Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Kinderjare is nie meer wat dit was nie. Vorige generasies het hul middae buite deurgebring en dalk ’n bietjie geklets met hulle maats op die landlyn as ma gesê het dit is reg. Vandag se kinders word groot in ’n wêreld van ‘likes’, ‘shares’, volgelinge, ‘viral’ video’s en aanlyn vriendskappe. Die vraag is egter, wanneer is die regte tyd om jou kind toegang te gee tot sosiale media? Afrikaans.com het by ’n paar kenners uitgevind.
Prof. Anke de Beer is die medestigter en uitvoerende hoof van die ReBOOT TechBalance and Wellness Institute in Suid-Afrika. Sy is ’n navorser, skrywer en spreker wat spesialiseer in digitale verslawing en digitale welstand, met ’n besondere fokus op die invloed van oormatige skermtyd, sosiale media en videospeletjies op kinders, gesinne en die samelewing. “My aanbeveling is dat kinders nie voor die ouderdom van 16 jaar toegang tot sosiale media behoort te kry nie. Ek ondersteun Jonathan Haidt se aanbeveling in die boek, The Anxious Generation: geen slimfoon voor ongeveer 14 jaar nie en geen sosiale media voor 16 jaar nie.”
Daar is nie ’n spesifieke ouderdom waarop ’n kind skielik gereed is vir sosiale media nie, voeg Karin Gerber, ’n opvoedkundige sielkundige van Stellenbosch, by.
“Ouderdom is ’n belangrike vertrekpunt, maar emosionele volwassenheid, impulsbeheer, begrip van risiko’s en beskikbare ouerondersteuning moet ook in ag geneem word.”
Anke sê ook ons moet onderskei tussen die ouderdom waarop ’n platform jou toelaat om ’n rekening te kry en die ouderdom waarop ’n kind werklik ontwikkelingsgereed is om dit te hanteer. “Die feit dat ’n platform ’n minimum ouderdom van 13 jaar stel, beteken nie dat ’n 13-jarige emosioneel, kognitief of sosiaal gereed is daarvoor nie. (In SA is die ouderdomsbeperking vir sosiale media 13.)”
Karin sê sy sou ouers aanmoedig om toegang geleidelik te benader en onafhanklike gebruik in die laerskooljare uit te stel. “’n Kind kan reeds digitale vaardighede aanleer deur saam met ’n ouer inhoud te ondersoek, sonder om ’n eie rekening te hê. Dit help ook om drie besluite van mekaar te onderskei: Wanneer het my kind ’n selfoon nodig? Wanneer het my kind internettoegang nodig? En wanneer is my kind gereed vir sosiale media? Hierdie besluite hoef nie op dieselfde tyd geneem te word nie.”
Sosiale media het ’n fisiese impak op die brein
Die adolessente brein is besonder neuroplasties, verduidelik Anke. “Dit beteken dat die brein voortdurend verander en aanpas op grond van ervarings, omgewingsinvloede en herhalende gedrag. Wat kinders daagliks doen, beïnvloed dus die ontwikkeling van hul brein.” Karin voeg by dat gedurende tienerjare word aanvaarding en terugvoer van maats besonder belangrik. “Breinstelsels wat op sosiale beloning en afwysing reageer, raak sensitiewer, terwyl die vermoë om impulse te beheer, vooruit te dink en emosies te reguleer steeds ontwikkel. ’n Tiener kan dus verstaan dat ’n plasing riskant is, maar in die oomblik steeds sterk deur die moontlikheid van goedkeuring beïnvloed word.”
Ons moet ook onthou dat ontwikkeling nie net oor die brein gaan nie, meen Anke. “Kinders leer emosionele regulering, konflikhantering, empatie en sosiale vaardighede deur werklike interaksie met ander mense, m.a.w. deur te speel. Wanneer digitale interaksie hierdie ervarings vervang, verloor kinders belangrike geleenthede om dié vaardighede te ontwikkel. Dit is belangrik om te sê dat navorsing nie bewys dat elke kind se brein op dieselfde manier deur sosiale media beskadig word nie. Die risiko hang o.a. af van ouderdom, gebruikspatrone, inhoud en individuele kwesbaarheid. Maar ons behoort nie ‘n hele generasie se ontwikkeling as ‘n eksperiment te gebruik nie.”

Die emosionele (en selfs verslawende) gevolge
Die risiko van sielkundige en emosionele gevolge ontstaan wanneer kinders met inhoud en sosiale druk gekonfronteer word waarvoor hulle nog nie genoeg hanteringsvaardighede het nie. Karin noem die volgende moontlike gevolge:
- Selfbeeld: ’n Kind kan begin om eiewaarde aan gewildheid, reaksies of volgelinggetalle te koppel.
- Liggaamsbeeld: Geselekteerde en geredigeerde beelde kan onrealistiese verwagtings oor voorkoms skep.
- Emosionele welstand: Vergelyking, kuberafknouery en ontstellende inhoud kan gevoelens van ontoereikendheid, angs of neerslagtigheid versterk.
- Daaglikse funksionering: Gebruik kan slaap, beweging, huiswerk en tyd saam met ander verdring.
Sosiale media is nie sonder rede verslawend nie, meen Anke. Dit word ontwerp deur maatskappye wat finansieel baat vind wanneer gebruikers so lank as moontlik op hul platforms bly. “Die sakemodel is grootliks gebaseer op aandag (attention). Hoe meer tyd ‘n gebruiker op ‘n platform deurbring, hoe meer advertensies kan vertoon word en hoe meer data kan ingesamel word.”
Anke noem verskeie meganismes wat hierdie gedrag versterk:
- Veranderlike belonings (rewards): Jy weet nooit wanneer jy ‘n ‘like’, interessante boodskap of nuwe inhoud gaan ontvang nie. Dié onvoorspelbaarheid moedig herhaalde gebruik aan.
- Dopamien en beloning: Sosiale terugvoer, altyd iets nuuts, en verwagting aktiveer die brein se beloningstelsels. Dopamien speel ‘n belangrike rol in motivering en die verwagting van beloning.
- FOMO (Fear Of Missing Out): Kinders is bang dat hulle iets gaan misloop as hulle nie voortdurend aanlyn is nie. Ons sien dit veral by TikTok-gebruikers.
- Sosiale aanvaarding: Die behoefte om aanvaar, raakgesien en waardeer te word, is besonder sterk gedurende adolessensie.
- Algoritmes: Platforms leer waarvan ‘n gebruiker hou en bied voortdurend soortgelyke of toenemend stimulerende inhoud aan.
- Oneindige blaai (infinite scroll) en outomatiese video’s: Daar is nie altyd ‘n natuurlike eindpunt nie. Die volgende video begin voordat die gebruiker eers besluit het om verder te kyk.
“Vir kinders is hierdie meganismes besonder problematies omdat hulle nog besig is om selfbeheer en impulsregulering te ontwikkel. Dis een van die goed wat Meta moet verander nadat hulle beboet is oor die verslawende ontwerp van Meta se platforms,” verduidelik Anke.

Is my kind gereed?
Gereedheid behoort uit gedrag oor tyd te blyk, beklemtoon Karin. Sy voeg by ’n belofte om “versigtig te wees” is op sy eie onvoldoende. Ouers kan onder meer oplet of die kind die volgende kan doen:
- Met ondersteuning kan ophou wanneer die afgespreekte skermtyd verby is.
- Teleurstelling of meningsverskille kan hanteer sonder om onmiddellik terug te slaan (retaliate).
- Kan verduidelik waarom persoonlike besonderhede en foto’s beskerm moet word.
- Verstaan dat inhoud gekopieer en verder versprei kan word.
- Kan bevraagteken of ’n beeld, advertensie of bewering geloofwaardig is.
- Weet hoe om iemand te blokkeer, inhoud aan te meld en hulp te vra.
- Bereid is om oor onaangename ervarings en eie foute te praat.
Ouers kan ook stappe neem om hulle kinders voor te berei om op ’n verantwoordelike manier sosiale media te gebruik. “My eerste aanbeveling is om nie te haastig te wees om kinders toegang tot sosiale media te gee nie. Voorbereiding beteken nie dat ons ‘n kind op 10 of 11 jaar aan sosiale media moet blootstel sodat hulle kan leer om dit verantwoordelik te gebruik nie. Ons leer kinders immers ook nie om verantwoordelik te bestuur deur hulle op tienjarige ouderdom ‘n motor te gee nie. Digitale geletterdheid en digitale verantwoordelikheid moet lank voordat kinders toegang tot sosiale media kry, aangeleer word,” is Anke se raad.
Sy beveel ook die volgende aan:
- Stel ouderdomsgepaste grense: Stel duidelike gesinsreëls oor slimfone, sosiale media, internettoegang en skermtyd. Wees bereid om nee te sê, selfs wanneer ander kinders reeds toegang het.
- Leer kinders digitale geletterdheid: Kinders moet verstaan hoe algoritmes werk, hoe advertensies hulle beïnvloed, hoe vals inligting versprei word en hoe platforms hul aandag probeer behou.
- Leer hulle oor digitale veiligheid: Bespreek kuberafknouery, aanlyn vreemdelinge, sexting, seksuele uitbuiting, privaatheid, digitale voetspore en die gevare van die deel van persoonlike inligting en foto’s.
- Bou emosionele volwassenheid: Kinders moet leer dat hul waarde nie deur ‘likes’, volgelinge of ander mense se kommentaar bepaal word nie. Hulle moet ook leer om verwerping, konflik, teleurstelling en sosiale druk te hanteer.
- Stel gesonde digitale gewoontes tuis vas: Geen selfone tydens etes nie, geen toestelle in slaapkamers gedurende die nag nie en vaste tye wanneer die hele gesin van tegnologie afskakel.
- Wees self die voorbeeld: Ons kan nie van kinders verwag om hul selfone neer te sit as hulle sien dat ons as ouers voortdurend na ons eie toestelle kyk nie. Kinders leer baie meer uit wat ons doen as uit wat ons sê.
- Maak die werklike wêreld aantrekliker: Moedig sport, buitespel, lees, kreatiwiteit, gesinstyd en persoonlike vriendskappe aan. Ons moet kinders nie net leer wat hulle nie op hul fone mag doen nie, maar vir hulle ‘n wêreld bied waarin hulle graag sonder hul fone wil leef.
Prof. Anke se ‘Smart Device Licence’
Die Smart Device Licence (SDL 101) is ‘n voorkomende opvoedkundige program wat kinders voorberei voordat hulle hul eerste slimfoon of slimtoestel ontvang. Die uitgangspunt is eenvoudig: Net soos ‘n kind eers ‘n leerlinglisensie moet kry voordat hy mag bestuur, behoort kinders eers oor die nodige kennis en vaardighede te beskik voordat hulle toegang tot ‘n slimtoestel kry.
Die program leer kinders oor digitale veiligheid, verantwoordelike tegnologiegebruik, kuberafknouery, privaatheid, digitale voetspore, aanlyn risiko’s en die gesonde gebruik van tegnologie. Dit sluit ouderdomsgepaste leermodules, vasvrae en ‘n sertifikaat in.
Die doel is nie om tegnologie te verbied nie, maar om kinders en ouers toe te rus om ingeligte besluite te neem. Dit betrek ook ouers by die proses deur middel van ouerleiding en ‘n digitale toestelkontrak. “My uitgangspunt is dat ons kinders nie bloot ‘n slimfoon in die hand moet gee en hoop hulle sal verantwoordelik daarmee omgaan nie. Ons moet hulle eers leer, voorberei en toerus,” sê Anke.
Klik hier vir meer inligting.
Addisionele hulpbronne:
Anke beveel die volgende aan vir verdere lees oor hierdie belangrike onderwerp:
Boeke:
- The Anxious Generation deur Jonathan Haidt – beskikbaar op Takealot.
- The Digital Delusion deur Jared Cooney Horvath – beskikbaar op Takelot.
- iGen deur Jean M. Twenge – Beskikbaar by Exclusive Books
Webwerwe en navorsing:
- Screen Free Childhood South Africa (SFC-SA). Die beweging se aanbevelings oor die uitstel van slimfone tot hoërskool en sosiale media tot 16 jaar, slimfoonvrye skole en die herstel van kinderjare deur spel en werklike interaksie.
- Orben et al. (2024) – Mechanisms linking social media use to adolescent mental health vulnerability. ‘n Belangrike akademiese oorsig oor die meganismes waardeur sosiale media adolessente se kwesbaarheid kan beïnvloed, insluitend sosiale vergelyking, sosiale terugvoer en beloningsprosesse. Lees die navorsingsartikel.
- Senekal et al. (2023) – Social media and adolescent psychosocial development: A systematic review. Veral waardevol omdat dit die Suid-Afrikaanse konteks bespreek en beide die moontlike voordele en risiko’s van sosiale media bespreek. Lees die Suid-Afrikaanse navorsing.







