop tydens die veiling wat deel is van ’n gholfdag, so ek dink daar is verskeie redes hoekom hy waarskynlik daardie aand op die bank geslaap het.
Ag nee man. Hierdie is jou kinders se onderwysers. Hulle maatjies se ouers. Jy gedra jouself soos ’n hanswors, maar môre moet jy almal weer in die oë kyk. En die arme kind. Hy moet op die skoolgronde rondbeweeg en in die onderwysers se klasse sit. Verbeel jou: “Mmm ja, daardie is Pietie, hy is Johan se seun. Jy weet mos, daardie een wat die Macarena gedoen het en vir juffrou Elise wou soen tydens die gholfdag?” Ek sidder sommer van die skaamte!
Hierdie is nie ’n preek nie – soos die Engelse sê, “you do you”. Maar, daar is ook ’n tyd en plek vir alles.
My gevoel is as jy regtig wil groot gaan, doen dit eerder by jou huis of saam met jou vriende by hulle huise. En sit dan maar altyd jou beste voetjie voor wanneer dit by skoolgeleenthede kom. Ons almal raak natuurlik passievol wanneer dit by ons kinders se prestasies op die sportveld kom, maar hou ook maar in gedagte dat dit skoolsport is, en dit is nie doodsake as klein Jannie nié vandag ’n drie gaan druk nie…






