Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Ek het ’n vriendin wat onlangs vir die eerste keer ma geword het. Ek vra hoe dit gaan, al weet ek eintlik (ek het mos drie van my eie). Haar antwoord bevat ’n kragwoord of drie, en ek is nogal verbaas, want hierdie is ’n saggeaarde, goed gemanierde vriendin. Ek som op: “Dis ’n massiewe aanpassing! Wanneer gaan ek weer slaap?
Hierdie moét die moeilikste deel van ouerskap wees.”
My mens, lag ek in my mou, jou dae van ma-wees is nog nat agter die ore. Jy’t nog niks gesien nie. Wag tot hulle begin rol en nie meer wil lê waar jy hulle neergesit het nie. Wag tot hulle kan terugpraat en nie meer wil aantrek wat jy vir hulle wil aantrek nie. Wag todat hulle die kos wat jy met soveel liefde en sorg en sewe verskillende groentes bymekaargesit het, uitspoeg dat dit ’n abstrakte kunswerk teen die muur vorm.
Of wag totdat hulle skool toe gaan, dan besef ’n mens, ’n pasgebore babatjie was allesbehalwe ’n uitdaging. Die grootste uitdaging van jou ouerskapreis gaan nou aanbreek: Ander ouers. En die WhatsApp-groepies waarop jy geplaas word of jy nou wil of nie. Dit begin klein, en heel hanteerbaar. Jou spruit is in die kleuterskool, en jy is op die groepie. Net een groepie. Oulike foto’s en video’s word gedeel, en almal koer saam oor hoe dierbaar hulle is.
Dan begin graad 1, en al die buitemuurs waaraan jou atletiese, sosiale, kultuur-dier kind (tot jou verbasing, maar jy is baie baie trots en in jou skik) wil deelneem, het hul eie WhatsApp-groepie.
Die skaakmeneer vra asseblief dat almal by die huis oefen die naweek, want daar is ’n groot kompetisie volgende week. Dit ontketen ’n gesprek tussen al die ouers wat wonder hoe hulle blitsvinnig kan leer skaak speel.
Die koorjuffrou vra dat die dogters se hare tog asseblief in Franse vlegsels moet wees vir die naweek se optrede, en al die mammas deel YouTube-video’s wat jou in vyf vinnige stappe leer om te vleg soos ’n wafferse haarkapper. Die Engelse juffrou herinner almal aan die spelwoorde vir die volgende week se toets, en omtrent die helfte van die ouers stuur emojis met ’n gillende mondjie, want HULLE HET NIE GEWEET VAN DIE TOETS NIE! Hoekom kan die skool nie beter kommunikeer nie?
Die groepies op jou foon vermeerder soos ’n paar verliefde hasies wat aan hulle eie oordeel oorgelaat is. Daar is ’n klasgroep waarop net die juffrou boodskappe kan deel (dankie tog), maar daar is ook een waarop die ouers kan bos gaan, en ja, hulle gaan voluit. Daar word gekla, gevra, aangemoedig, geskel, geswets en oë word virtueel gerol. Daar is die dogterskrieketgroepie, die hokkiegroepie, die redenaarsgroepie, en die groepie vir die ouers wat besig is om die jaarlikse fondsinsamelingsprojek te reël.
Jou kop draai, jy byt op jou tong en jou vingers jeuk om iets sarkasties kwyt te raak wanneer dieselfde mamma weer aanbied om teen R100-stuk “opsomings” van die kwartaal se werk te verkoop. “Suster,” wil ek tik, “jy kan nie eens ‘opsommings’ spel nie, hoe wil jy dit dan verkoop?”
Maar ek maak WhatsApp toe en sit my foon neer, en gaan loop ’n draai in die tuin terwyl ek my asemhalingsoefeninge doen.
My ma het my nie verniet geleer dat as jy niks mooi het om te sê nie, bly liewer stil. Dis net só moeilik in hierdie era waar almal ’n platform het om kwyt te raak net wat hulle dink, en ek het besef baie min mense het deesdae ’n wag voor hulle mond.
Waar is die dae van ’n omsendbrief in die tas as jou enigste kommunikasie met die skool? En ’n weeklikse of maandelikse nuusbrief waar belangrike datums en nuus gedeel word, eerder as ’n konstante stroom elektroniese inligting?
Ja, dit is dalk makliker om op die hoogte van sake te bly, maar ek voel ook soms ons word toegegooi deur inligting, en dan kyk ’n mens dalk regtig ’n belangrike moet-weet brokkie mis.
En o, die verontwaardiging en vingerwys as iemand iets kwansuis nie geweet het nie, maar dit is inderwaarheid twee weke gelede vir die eerste keer op twee verskillende groepies gedeel, en gister weer.
Ouerskap in die digitale era is nie kinderspeletjies nie.
Ons ouers het natuurlik hulle eie uitdagings gehad, maar hulle het nooit die irritasie ervaar om jou foon om 06:00 op ’n doodgewone Donderdag op te tel, en 27 ongeleesde WhatsApps van 11 verskillende groepies te sien nie. Digitale uitputting en oorstimulasie as ouer is iets wat niemand in 1991 beleef het nie.
Die internet het ons lewens kom verryk en ons horisonne kom verbreed, maar dit het dinge ook kom kompliseer. Die gevare van digitale boelies en kinders wat dinge google wat hulle nie veronderstel is om te weet nie, is ’n hele ander onderwerp. En ek skryf hierdie nie om ’n antwoord te kry nie. En ek hoop net ek is nie die enigste ouer wat so voel nie…
“Toemaar,” troos ek my nuwe-mamma vriendin. “Jy gaan eendag weer slaap. En dan gaan jy die knuffels om 02:00 met daardie sagte lyfie mis. Geniet wat jy nou het, want eendag tref ’n groen golf van WhatsApp-groepies jou ook, en dan gaan jy wonder hoekom jy gekla het oor die sewende vuil doek van die dag!”







