Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die verband tussen sosiale media en geestesgesondheid.
In ’n onlangse hofgeding tussen die Digital Law Company (DLC) in Suid-Afrika teen Meta, die moedermaatskappy van Facebook, Instagram en WhatsApp, oor die verspreiding van aanstootlike inhoud waarin Suid-Afrikaanse kinders op Meta se aanlyn platforms betrek word, het die Johannesburgse hooggeregshof ‘n hofbevel uitgereik waarin Meta beveel is om aan sekere riglyne te voldoen en spesifieke stappe te doen om kinders teen digitale uitbuiting te beskerm en om aanspreeklikheid deur Meta af te dwing. Daar is uiteindelik ’n skikkingsooreenkoms bereik. Emma Sadleir, eienaar en direkteur van die DLC, het hierdie ooreenkoms verwelkom en beskou dit as ’n stap in die regte rigting. In reaksie hierop het Rorke Wilson van die DLC gesê dat hulle vol hoop is dat hulle in die toekoms hierdie multinasionale groepe aanspreeklik kan hou, veral ten opsigte van die “massaverspreiding van onwettige materiaal van kinders aan ongeïdentifiseerde WhatsApp- en Instagramprofiele”.
Hierdie skikking stel ’n nuwe standaard vir sosialemediaveiligheid, maar dit het opnuut die kollig geplaas op die invloed van sosiale media op veral ons kinders se geestesgesondheid. Afrikaans.com het so bietjie dieper gaan delf na die beskuldigings teen Meta dat hulle doelbewus ontwerpkenmerke in hulle platforms inbou om gebruikers vas te vang, wat tot verslawing en geestesgesondheidsprobleme onder veral jong mense kan lei. Estée Cockcroft, ’n media- en kommunikasiekenner van Gqeberha, het ons vrae hieroor beantwoord. Estée is ook medeskrywer van die boek, Skermslim: ’n Gids vir veilig speel in die digitale ruimte.
“Kindwees is kosbaar, en ons moet alles in ons vermoë doen om ons kinders se ontwikkeling te koester en hulle terselfdertyd bloot te stel aan al die wondere wat tegnologie ons bied.” – Estée Cockcroft van Smart Screens.

Is die beskuldigings teen Meta dat hulle platforms sodanig ontwerp is om verslawend te wees geregverdig?
Moderne tegnologie is gebaseer op ’n aandag-ekonomie. Hoe langer die platform jou aandag het, hoe meer geld maak hulle. Indien hulle jou aandag verloor, verloor hulle geld. Dus is die media bodemloos om ’n rede. As daar natuurlike stoptekens (soos die einde van ’n hoofstuk in ’n boek) in die media teenwoordig was, sou Meta wins verloor het. Die media is verslawend in die manier waarop dit jou aandag behou en jou terugtrek in die app in wanneer ook al jy iets anders probeer doen.
Hoe doen hulle dit?
Meta gebruik ontwerpstegnieke wat gebruikers deur eindelose herlaai en kennisgewings uiteindelik oorreed om die produk aan te hou gebruik, veral omdat gebruikers nooit werklik die bodem bereik nie. Hulle gebruik ook algoritmes wat vir die gebruiker altyd die mees ekstreme weergawe van waarin hy ook al moontlik belangstel, voer. Skadelike en skokkende inhoud hou mense (en veral kinders) se aandag vir ’n langer tydperk en Meta kapitaliseer daarop.
Hoe werk die verslawing? Waar is dit gesetel?
Die verslawingsiklus werk soos enige gedragsverslawing (pornografie, dobbel, ens.) deurdat dit dopamienpieke in die brein veroorsaak. Die fondasievlak van dopamien verlaag na die piek. Dit voel nie goed nie en die kind gaan terug na die app om weer ’n piek te bereik. Na die piek verlaag die fondasievlak van dopamien dan weer waarop die kind weereens teruggaan na die app toe – en dit veroorsaak ’n verslawingsiklus.
Die hartseer is dat die mens afhanklik is van dopamien vir motivering en beweging en wanneer die fondasievlak laag is, het die kind nie die motivering om enige ander gesonde aktiwiteit of stokperdjies te beoefen nie. Beweging word ook geaffekteer en dus is baie kinders met ’n skermverslawing lusteloos.
Wat is die gevolge van hierdie verslawing op die kind se geestesgesondheid?
Dit veroorsaak isolasie, depressie en angs. Ons bevind ons tans in ’n globale krisis ten opsigte van ons tieners se geestesgesondheid. Die vlakke van depressie en angs is hoër as wat dit nog ooit was. In Suid-Afrika is ons grootste risikogroep vir selfdood onder ons 10-19-jariges. (SADAG).
Volgens ’n globale studie deur Sapien Labs en The global mind project, sukkel jong mense (19-24 jaar) ook met verlies aan werklikheidskontekste en onsekerheid oor hul identiteit as gevolg van hul skermgedrag as kinders.
Hierdie verslawing neem ook die kind weg van die dinge wat goed is vir breinontwikkeling en geestesgesondheid, soos sosiale interaksies, sport, gemeenskapsaktiwiteite, en so meer. Laastens, het kunsmatige intelligensie nou onder ons aandag gekom en bekommer KI-psigose in kinders ons baie. Dit is ’n ontwikkelende veld, maar hoogs kommerwekkend.

Wat kry ’n kind of eintlik enigiemand sover om eksplisiete foto’s aanlyn te deel en so ’n prooi vir oortreders te word? Hoekom verloor hulle alle goeie oordeel?
Ons moet versigtig wees hier om nie ’n kind te blameer nie. ’n Kind het nie ’n volwasse prefrontale korteks nie en dus word baie besluitneming deur die amigdala gedoen. (Die amigdala is daardie gedeelte van die brein waar emosies verwerk word.) Dit is waarom goeie tieners slegte besluite neem (op daardie oomblik voel dit goed). Hiermee gepaard is daar die kind se natuurlike nuuskierigheid – iets wat nie in die verlede gevoer is deur ’n globale netwerk van foto’s, video’s en die mees grusaamste weergawes van enige ding wat jy intik nie.
Bykomend is daar die trekpleister van die spelkrediete of ander belonings wat die sluipjagter aanbied, of die idee dat ek ‘’n kêrel of ’n meisie’ aanlyn het wat my aandag gee en my vlei. Hierdie kriminele se vernuf om ’n kind se kwesbaarhede uit te buit en hulle te manipuleer, is professioneel en skrikwekkend. Ons moet dit nooit onderskat nie.
Wat is jou mening oor kinders en slimfone? Hoe oud moet ’n kind wees voordat hy ’n selfoon kry?
Ek is sedert 2018 al besig met hierdie werk en kan met oortuiging sê dat ek nog nooit enige voordeel gesien het in ’n slimfoon in die hand van ’n laerskoolkind nie – net slegte nagevolge, verslawing en die afbreek van die ouer-kind-verhouding. Daarom glo ek dat ’n kind ’n foon kan kry wanneer hulle in die hoërskool is, maar dit moet ’n foon wees sonder sosiale media of media en vermaak wat dopamien in die brein vrystel (wat tot verslawing aanleiding gee). Daar moet ook filtreringsagteware en tydsbeperkings in plek wees en ouers moet aktief betrokke wees en bewus wees van wat aanlyn beskikbaar is en hoe dit hulle kinders kan baat of skaad.
Is 16 oud genoeg om die oordeelsvermoë te hê om met veiligheid sosiale media te gebruik en ook om moontlike kuberboeliery die hoof te bied? Tieners is juis dan baie kwesbaar.
In Zimbabwe het hulle ’n wet voorgestel om dit te verbied tot op 18-jarige ouderdom. Dit is met goeie rede gedoen en die bekommernisse wat jy noem, is geldig. Maar aan die ander kant voel ek 16 is moontlik ’n beter ouderdom as 18 omdat dit ouers twee jaar kans gee waar hulle kind nog in die huis is om dit te monitor, om voorvalle te bestuur en om die tiener te “leer” hoe om dit verantwoordelik te gebruik en hulle geestesgesondheid te koester. Daardie twee jaar kan gesien word as ’n sosialemedia-“broeikas” voordat die tiener as ’n jongmens dit self gaan moet hanteer.
Internettoegang is deesdae nodig vir leerders en dit het sy voordele, maar wat nou van onbeperkte internettoegang. Wat is die nadele daaraan verbonde en hoe skei jy skoolwerk van kuier/gesels of speletjies speel op die internet?
As ouers is dit eintlik maklik om te beheer. Daar is verskeie filtreringsapps wat op toestelle gelaai kan word. Apps soos Bark, Netnanny en Qustodio is net ’n paar wat lekker werk. So kan jy die kletsapps afskakel wanneer dit jou pas en aanskakel in die vakansie – alles direk en gemaklik vanaf jou eie slimfoon.
Hoe bly jy as ouer in beheer van jou kind se internettoegang?
Ek gebruik Bark vir my eie kinders en dit is hoogs effektief. Hulle doen baie navorsing vir skooltake en Bark sal alle eksplisiete resultate van ’n soektog uitsluit. Geen sagteware is so effektief soos ’n teenwoordige ouer nie, maar Bark is fantasties as ’n vangnet.
Wat kan ouers doen om hulle kinders te beskerm teen uitbuiting? Veral jou tiener wat nie altyd hulle gevoelens of aktiwiteite geredelik deel nie.
As jy nie gereed is om met jou kind oor dié onderwerpe te praat nie, is jou kind nie reg om aanlyn te wees nie.
Begin van kleins af. Voorbereiding hiervoor begin wanneer hulle baie jonk is.

Oop kommunikasie in die huis oor pornografie, sluipjagters, sexting en boeliegedrag moet die norm wees. As jy nie gereed is om met jou kind oor dié onderwerpe te praat nie, is jou kind nie reg om aanlyn te wees nie.
Die verhouding met jou kind is uiters belangrik. Tyd en aandag bou vertroue. Indien jy die sagte landingsplek vir jou kind kan wees, sal jou kind veilig voel om later in hulle lewe dinge met jou te deel.
Erken dat jy ook foute maak. As ouers moet ons nie vanuit ’n hoogdrawende plek met ons kinders praat nie. Ons kinders moet weet ons is net mense en dat ons ook as tieners foute gemaak het.
Moenie oorreageer nie. Wanneer jou kind iets met jou deel wat skokkend is, moet jy probeer om nie te oorreageer nie. Neem eerder tyd weg van die situasie om na te dink voordat jy voor jou tiener ontplof. Groot emosionele reaksies sal die tiener bang maak om in die toekoms weer inligting met jou te deel.
Benader jou seun effens anders. Seuns praat dikwels nie so maklik oor hulle emosies nie. Met seuns werk lang motorritte baie goed. Aangesig-tot-aangesig oor ’n koppie koffie kan te direk voel, maar sy- aan-sy of voor-na-agter in die motor, of om die braaivleisvuur of kospotte, werk beter.
Tyd saam in die natuur sonder fone is goud werd. Dit is ongelooflik om te sien hoe ’n tiener oopmaak na ’n paar dae in die natuur sonder ’n foon.
Ten slotte
Die stryd teen aanlyn uitbuiting kan nie verslap word nie, want die tegnologie en die metodes wat aangewend word om skade te berokken, verander deurlopend. Ouers moet hulleself bemagtig sodat hulle ingeligte besluite kan neem ten opsigte van hulle kinders se internetgebruik.
Bronne en lees meer:
Die invloed van sosiale media op kinders en tieners
Government welcomes ruling against online child sexual abuse content | SAnews
Media | The Digital Law Company By Emma Sadleir
Digital Law Co secures landmark agreement with Meta to combat child exploitation in South Africa
Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (SADAG): https://www.sadag.org
Vir meer inligting of vrae, besoek www.screensmarts.co.za of stuur ’n e-pos aan info@screensmarts.co.za
Meer oor Estée Cockcroft van Screen Smarts en die niefiksieboek:
Skermslim:
’n Gids vir veilig speel in die digitale ruimte
Estée Cockcroft, ’n digitale geestesgesondheidsghoeroe van Gqeberha, het ’n noodsaaklike gids geskryf om amper-tieners te help wanneer hulle tegnologie gebruik. Skermslim: ‘n gids vir veilig speel in die digitale ruimte, is ’n omvattende, interessante boek wat kinders riglyne gee om die digitale ruimte veilig te verken. Christine van Aardt het dié boek geïllustreer.
Skermslim dek onderwerpe soos: wat om te doen as kuberboelies jou in ‘n speletjie vaskeer, hoe om KI verantwoordelik te gebruik en die belangrikheid van ‘n gesonde mediabalans veral tydens eksamens.

Screen Smarts help reeds sedert 2018 kinders, tieners en amper-tieners om skermtyd gesond te hou. Deur skool-werkswinkels, ouerpraatjies en behulpsame sosialemediakanale het die klein organisasie ’n reuse-impak.
Die boek is beskikbaar by Bargain Books, PNA, Exclusive Books, onafhanklike boekwinkels en selfs as ’n e-boek op Amazon.
Kontakbesonderhede vir Screen Smarts
Facebook: screen.smarts.sa
Instagram: screen_smarts
E-mail: info@screensmarts.co.za







