Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Die heel eerste Afrikaanse tydskrif wat in 1896 gestig is, is 130 jaar later steeds springlewendig en gesond. Afrikaans.com het gesels met Francois Lion-Cachet (voorsittende uitgewer) en Elodi Troskie (Klyntji.com-redakteur) oor Klyntji – waar alles begin het, en waarmee hulle woeker in 2026.
Wat was die oorspronklike idee agter die tydskrif, en watter behoefte in die Afrikaanse kultuur- en medialandskap het julle probeer vul?
FRANCOIS: Ek wou ’n progressiewe, uitdagende, tog intellektueel gerekende publikasie op die been bring. Een wat visueel treffend is. Met ’n kontemporêre aanslag wat kon vergelyk met internasionale jeugpublikasies. Vandag is Klyntji dit wel, te danke aan ons talle medewerkers wat dié kollektiewe platform vir diverse denke vorentoe dryf.
Ons werk wel met ’n lang, Afrikaanse erfenis. Ons Klyntji was die eerste Afrikaanse tydskrif, gestig in die jaar 1896 in die Paarl. Dit het sowat 10 jaar lank verskyn, totdat die Suid-Afrikaanse oorlog en gepaardgaande finansiële druk dit laat doodloop het. Die NWU in Potchefstroom het ’n volledige stel van hierdie eksemplare en dit is digitaal beskikbaar. In die 1940’s/1950’s was daar ’n poging tot herlewing deur ’n groep Vrystaatse onderwysers, waarvan enkele eksemplare by die Erfenisstigting bewaar word. Vanaf 1996 het Koos Kombuis, ’n eeu na die eerste verskyning, weer uitgawes uitgegee as ’n vrypostige zine, en in 2000 het Toast Coetzer en Erns Grundling die leisels by hom oorgeneem. Hulle gee steeds elke jaar dié literêre boekie uit.

Voorbeelde van Ons Klyntji uit 1896.
Jan Lion Cachet, my oupa se oupa, was ’n stigterslid van die oorspronklike Ons Klyntji. Hy het ’n leidende rol gespeel by die Eerste Afrikaanse Taalkongres waar daar besluit is om ’n Afrikaanse tydskrif in die lewe te roep. Hy het die naam Ons Klyntji voorgestel en die leuse “Klyn Begin – Anhou Win” sluit hierby aan. Hy is ook bekend as een van die vroeë Afrikaanse skrywers en digters.
Ek het vir die eerste keer in 2013 van al hierdie dinge verneem, toe ek maar nog 19 was. ’n Liefde vir taal en kultuur het nog altyd vanself gekom. Met die dat ek met die internet grootgeword het, het dit soos ’n vanselfsprekende bymekaarkoms gevoel om Ons Klyntji aan die internet bekend te stel. Klyntji.com is toe in 2014 gebore.
Die webjoernaal was eers ’n solo-poging vanuit my Potchefstroomse koshuiskamer op universiteit. Dit het stadigaan gegroei. Teen 2018 het dit oorgegaan na ’n hoër rat: ek het die webwerf oorgebou, befondsingsaansoeke gedoen, en mettertyd die organisasie wetlik gestig en strukture vir die funksionering daarvan opgestel.
Beide die gedrukte zine en die webjoernaal word deur Klyntji as organisasie uitgegee: ’n vrywillige vereniging met PBO-status wat dus vrygestel is van belasting vanweë ons werk van openbare belang. Ons word befonds deur die Trust vir Afrikaanse Kuns, Kultuur en Erfenis en die L.W. Hiemstra Trust. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) is ’n projekvennoot van ons Klyn Akademie-projek. kykNET en ViaTV het ons al ook ondersteun. Ons ontvang ook donasies en vrywillige intekengelde van lesers en ander ondersteuners.
Vandag is ek die voorsittende uitgewer. Elodi Troskie het in 2025 by my oorgeneem as redakteur van die webjoernaal. Elzanne Coetzee is ons teksredakteur en was die eerste persoon om haar tyd en taalvernuf aan te bied toe daar nog geen vergoeding ter sprake was nie. Andréa Müller is ook deel van die kernredaksie en doen boonop wondere met ons sosiale media. Toast Coetzer lei die zine-projek en dié se talle toegewyde medewerkers.

Die Klyntji-span saam met digters wat in 2024 deel was van die Klyntji Piekniek in Kaapstad.
V.l.n.r. Andréa Müller (bydraende redakteur), Elodi Troskie (Klyntji.com-redakteur), Elzanne Coetzee (teksredakteur), Francois Lion-Cachet (voorsittende uitgewer), Bibi Slippers, Toast Coetzer (Ons Klyntji-mederedakteur), Ryan Pedro, Ashwin Arendse en Veronique Jephtas.
Klyntji het oor die jare ’n unieke identiteit opgebou. Hoe sou julle die tydskrif se karakter en benadering beskryf, en wat onderskei dit van ander Afrikaanse publikasies?
ELODI: Dat Klyntji.com en die Ons Klyntji-zine albei nasate is van die oorspronklike Ons Klyntji, dra by tot die projek se unieke karakter en gelaagde nalatenskap. Toast Coetzer, Ons Klyntji-redakteur, beskryf dit as ’n soort “gefrankensteinde” publikasie – dit is ’n raak beskrywing van die verskillende wortels en takke wat deel vorm van die Klyntji-boom. Dit sou maklik wees om Klyntji se redaksionele identiteit rondom die historiese erfenis te bou, maar ons kyk vorentoe om te bou aan ’n moderne beeld van hoe Afrikaans vandag lyk, klink en lees. Klyntji is egter nie soseer ’n publikasie oor Afrikaans nie, maar vanuit Afrikaans – dit is die taal van uitdrukking, in al haar vorme.
Ons werkwyse onderskei ons ook. Die Klyntji-redaksie is klein en werk almal deeltyds aan die projek, dikwels ná-ure. Dit is in heelwat opsigte steeds ’n passieprojek. Ons is baie dankbaar vir die befondsing en ondersteuning wat ons in staat stel om die projek te laat groei, maar ons probeer ook om nie ons hele bestaansreg aan befondsing te heg nie. Ons doen die werk omdat ons glo dit moet gedoen word. Daar is iets heilsaam aan die feit dat beide die zine en webjoernaal gemaak word deur mense wat dit wíl maak, met of sonder geld, om ’n aanvaardende en ingeligte ruimte te skep vir diverse en progressiewe stories in Afrikaans.
Bygesê: ons beskou ander publikasies nie as kompetisie nie. Ons het groot waardering en respek vir die werk wat deur ander Afrikaanse en Suid-Afrikaanse uitgewers en redakteurs verrig word. Elkeen staan sy eie plek vol in die kulturele lappieskombers.
FRANCOIS: Ek dink tog die goue draadjie wat deur al ons stories strek, is ’n vraag-en-antwoord op (Afrikaanse) identiteit. Wat beteken dit om hier en nou te wees, gegewe waarvandaan ons kom en waarheen ons wil gaan? Klyntji se inhoud is besonder selfbewus. Dit gaan krities én skeppend om met erfenis.
Watter rol het Klyntji gespeel in die ontwikkeling en bevordering van nuwe Afrikaanse skrywers, kunstenaars, musikante en ander kreatiewe stemme?
FRANCOIS: Regoor Ons Klyntji se geskiedenis was dit die tydskrif se oogmerk om nuwe stemme en uitkyke ’n platform te gee – werk wat nie sommer elders gepubliseer sou word nie. Die publikasie was in daardie opsig nog altyd redelik stroomop. Beide gevestigde en opkomende skrywers en kunstenaars dra inhoud by. Ons belig dan ook dikwels skrywers en kunstenaars buite die hoofstroom. Ons hou aan om ’n rol te speel – klyn begin, anhou win – deur om uitdrukking te gee aan maniere van dink en wees wat die meeste van ons bydraers graag wil bevorder in die samelewing.
Die Afrikaanse media- en kultuurlandskap het die afgelope paar jaar dramaties verander. Hoe het Klyntji self verander en aangepas om in 2026 relevant te bly?
ELODI: ’n Mens kan seker op enige tydstip sê dat die kulturele landskap rondom ons drasties aan’t verander is. Die afgelope paar jaar het ons gesien hoe verskeie publikasies hulle deure sluit, of van druk na aanlyn beweeg. Te midde sulke verandering probeer ons nie noodwendig doelbewus “relevant” bly nie; ons doen die werk na die beste van ons vermoë om reg te laat geskied aan die skrywers en skeppers wat hul werk aan ons toevertrou.
Klyntji publiseer nie op dieselfde trant as heelwat ander publikasies met voltydse redaksiespanne nie. Wat ons dalk aan kwantiteit inboet, probeer ons in tyd en aandag teruggee. Ons bestee baie ure aan elke storie, werk nou saam met elke skrywer en sit baie liefde in elke stuk wat ons publiseer. Ek dink hierdie proses bring mee dat Klyntji wel relevant bly.
Agter die skerms is daar heelwat beweging om ons interne prosesse te verbeter, finansieel volhoubaar te werk, ons reikwydte stelselmatig uit te brei en nuwe medewerkers te betrek. Ons voeg elke jaar nog ’n laag tot die Klyntji-koek by. Vanjaar sluit dit onder andere in die nuwe Watse-app, die Klyn Akademie-projek in samewerking met die SAAWK, en ’n spesiale uitgawe en vieringe rondom 130 jaar van Ons Klyntji.
FRANCOIS: Michiel Heyns het Klyntji se posisie die beste uitgedruk: “’n Ligpuntjie in die kulturele duisternis van kan-kyk-maar-kannie-lees-nie.”

Elodi Troskie, Toast Coetzer en Andréa Müller.
Watter uitdagings bied die huidige media-omgewing – veral sosiale media, digitale inhoud en die afname in gedrukte publikasies – vir ’n onafhanklike tydskrif soos Klyntji?
ELODI: Die digitale wêreld bring ’n soort uitputting mee. Mens kan nie byhou met die hoeveelheid inhoud wat om aandag meeding nie, en die argitektuur van sosiale media bevorder nie noodwendig die stadiger kultuurjoernalistiek wat Klyntji bevorder nie. Ek dink nie dit is ’n swakpunt dat Klyntji teen ’n stadiger tempo publiseer nie. Inteendeel, dit sluit aan by ons benadering om ongehaas en met buitengewone aandag aan elke storie te werk. Aanhou beweeg en geraas maak, ja, maar ons wil nie in die donkerte in skree sonder iets sinvol om te sê nie.
In die aangesig van kunsmatige karringwerk beskou ons dit ’n sakpas- (en slakpas-) rebelse daad om goed met die spreekwoordelike hand aanmekaar te sit – in dié sin is Klyntji in geheel ’n lewende argief vir die kulturele tydsgees. Daarom is dit vir ons belangrik dat Klyntji nie net ’n webwerf of Instagram-blad is nie; die gedrukte zine, in-persoongeleenthede, samewerkings met feeste en universiteite, en ander projekte gee lesers iets tasbaars om van deel te vorm.
Wie is Klyntji se leser vandag?
ELODI: Toe ek rondom 2020 by Klyntji betrokke geraak het, het ek aanvanklik die indruk gehad dat die joernaal hoofsaaklik ’n jonger, alternatiewe lesersgehoor bedien. Mettertyd het ek egter besef hoe uiteenlopend ons lesers én bydraers is. Ons skrywers wissel byvoorbeeld van die wat vir die eerste keer publiseer tot meer gevestigde skrywers en ook die wat al vir dekades deel is van die Afrikaanse kulturele wêreld. Ons ontvang dikwels nuus van lesers in heel onverwagse plekke regoor Suid-Afrika en in ander lande. (Dit was byvoorbeeld vir ons wonderlik om te hoor van ’n ouetehuis in die Oos-Rand waar stories soms uitgedruk word en so die rondtes doen.)
Dit beteken natuurlik dat nie elke leser by elke artikel gaan aanklank vind nie. Klyntji publiseer oor literatuur, kuns, musiek, reis, film, fotografie, teater, die omgewing en nog baie meer. Party lees elke artikel, ander oormerk spesifieke inhoudstemas. Party is getroue Watse-spelers maar lees nooit die webjoernaal nie. Party dra jaarliks by tot die zine, maar lees nie noodwendig Klyntji.com nie, en andersom. Die verskeidenheid in beide inhoud en gehoor is vir ons belangrik omdat ons ’n stoel wil nadertrek vir mense uit alle oorde.
As julle vorentoe kyk, waar sien julle Klyntji oor die volgende vyf tot tien jaar?
ELODI: Dit is vanjaar 130 jaar sedert die eerste Ons Klyntji in 1896 verskyn het en ons dink na oor die lang geskiedenis wat bygedra het tot vandag se Klyntji-ekosisteem. Een garingdraad wat van 1896 tot 2026 strek is die redaksionele beginsel, “skryf soos jy praat” – ’n uitnodiging en mandaat om die Afrikaanse taal se kettings te help losskud.
Hiermee doen ons voort. Dit sluit in wie skryf, waaroor hulle skryf, en hoe hulle die taal inspan.
Die groot droom sou wees om Klyntji tot ’n voltydse onderneming te laat groei. Ons is egter realisties oor die finansiële uitdagings van onafhanklike publikasie, en glo buitendien die waarde en volhoubaarheid van die projek lê deels in die gematigde tempo. Een van ons korttermynprioriteite is om die Klyntji-bestuursraad verder uit te brei. In die volgende aantal jare sal daar beslis verdere eksperimente met digitale platforms, nuwe formate en samewerkings wees, maar ons doen dit een baksteen op ’n slag.
FRANCOIS: Ons het al met verskeie feeste saamgewerk (Tuin van Digters, Woordfees, Vryfees, Silwerskermfees, die KKNK, Aardklop) en doen dit steeds. Ons bied ook vir die afgelope vier jaar al ons eie inpersoon-geleenthede aan (partytjies en pieknieks) om ons gehoor te pols en saam te bring. Die Ons Klyntji-zine word ook jaarliks in verskeie stede en dorpe bekendgestel en bydraers kry die kans om voor te lees. Die opkoms en gees is goed.

Ook geneem tydens die Klyntji Piekniek in Kaapstad.:
Elodi Troskie en Francois Lion-Cachet.
Wat hoop julle sal Klyntji se nalatenskap wees?
FRANCOIS: Om onthou te word as ’n taalargief en ’n kulturele oomblik. Om volgende generasies te inspireer om aan te hou.
ELODI: Ons hou daarvan om te verwys na die “everythingness” van Klyntji, en dit sluit ook in om ook iets van die “everythingness” van Afrikaans te argiveer – dit is die projek se langtermynnalatenskap. Ek hoop dat Klyntji sal aanhou om ’n impak te maak deur ’n veilige tuiste te bied vir nuwe stemme én vir gevestigde stemme wat iets nuut het om te sê.







