Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Ek weet daar is mense wat sal sê mens mors nie met perfeksie nie – dis nou as jy voel tamatie, rou, wit uie en kaas op witbrood sorg vir die perfekte braaibroodjie. Daar is selfs mense wat sidder as hulle hoor sommige avontuurlustiges smeer blatjang of selfs appelkooskonfyt op hulle braaibroodjies. Maar met Erfenisdag om die draai wanneer ons almal weer die vreugdevure hoog gaan laat brand, wil Afrikaans.com jou uitdaag om ’n bietjie buite die boks te dink wanneer dit kom by braaibroodjies.
’n Mens kan lekker kreatief wees, en daar is soveel smake wat heerlik werk tussen twee snye brood. Vandag deel ek een resep vir die meer waaghalsiges onder ons – en ja, ek belowe peer op ’n braaibroodjie is verbasend lekker! As jy regtig jou skoonma wil skok, kan jy selfs die bokmelkkaas vervang met bloukaas soos gorgonzola – dit sal regtig jou gaste laat gons.
Dan is daar ook ’n resep vir ’n braaibroodjie met meer tradisionele smake, maar die tamatieblatjang en gepiekelde uie gee dit ’n interessante kinkel. Ek verpes die smaak van rou, wit uie, maar deur eerder rooi uie te kies en die smaak verder te tem deur dit te piekel, kry ’n mens iets liplekker. Die kombinasie van die sterk smaak van die beleë Cheddar en die romerigheid van die feta sorg ook vir ’n smaaksensasie.
Balsamiese uie, bokmelkkaas en peer-braaibroodjies

Bestanddele (genoeg vir 4):
Vir die uie:
30 g botter
2 rooi uie, in dun skyfies gesny
15 ml bruinsuiker
30 ml balsamiese asyn
15 ml water
Sout en swartpeper, na smaak
Vir die broodjies:
8 snye suurdeegbrood (sourdough) (dag of twee oud)
1 rolletjie chevin (bokmelkkaas), in skyfies gesny
1 ryp peer, in baie dun skyfies gesny
Sagte botter
Metode:
- Berei eers die uie voor (jy kan gekoopte uie-marmelade gebruik as jy wil tyd spaar): Smelt die botter in ’n pan, voeg die uie by en braai oor matige hitte vir 10 minute tot sag. Verlaag die hitte en voeg die suiker, asyn en water by. Geur met sout en peper. Laat oor lae hitte prut vir 15 minute, roer elke nou en dan tot die uie sag en gekaramelliseerd is. Sit eenkant.
- Smeer die snye brood aan die buitekant (die kant wat na die vuur toe gaan wys) met botter.
- Skep ’n groot teelepelvol van die uie bo-op vier van die snye brood.
- Pak 2-3 wielietjies chevin bo-op die uie, en rond af met die dun skyfies peer. Sit die ander sny brood bo-op.
- Pak in ’n toeknyprooster en braai oor matige kole tot goudbruin buite. Pasop vir ’n té warm vuur, jy wil nie die brood verbrand nie.
- Sit die braaibroodjies voor saam met ’n slaaitjie van vars roket, geroosterde pekanneute en balsamiese asyn, en jou gunstelingbraaivleis!
Tamatieblatjang, gepiekelde rooi ui, beleë Cheddar en feta-braaibroodjies

Bestanddele (genoeg vir 4):
8 snye goeie gehalte wit- of bruinbrood
Gekoopte tamatieblatjang
Vir die uie:
1 groot rooi ui, geskil en in baie dun skyfies gesny
½ k water
½ k appelasyn
1 e witsuiker
1 t sout
Vir die broodjies:
’n Handvol beleë Cheddar
2 wielietjies ongegeurde feta, gekrummel
Sagte botter
Metode:
- Berei eers die uie voor: Plaas die dun gesnyde uie in ’n skoon glasbak. Meng die water, asyn, suiker en sout in ’n klein kastrol of mikrogolfbestande beker. Verhit die mengsel net totdat die suiker en sout heeltemal opgelos het. Dit hoef nie heeltemal tot kookpunt te kom nie. Gooi die warm pekelwater oor die uie en maak seker dat die uie heeltemal met die vloeistof bedek is. Laat die mengsel vir 20 tot 30 minute by kamertemperatuur staan. Die uie sal sagter word, ’n helder pienk-magenta kleur kry en hul skerp, rou smaak verloor. Daarna is hulle gereed om vir die broodjies gebruik te word.
- Smeer die brood aan die buitekant (die vuurkant) met botter. Skep ’n groot lepel tamatieblatjang bo-op vier van die snye. Pak skyfies piekeluie bo-op en sprinkel ’n mengsel van Cheddar en feta bo-oor.
- Sit die ander sny brood bo-op en pak in ’n toeknyprooster. Braai oor matige kole tot goudbruin buite. Sit dadelik voor saam met braaivleis. Hierdie broodjies is veral lekker saam met boerewors.







