Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Die grafdigter deur Gerda Taljaard word nie verniet op die omslag deur Kerneels Breytenbach as “betowerend” beskryf nie. Die boek is ’n meesleurende verhaal van ’n ouma en haar kleindogter se lewe in Rusland, vermeng met die storie van teësinnige psigoterapeut Mila Kozlowa wat worstel met ’n verlede waaroor daar baie vraagtekens hang. Tussendeur word ook allerlei ander staaljies geweef, selfs ’n spookstorie of twee. Aan die einde van die boek kom al die verskillende strome van die verhaal bymekaar en wanneer jy klaar gelees het, dwaal jou gedagtes terug en voel jy verwonderd oor wat Gerda reggekry het in dié merkwaardige roman.
Afrikaans.com het vir Gerda ’n paar vrae oor Die grafdigter gevra.
Vertel bietjie waar die idee vir Die grafdigter vandaan gekom het.
Omdat daar tydens die Sowjet-era so min inligting oor Rusland beskikbaar was, was baie van ons gefassineer deur enigiets wat agter die Ystergordyn gebeur, ek inkluis. Ek het van jongs af alles wat ek daaroor in die hande kon kry, verslind: Heinz Konsalik se Trans-Siberiese Ekspres (1976) se troostelose sneeulandskappe en geheimsinnige karakters; Russiese en Oekraïense volksmusiek wat bevrore mere en berkewoude voor die gees roep; en natuurlik Anton Tsjechof se dramas en kortverhale. (Om nie van al die vodka te praat nie!) Dit alles het my geïnspireer om Die grafdigter te skryf, om daardie atmosfeer en landskap vas te vang in ’n meesleurende, leesbare verhaal.
Het jy Rusland besoek as deel van jou navorsing?
En was dit moeilik om ’n storie te vertel wat afspeel in ’n land so ver verwyderd van Suid-Afrika?
Ek was vir net drie dae in Sint Petersburg. Kort daarna het die oorlog tussen Rusland en Oekraïne begin. Al was dit so ’n kort besoek, het die klanke, ligval, reuke, konsertsale, markte, treine, parke en mense ’n blywende indruk op my gemaak. Dit was nie moeilik om hierdie milieu in Die grafdigter weer te gee nie – ek het ’n sterk verbeelding en intuïtiewe aanvoeling vir stemming en ruimtes. My weergawe van Rusland stem egter nie noodwendig ooreen met die werklike Rusland nie. Gelukkig was daar ook nuttige bronne, onder andere Peter Pomerantsev se Nothing is True and Everything is Possible: Adventures in Modern Russia (2015). Boonop is mense se stories wêreldwyd eintlik maar dieselfde – ons soeke na liefde, aanvaarding, geborgenheid, geluk.
Die boek is vol verskillende stories wat saamgeweef word – hoe hou jy al die drade bymekaar om uiteindelik ’n samehangende roman te skryf?
Ek wou gelyktydig individuele stories skep wat as alleenstaande kortverhale gelees kan word, asook ’n boeiende narratief met ’n vloeiende verhaallyn wat naatloos gelees kan word. Vir my is romanhoofstukke in elk geval ’n verhaal op sy eie wat op ’n hoogtepunt moet eindig. Om al die drade bymekaar te hou, is inderdaad ’n uitdaging en iets wat oor ’n lang, uitmergelende tydperk saamval. Ons almal het stories om te vertel en ons almal se lewensverhale bestaan eintlik uit verskillende vertellings wat inmekaar vloei, en dít nie noodwendig op chronologiese wyse nie. Die grafdigter gaan juis oor die vertel van stories as terapie en hoe veral familiestories ons maak wie ons is.
Wat was vir jou die grootste uitdaging tydens die skryf van die boek?
Vreemd genoeg, die karakterisering van die Suid-Afrikaner, Martin Joubert. Aanvanklik wou ek nie enigiets Suid-Afrikaans by my roman insluit nie, maar soms dring karakters hulle mos sommer aan jou op, meld hulle eenvoudig by jou aan. Ek moes gaan kers opsteek by mans wat eerstehands by die Bosoorlog betrokke was. Uiteindelik was dit vir my bevredigend om daaroor te skryf en ’n karakter te skep wat daarby betrokke was, want daar word eintlik maar min oor die Grensoorlog se traumatiese gevolge gepraat en geskryf.
Is jou karakters totaal fiktief, of gebaseer op regte mense?
Skrywers is mos maar stalkers, agtervolgers, afkykers en fyn waarnemers wat karakters saamflans uit verskillende mense wat hulle pad kruis – ietsie van almal, ook van jouself. Die karakter wat die meeste op ’n werklike persoon geskoei is, is Dimitri, die hoofkarakter (Mila) se woonstelmaat. Sy karakter is gebaseer op iemand met wie ek ’n ietwat komplekse liefde-haat-verhouding het wat my baie vreugde én frustrasie besorg.
Wie dink jy sal Die grafdigter geniet?
Enigiemand wat belangstel in Rusland, menseverhoudinge, familiestories, sprokies, geskiedenis en sterk karakters wat jou sal bybly.
- Die grafdigter word deur Penguin Random House uitgegee en is nou beskikbaar by fisiese en aanlyn boekwinkels teen die aanbevole prys van R330.







