Vlieg die vliegtuig: Waarom ons KI nie uit die klaskamer moet weer nie

Tuis 5 Leerhulp 5 Artikels 5 Algemeen 5 Vlieg die vliegtuig: Waarom ons KI nie uit die klaskamer moet weer nie
Ignatius Gous

Skrywer: Ignatius Gous

Op 4 November 2010 styg Qantas-vlug 32 in Singapoer op. Dit is ’n Airbus A380 met 469 mense aan boord. Vier minute later, bo die Indonesiese eiland Batam, bars ’n foutiewe oliepyp en ontplof enjin nommer twee. Brokstukke skeur deur die vlerk en beskadig kabels, brandstofleidings en hidrouliese stelsels.

In die stuurkajuit begin die rekenaars praat. Eers een waarskuwing, dan nog een, en nog een – uiteindelik meer as vyftig. Elke keer as die bemanning een probleem afhandel, flits nuwe foutboodskappe op die skerm. Die stelsel wat veronderstel was om te help, word self ’n bedreiging: dit eis al die aandag van die mense wat die vliegtuig moet vlieg.

Kaptein Richard de Crespigny het later vertel wat die draaipunt was:

Hy het opgehou om te vra wat alles verkeerd is, en begin vra wat nog wérk. Hy het opgehou om aan die alarms aandag te gee, en eerder op wat werk, en veral op sy vermoë om die vliegtuig te vlieg. Byna twee uur ná opstyg land die reusevliegtuig veilig terug in Singapoer. Al 469 mense oorleef.

Die ondersoek daarna het iets belangriks bevind: Die ramp het nie van buite gekom nie. ’n Klein olietoevoerpyp binne-in die enjin het ’n vervaardigingsfout gehad, en dit het gekraak. Die skade het van binne gekom.

Twee dinge het die vlug gered:

Die bemanning het die grondbeginsels van vlieg só goed bemeester dat hulle dit onder groot druk kon toepas. Hierbenewens het hulle gebruik wat nog beskikbaar was om te oorkom wat gevaarlik was.

Die alarms in ons klaskamers

Die gesprek oor kunsmatige intelligensie (KI) in skole en universiteite klink deesdae baie soos daardie stuurkajuit. Die alarms lui oral: Plagiaat! Kognitiewe luiheid! Die dood van die opstel! Die einde van kritiese denke! Instansies bestee baie energie daaraan om elke alarm afsonderlik stil te maak – met verbodsbepalings, beleidsdokumente en opsporingsagteware.

Die alarms is nie verbeelding nie. Navorsing toon werklike risiko’s. In ’n groot eksperiment met byna 1 000 hoërskoolleerders in Turkye het leerders met onbeperkte toegang tot ChatGPT 48% beter in hul oefenwerk gevaar. Maar toe die KI weggeneem is, het dieselfde leerders 17% swakker in die eksamen gevaar as leerders wat dit nooit gehad het nie. Hulle het beter gepresteer, maar minder geleer.

Maar dieselfde navorsing vertel ook ’n ander storie. In dieselfde Turkse eksperiment het ’n weergawe van die KI wat soos ’n goeie tutor gewerk het – wat vrae vra en wenke gee eerder as antwoorde – die skade grootliks voorkom. In ’n ander studie by die Harvard-universiteit in Amerika het studente met ’n goed ontwerpte KI-tutor meer geleer, in minder tyd, as in ’n aktiewe klasgroep. Die verskil lê dus nie in die tegnologie nie, maar in hoe dit gebruik word.

Die fout sit binne-in

Hier lê die kern van die Airbus-verhaal. KI het nie die krisis in die onderwys geskep nie. Die krake was lankal daar.

Reeds in Plato se tyd het Sokrates gewaarsku dat die skrif die geheue sal verswak en leerlinge net ’n skyn van wysheid sal gee. ’n Bekende studie het in 2011 bevind dat 45% van Amerikaanse studente ná twee jaar op universiteit geen noemenswaardige vordering in kritiese denke en skryf toon nie. Boonop betaal studente al dekades lank ander om hul opdragte te skryf. Oppervlakkige leer, swak redenering en geleende werk het lank voor ChatGPT bestaan.

KI is dus nie die oorsprong van die probleem nie, maar ’n vergrootglas – en ’n versneller. Dit maak die ou krake skerp sigbaar, omdat KI dit so maklik maak om die moeite van leer te ontwyk. Net soos by QF32 kom die werklike skade van binne: uit ’n onderwysstelsel wat nog nooit eksplisiet geleer het hoe om te leer, hoe om te dink en hoe om te skep nie.

Wanneer verbod die probleem ondergronds dryf

Wat gebeur as ons net op die alarms konsentreer? Die ervaring is nie bemoedigend nie. New York se openbare skole het ChatGPT in Januarie 2023 verbied – om die verbod binne vyf maande net weer te moes herroep. Sagteware wat KI-teks moet opspoor, het so onbetroubaar geblyk dat selfs die maker van ChatGPT sy eie verklikker onttrek het. Erger nog: sulke programme merk die werk van mense wat Engels as tweede taal skryf, dikwels verkeerdelik as KI-teks. In ’n veeltalige land soos Suid-Afrika is dit ’n ernstige onreg.

Intussen gebruik studente KI in elk geval. In ’n Britse opname van 2025 het 92% van voorgraadse studente gesê dat hulle KI gebruik, maar net ’n minderheid het enige opleiding daarin van hul instelling ontvang. Meer as die helfte het gesê dat vrees om van oneerlikheid beskuldig te word, hulle terughou.

Dit is die werklike gevaar van ’n oormatige klem op die probleme. As onderwysers KI net as ’n bedreiging hanteer, verdwyn die gebruik nie – dit gaan net ondergronds. Wie wegsteek, vra nie raad nie. Die versinde bronne, die vooroordele en die oppervlakkigheid word onsigbaar, en dus onkorrigeerbaar. En ons ontneem jong mense die geleentheid om die krag van KI op ’n verantwoordelike manier te leer benut – juis die vaardigheid wat die werkplek van môre van hulle gaan eis.

Die beter weg is om KI in die lig te bring. Laat studente dit openlik gebruik, in die oefenfase, onder die oog van die dosent of studieleier, en ontleed die uitset saam. ’n Versinde verwysing wat ’n student saam met haar studieleier ontbloot, leer haar meer oor die nagaan van bronne as enige beleidsdokument. Die fout van die masjien word die leermoment van die mens.

Ignatius Gous

Leer om te vlieg: drie vermoëns

Wat beteken dit om in die onderwys “die vliegtuig te vlieg”? KI kom eers werklik tot sy reg wanneer die gebruiker drie vermoëns beheers. Die goeie nuus is dat al drie strategieë is wat aangeleer kan word.

Bemeester. Die eerste vermoë is om kennis werklik jou eie te maak. Mens kan nie krities dink oor iets wat jy nie ken nie. Bemeestering beteken nie om te weet waar om iets op te soek nie, maar om kennis só in jou eie geheue in te bou dat jy dit kan gebruik, verbind en verduidelik. Wie self probeer onthou, self verduidelik en homself toets, leer dieper as wie bloot weer lees. KI kan ’n uitstekende hulp wees – nie deur die werk te doen nie, maar deur vrae te vra, oefenvrae op te stel en gapings uit te wys. Die toets is eenvoudig: kan jy dit aan iemand anders verduidelik met die skerm afgeskakel? Indien nie, ken jy dit nog nie. KI is ’n leerhulp, nooit ’n leervervanger nie.

Beoordeel. Die tweede vermoë is om bronne en argumente krities te weeg. Ons brein soek gemak, ons glo maklik wat ons reeds dink, en KI-programme is boonop geneig om met ons saam te stem. Kritiese denke vra ’n gedissiplineerde proses: Wat word werklik gevra? Wat sê onafhanklike bronne? Watter aannames maak ek? Kan ek die ander kant billik weergee? Hier verander KI van ’n orakel in ’n skermmaat teen wie jy oefen. In plaas van “Skryf vir my ’n literatuuroorsig”, sê die student: “Hier is my argument. Aanvaar dat ek verkeerd is, en bou die sterkste saak daarteen.” Elke bron wat KI voorstel, word op hierdie manier teen die oorspronklike nagegaan.

Beskikbaarstel. Die derde vermoë is om iets nuuts te skep en dit verantwoordelik met ander te deel – ’n oplossing, ’n opstel, ’n artikel, ’n proefskrif. Die woord is doelbewus gekies: Kennis moet eers self geskep word voordat dit beskikbaar gestel kan word, en wie dit beskikbaar stel, neem verantwoordelikheid daarvoor. Kreatiewe idees het tyd nodig om te broei, sonder skerms. Die eerste rowwe konsep moet menslik wees, want daar vind die denke plaas waaruit oorspronklikheid groei. Navorsing toon dat wanneer KI die eerste idees lewer, almal se werk meer na mekaar begin lyk. Daarna kom KI tot sy reg: as teenstander wat die argument toets en as redigeerder wat die taal versorg.

’n Dringende waarskuwing

Daarom moet ons hard en duidelik waarsku teen die tendens om KI uit klaskamers en lesinglokale te weer. Dit voel veilig. Dit is egter nie. Dit is soos ’n vlieënier wat die waarskuwingskerm afskakel en dink die enjin is reggemaak. Die studente vlieg reeds; baie van hul dosente staan nog op die aanloopbaan en bestudeer die alarms. ’n Verbod leer niemand om te vlieg nie. Dit stuur hulle alleen die lug in.

Dit beteken nie dat alles oral toegelaat moet word nie. Jong kinders het eers ’n stewige fondament van kennis en basiese vaardighede nodig. Eers die fondament, dan die instrument. Maar ’n verstandige volgorde is iets heeltemal anders as verbanning.

Die slotsom

Die Airbus het nie geland omdat die alarms stilgemaak is nie. Dit het geland omdat die bemanning die grondbeginsels van vlieg bemeester het en die beskikbare instrumente vir hul doel ingespan het.

Die les vir die onderwys is dieselfde. Verstaan wat dit beteken om kennis te bemeester, om krities te beoordeel en om iets nuuts beskikbaar te stel. Leer dit eksplisiet aan – aan leerders, aan studente, en aan onsself as onderwysers, want ons kan nie van ander verwag om te doen wat ons self net intuïtief doen nie. Gebruik dan die krag van KI om elkeen van dié drie werklik beter te maak.

Ons staan aan die begin van een van die grootste geleenthede in die geskiedenis van die onderwys. KI kan ’n geduldige tutor wees vir elke leerder, ’n skerp skermmaat vir elke student en ’n bekwame assistent vir elke navorser. Dit sal die mens nie vervang nie, maar dit kan ons help om beter te leer, helderder te dink en ryker te skep. Laat ons dus ophou om net na die alarms te staar. Laat ons die vliegtuig vlieg.

Prof. Ignatius Gous is emeritusprofessor van Unisa en stigter van Future Sharp NPC. Hierdie bydrae is gebaseer op sy akademiese artikel oor KI en ’n PedAIgogiek vir onderrig, leer en navorsing

by | Nov 3, 2026 | Algemeen, Artikels, Leerhulp

Deel hierdie plasing