Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Die onlangse inhegtenisneming van ’n 16-jarige tiener weens betrokkenheid by ’n internasionale en gewelddadige aanlyn kinderpornografienetwerk, bekend as “764”, het weer eens die soeklig geplaas op die onbeperkte toegang tot die internet, speletjie-apps, sosiale media en ander aanlyn platforms en die moontlike gevare wat dit vir ons kinders inhou.
Volgens ’n berig deur Ane van Zyl op Netwerk 24: Tentakels van aanlyn uitbuiting-netwerk strek tot by Wes-Kaapse tieners (19 Augustus), waarsku die FBI dat kinders so jonk as 10 jaar geteiken word. Dreigemente, afpersing en manipulasie word ingespan om slagoffers se samewerking te kry. Dit is dikwels ook diegene met geestesgesondheidsprobleme, soos depressie en selfdoodneigings, wat makliker teikens is.
Dit is maar een voorbeeld van hierdie soort misdaad wat daagliks gepleeg word. ’n Mens kan nie help om te vra hoe die kind in die situasie beland het nie. Wat steek daaragter en hoe kry hierdie netwerke dit reg om kinders selfs in hulle eie huise te bereik en te manipuleer. Afrikaans.com het met die kliniese sielkundige Louis Awerbuck hieroor gesels en spesifiek oor die rol wat so ’n persoon se geestesgesondheid hierin kan speel, waarom sommige kinders makliker ingetrek word en wat ouers kan doen om hulle kinders hierteen te beskerm.
Maar hoekom raak iemand by kinderpornografie betrokke en is dit ’n spesifieke soort mens?
Volgens ’n regsartikel op LitNet, dui navorsing daarop dat “die maatskaplike en gesinsagtergrond van oortreders uiteenlopend is, dat sommige kinders grootword in omgewings wat gekenmerk word deur ernstige gesinsgeweld en onvanpaste seksuele gedrag, en dat hulle hierdie gedrag naboots. In sommige gevalle kan die gebrek aan positiewe rolmodelle waarskynlik bydra tot die wyse waarop jong kinders die lewe in die algemeen en seksuele verhoudings in die besonder beskou.”
Louis Awerbuck sê voorts dat navorsing ook getoon het dat daar nie ’n enkele profiel vir so ’n persoon geskep kan word nie. “’n Geskiedenis van seksuele mishandeling of afknouery kan die oorsaak wees. Ook mense wie se oordeel swak is – daardie persoon wat oor die algemeen swak besluite neem. Dit is die persoon wat hierdie soort mishandeling nie as verkeerd beskou nie, want die kind het mos ‘toestemming’ gegee en dis tog net ’n spelery! Dan is daar ook diegene met swak emosionele regulering en intimiteitsprobleme.” Veral laasgenoemde, sê Louis, beskou kinderseksualiteit as minder bedreigend. Louis beklemtoon ook dat nie alle seksuele oortreders noodwendig pedofiele is nie, want pedofiele stel spesifiek net in minderjarige kinders belang. “Baie van diegene wat by kinderpornografie betrokke raak, doen dit omdat die geleentheid hom voorgedoen het of weens impulsiwiteit en stel nie noodwendig in kinders belang nie,” aldus Louis.
Herhaaldelike blootstelling lei tot desensitisering
Soms raak kinders betrokke – dalk deur ’n spesifieke speletjie of webtuiste – sonder dat hulle aanvanklik agterkom wat besig is om te gebeur. Hierdie herhaaldelike blootstelling is volgens Louis gekoppel aan desensitisering. Met ander woorde, die kind word geleidelik blootgestel aan byvoorbeeld seksuele konsepte (hetsy op die internet of in sy omgewing) en stelselmatig word hierdie abnormale of verwronge konsepte of beelde in sy brein genormaliseer en ervaar hy dit dan as die norm.
Wanneer die blootstelling geleidelik eskaleer en die kind dieper ingetrek word, begin angs, skuldgevoelens en geheimhouding sy tol eis en dra dit by tot ’n reeds getraumatiseerde kind se swak geestesgesondheid. Tipiese slagoffers is volgens Louis konsekwent diegene met komplekse trauma, soos selfblamering, of iemand wat sukkel met konneksie. ’n Kind wat sukkel met sy geestesgesondheid en byvoorbeeld ly aan aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit, sal ook makliker ’n slagoffer kan raak, omdat sy impulsiwiteit en oordeelsvermoë weens sy AAHS hierdeur geraak word en hy dus nie noodwendig gevaar kan raaksien of insien nie.

Gereedmakingsproses (“grooming”)
Die oortreder is gewoonlik ’n meester op die gebied van seksuele gereedmaking. So ’n persoon sal eers ’n vertrouensverhouding met sy slagoffer bou en sy optrede normaliseer – dikwels ook in die oë van die ouers of ander familielede. Die kind glo dan dat dit normaal is dat hy en die oortreder dieselfde behoeftes het, saam grappies maak en mekaar vlei. Geleidelik word die kind al hoe meer van sy ouers of familielede geïsoleer, want hierdie “verhouding” is spesiaal en laat die kind belangrik voel. Omdat dit hulle geheim is, voel die kind hy het iets wat ander kinders nie het nie. “Hierdie magspel en die kind se afhanklikheid daarvan vind stelselmatig plaas,” sê Louis.
Hoekom is party kinders meer geneig om in die web te beland?
Volgens ’n regsartikel op LitNet, “oortree jong kinders om verskillende redes. Sommiges word hoofsaaklik gemotiveer deur seksuele nuuskierigheid, terwyl ander weer toegee aan kompulsiewe drange of as gevolg van swak oordeelsvermoë.”
Nog ’n rede is naïwiteit – die kind besef nie wat die gevolge kan wees as hy byvoorbeeld selfies of inligting met ’n derdeparty deel nie en besef nie hoe hierdie inhoud deur die oortreder gemanipuleer kan word nie. Hulle is dikwels ook heeltemal in die duister oor die moontlike regsgevolge.
Louis sê dat dit jou weerlose en alleenkind is wat maklike prooi is. “Die kind met die lae selfwaarde, of die een met probleme of trauma by die huis. Daar is nie altyd toesig of konneksie by die huis nie, en die kind spandeer lang tye alleen. So ’n kind wil aandag hê of wil voel hy word waardeer of geag, en sal daarom makliker by sodanige bedrywighede ingetrek word.” Louis noem ook dat vroeë adolessente dikwels deur ’n identiteitskrisis gaan, veral ook ten opsigte van hulle seksuele oriëntering.
Wat sou die gevaartekens wees?
Tieners veral is geneig om heelwat tyd in hulle kamers en op hulle rekenaars of selfone te spandeer. Dit word selfs as “normaal” beskou, maar wanneer weet ons dit is dalk meer as net heeldag in die kamer op die rekenaar wees? Hier is so paar gevaarligte:
- Geheimsinnigheid: Aanlyn aktiwiteit word geheim gehou. “Ek doen niks, ek ‘scroll’ sommer net, ek doen navorsing vir ’n taak, of ek gesels met my vriende.”
- As jy onverwags op hulle afkom, word die skerm vinnig afgesit of aangesit.
- Die kind ontvang geld of geskenke/pakkies, maar dit maak nie logies sin nie.
- Die kind se kennis oor seksuele sake en gepaardgaande taalgebruik, stem nie ooreen met hulle ouderdom nie – hier is konteks natuurlik van belang.
- Wanneer teksboodskappe deurkom, reageer die kind onvanpas en selfs angstig. Hy laat ook nie die foon onder sy oë uit nie.
- Onttrekking en gebrek aan sosialisering met vriende.
- Skielike gedragsveranderinge. Jou sosiale, vriendelike kind raak teruggetrokke, buierig en onnet.
- Eet- en slaapgewoontes verander.
- Jou eens sportiewe en aktiewe kind onttrek homself aan deelname.
- Letsels of seerplekke/snye/bytmerke/brandwonde op die vel wat gepaardgaan met die dra van langmouhemde en -broeke selfs in warm weer.
- Obsessie met die dood of selfdooddreigemente.
Wat kan ouers doen om hierdie tipe gedrag te verhoed?
“Buig die boompie terwyl hy jonk is.”
Dis ’n netelige kwessie, want veral tieners hou nie van ’n “inmengery” in hulle sake nie. Louis beveel aan dat ’n oop verhouding gekweek moet word sodat dit nie nodig is om jou kind te polisieer nie. “Dit is egter nie iets wat oornag gekweek word nie. Maak seker jy bou van kleins af ’n sterk verhouding met jou kind. Dan sal dit nie nodig wees om op 13- of 14-jarige ouderdom daarna te kyk nie.”
Tieners hou nie van kontrole nie en is amper gebou om te rebelleer. “Daarom is dit nie ’n eenmalige gesprek nie. As ouer moet jy gereeld met jou kind gesels oor die gevare daarbuite en veral die aanlyn risiko’s waaraan hulle blootgestel is. Maar praat veral met jou jonger kind, wanneer hulle nog na jou luister, want hier van 15 af weet hulle mos als,” sê Louis tong in die kies. “Die heel belangrikste is om dit duidelik te maak dat hulle enigiets met jou kan deel en dat hulle nie geblameer of geoordeel sal word nie, maar dat julle saam na ’n oplossing sal soek.” Daardie respek en absolute vertroue tussen ouer en kind is wat die verskil maak.
As jy as ouer wel agterkom jou kind is hierby betrokke – hoe hanteer jy dit?
Louis beklemtoon dat dit altyd ’n baie ernstige saak is wanneer jy besef jou kind is betrokke, hetsy as slagoffer of as oortreder. Sê hy: “Moenie kop verloor nie en probeer so kalm moontlik bly. Nader dadelik iemand soos ’n maatskaplike werker, ’n sielkundige of ’n dokter wat met trauma werk om jou by te staan. Dit is nie iets wat jy as ouer of julle as gesin alleen kan hanteer nie.” Dis belangrik om reg op te tree, want wat ook al die redes hiervoor, die kind is getraumatiseerd en skree en baklei gaan nie dinge makliker maak nie.
Natuurlik moet die polisie betrek word, beklemtoon Louis, want enige gevalle van kinderpornografie of geweld moet aangemeld word. Die kind se welstand en geestesgesondheid moet te alle tye in gedagte gehou word en die nodige ondersteuning, berading en behandeling is ononderhandelbaar.
Hoe beskerm jy jou kind teen uitbuiting via die internet
Ouerbetrokkenheid en opvoeding oor die risiko’s en gevare waaraan kinders blootgestel word, is hier van uiterste belang.
- Wees teenwoordig in jou kind se lewe. Jou kind het jou tyd, aandag en konstantheid nodig. Ware konneksie stel jou in staat om agter te kom as iets nie reg voel nie. As julle kommunikasiekanale oop is, sal jou kind veilig en gemaklik voel om met jou oor kwessies wat hulle pla, te praat.
- Prioritiseer jou kind se geestesgesondheid. Die alleenkind, die kind wat onseker voel en die kind met min selfvertroue, is soms maklike teikens. Help jou kind om selfvertroue te bou, sterk vriendskappe te smee en sy eie selfwaarde te koester.
- Leer jou kind van jongs af wat aanlyn veiligheid, liggaamsveiligheid en deernis behels. Hulle moet die gevaartekens en uitbuiting verstaan en moet weet dat hulle geen persoonlike inligting met ander mag deel nie.
- Wys jou kinders hoe vreemdelinge kan probeer om aanlyn met hulle te skakel sodat hulle die gedragspatrone kan raaksien. Net soos wat jy jou kind maan om nie met vreemdelinge in die openbaar te praat nie, net so moet hulle onbekendes op die internet behandel.
- Moenie bang wees vir die tegnologie nie. Gesels met jou kinders en vind uit wat hulle gebruik en hoekom hulle daarvan hou. Nuuskierigheid bou vertroue.
- Gebruik ouerbeheerkontroles sodat jou kind se aanlyn aktiwiteite beperk kan word en hulle nie toegang tot skadelike webtuistes en eksplisiete inhoud kan verkry nie.
- Luister na jou kind as hy sê dat iemand hom ongemaklik laat voel. Moet dit nie afmaak as onbenullig nie. Op die manier leer jy hom om sy sesde sintuig (“gut feeling”) te vertrou.
- Raak betrokke by inisiatiewe wat hulle beywer vir die veiligheid van ons kinders en ondersteun slagoffers. Gesels met ander ouers oor hoe hulle die gebruik van selfone, skerms en apps hanteer.
Belangrike nommers om byderhand te hou:
CIPLA – Mental Health Helpline – 0800 456 789
SADAG (www.sadag.org) en Suicide Crisis Helpline – 0800 567 567 of
SMS 31393 en ’n berader sal jou terugskakel.
CIPLA Chat line – 076 882 2775
Pharma Dynamics Police & Trauma Helpline – 0800 20 50 26 (beskikbaar Maandag tot Sondag 08:00 tot 20:00)
Bykomende bronne
Vier nuwe aanklagte teen 16-jarige in kinderporno-saak – Maroela Media
Tentakels van aanlyn uitbuiting-netwerk strek tot by W-Kaapse tieners | Netwerk24
Government welcomes ruling against online child sexual abuse content | SAnews
Lees ook die blog deur ‘n maatskaplike werker:
Doen jou deel. Meld kindermishandeling aan! | Solidariteit Helpende Hand







