Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Gerald Steyn is nie iemand wat maklik in een rol vasgevang kan word nie.
Op die skerm het dié gewilde rooikopakteur al tussen humor, spanning, drama en kwesbaarheid beweeg, maar agter elke karakter is daar ’n mens met ’n storie, groot drome en ’n voortdurende honger om te groei.
Sy pad na die vermaakbedryf het nie die voorspelbare roete van dramagraad, teater, kleinkassie, en silwerskerm gevolg nie – hy het eers ’n regsgraad behaal en as prokureur gepraktiseer. Afrikaans.com het met Gerald gaan gesels oor sy loopbaan se draaie, sy rol as dr. Uys Wagner in Binnelanders en sy drome vir die toekoms.
Dis vroeg op ’n Maandagoggend en Gerald sit by ’n koffiewinkel in Linden en berei voor vir wanneer hy later die middag by Stark Studios weer in dr. Uys se skoene moet staan. Ons gesels sommer oor die foon, want Maandae is mos maar mal. Ek vra oor sy vreemde pad na vermaak, dis nie elke akteur wat eers hul lyf prokureur gaan hou het nie. “Wel, nadat ek in 2007 by Hoërskool Randburg in Johannesburg gematrikuleer het, is ek Bloemfontein toe om B.Com-regte en ’n LLB-graad te gaan swot. Ek moet eerlik wees, ek het gedink dis ’n ‘great’ beroep, en dit sou my ouers gelukkig maak! Ek het my graad gekry, my klerkskap gedoen en toe vir 18 maande gepraktiseer. Maar, ek was nooit ’n fantastiese prokureur nie… Ek het eendag op kantoor gesit, en rondgekyk en gesien hoe iemand ’n hele hoop lêers voor een van my kollegas neersit, en hoe hy sy kop so laat sak in sy hande.”
“Dit was ’n wakkerskrik-oomblik vir my, en ek het besef, ek moet probeer om my liefde vir drama na te jaag, want híér wil ek nie vir ewig wees nie.”
Gerald vertel hy het toe vir ’n advertensie-agentskap begin werk as ’n kopieskrywer en het ook begin met dramaklasse en vir oudisies gegaan. Mettertyd het daar al hoe meer geleenthede oor sy pad gekom, en 2020 was veral vir hom ’n baie groot jaar aangesien hy aan vyf produksies gewerk het. “Dis eintlik vir my vreemd om terug te kyk en te besef dat die jaar wat Covid en die ‘lockdown’ ons getref het, was my beste jaar. Ek het baie vinnig, baie rolle losgeslaan.” Hy vertel sy rol as Anton Marais, ’n polisieman in die dramareeks Lioness, het hom tot dusver die meeste uitgedaag. “Dit was nogal ’n moeilike rol wat baie tegniek vereis het. So, dit het my laat besef wat nodig is om regtig ’n goeie akteur te wees.”
Gerald was ook al onder meer te sien in Getroud met Rugby, die nuwe verwerking van Fiela se Kind, Trackers, DAM en Reyka. Maar vir baie kykers is hy vandag die bekendste as dr. Uys Wagner by Binneland Kliniek, ’n rol wat hy sedert 2021 vertolk.
“Gerald en Uys is baie na aanmekaar. Dis eintlik ’n ‘running joke’ op stel – dat ek myself speel. Die enigste verskil is dat Uys al meer as ek gereis het, en sy bankbalans lyk seker beter!” lag hy.
Gerald het drie keer oudisies afgelê voordat hy die rol in Binnelanders gekry het, en hy vertel dat hy vyf jaar later die werk daar nog net so baie geniet. “Ja, dis harde werk en as jy ’n dokter speel moet jy woordvas wees en kan jy nie sommer jou eie ding voor die kamera doen nie. Maar, as jy geniet wat jy doen, dink ek gaan daardie energie sommer deur die kamera en kan die kykers dit aanvoel.”
Al stem hy en Uys baie ooreen, vertel Gerald dat mense moet onthou dat wat hulle op die skerm sien, net die “goeie kante” van iemand wys. “Dis ‘curated’. Mense sien nie die tussenin goed nie. Niemand is altyd koel en kalm nie.”
“Ek dra my hart op my mou en was al baie naïef in my lewe. Ek het ook al geleer om nie so maklik te vertrou nie, en het met die jare maar ’n bietjie sinies geraak.”
“En dit het ek geleer as akteur, nie as prokureur nie!”
Sy idee van sukses, vertel hy, het wel baie dieselfde gebly, al het hy die sekuriteit van ’n vaste werk by een van Suid-Afrika se gewildste sepies. “Ek wil net soveel as moontlik goed doen. Ek glo as jy mooi kyk na die hede, sal die toekoms na homself kyk. Mens kan maklik in ’n gemaksone verval as jy ’n meer vaste werk het, maar ek hou daarvan om gefokus en gemotiveerd te bly, en om nuwe dinge na te jaag.”
Wanneer hy nie werk nie, kuier hy graag saam met sy vriende. Omdat hy in dieselfde omgewing bly waar hy grootgeword het, is baie van sy skoolvriende vandag steeds deel van sy lewe.“
“Ek is bevoorreg om baie mense rondom my te hê wat my ken lank voordat ek bekend geword het. Ons het elke naweek ander planne.”
Hy is op die oomblik besig om voor te berei vir ’n filmrol, en hy sê sy droom is ook om internasionaal as akteur te werk – en dit sal ’n bonus wees as hy ’n Amerikaanse of Britse aksent kan doen. “Ek het al vir baie lesse gegaan om aan my aksent te werk, so ek sal dit nogal graag wou toepas!” Op die vraag met watter bekende akteur sou hy graag wou saamwerk, antwoord hy dadelik: “Beslis Al Pacino. Hy is ’n legende. En dan ook Ana de Armas of Alexandra Daddario, maar om heel ander redes!”







