Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Outisme: Hoekom meisies op die outismespektrum dikwels misgekyk of laat gediagnoseer word
Navorsing oor outisme het jare lank meer op seuns en die tradisionele eienskappe en gedrag wat hulle openbaar, gefokus. Wat wel duidelik geword het uit hierdie navorsing is dat meisies op die spektrum nie heeltemal oor dieselfde kam geskeer kan word nie. Dit beteken egter nie dat hulle ‘n ander tipe outisme het nie, hulle ontwikkel net ander maniere om dit te hanteer, daarby aan te pas en die sosiale omgewing te navigeer. Hierdie verskille kan veroorsaak dat hulle outisme nie so duidelik na vore kom nie en dit kan dan dikwels misgekyk en misverstaan word, of eers heelwat later as die van seuns geïdentifiseer word. In die Verenigde Koninkryk word meisies nog steeds gemiddeld twee tot drie jaar later as seuns gediagnoseer. Dit is problematies en die uitkomste vir outistiese vroulike persone is daarom besonder swak wat negatiewe gevolge vir die persoon se geestesgesondheid, selfvertroue en selfbeeld inhou. Afrikaans.com het met die spraakterapeut en skrywer, Christien Neser, en ’n kundige op die gebied van outisme, asook die skrywer, An-Mari Do Carmo – iemand wat eers as volwassene as outisties gediagnoseer is – gesels.
“Kul jou hier en kul jou daar!”
Outistiese meisies is meesters om ander se gedrag dop te hou en hulle sosiale gedrag dan na te boots. Op die oog af lyk hulle hoogs suksesvol en of hulle min sorge in die lewe het, terwyl hulle onder die oppervlak werklik swaar kry. Hierdie kamoeflering of maskering om ’n sin van identiteit te behou, gaan egter met ’n hoë koste vir hulle geestesgesondheid gepaard. Hulle voel dikwels verward, uitgeput en angstig. Hulle steek dit net baie goed weg! Daarom is dit belangrik om te weet waarna om te kyk, sodat dit vroeër raakgesien kan word, hulle beter ondersteuning kan kry voordat breekpunt bereik word, en hulle ook kan leer om hulleself beter te verstaan.
Maar wat is anders vir meisies?
Volgens Christien Neser, wys die navorsing dat dogters op die outismespektrum besonder swaarkry in die jare net voor puberteit en daarna. “Kom ons neem net in ag dat geen twee mense op aarde dieselfde is nie, ook nie twee tieners op die spektrum nie. Kom ons beskou die spektrum as ’n drie-dimensionele struktuur, nie ’n liniêre lyn van baie ernstig (vlak 3) tot minder ernstig (vlak 1) nie. Beskou elke individu as ’n komplekse struktuur van alle aspekte wat emosionele, sosiale, sensoriese en funksionele aspekte insluit.”
Christien verduidelik verder dat die fluktuasie van hormone, soos estrogeen en progesteroon, geneig is om die delikate balans wat die kind in die skool en sosiale kringe opgebou het, te versteur. Sy noem ook dat dogters meesters van maskering is. Maskering is om ’n masker te dra, om te probeer verberg wat werklik binne die persoon aan die gang is. “Dogters is baie beter met hierdie vaardigheid as seuns. Dit is ook waarom hulle sosiale angs soveel later eers gediagnoseer word. Die soet kind wat nooit in die klas praat nie, die superslim kind wat feite op die punte van hul vingers ken, is nie die soort kind wat uitstaan as ’n kind met ernstige sosiale wroeging nie,” aldus Christien.

Uitdagings op sosiale vlak lei tot verhoogde angstigheid
Dit is veral op die sosiale vlak wat hierdie tieners baie swaar kry. Hulle is meer geneig tot disregulasie van hul emosies, en emosionele uitbranding is algemeen. Dis die tiener wat skielik woedeuitbarstings kry, of hulself isoleer en in die kamer wil bly, óf wat allerlei kompulsiewe gedragspatrone begin toon. Eetversteurings is byvoorbeeld algemeen. Dit mag ook uitspeel as ‘n oormatige nabootsing van hul rolmodelle (bv. hul hare kleur, tatoes wil kry, net sekere kleure dra, ens.).
Angstigheid neem aansienlik toe. Angs manifesteer op ‘n verskeidenheid maniere, sê Christien. Die byniere skei adrenalien af om die mens se veiligheid te probeer verseker. “Vir my en jou beteken dit veg, vlug of vries. In tieners met verhoogde angs, beteken dit dat hierdie kinders heeltyd tussen een van hierdie drie emosies wroeg.
“Veg kom gewoonlik tuis voor, wanneer die kind van die skool af terugkom. Dan val die masker af en die kind kan enige iets van woedebuie tot aggressie toon. Dit is algemeen dat die ouer wat die kind by die skool oplaai, die ergste deurloop. So ook enige sibbe in die gesin.
“‘n Tweede reaksie is vlug. Dit is die kind wat na hul kamer vlug, sosiale interaksie probeer ontduik, ophou eet, hulself in videospeletjies verloor, of ontvlugting soek in ’n wye reeks gedragspatrone.
“Dan is daar ook vries. Dis die kind wat skynbaar nie hul emosies kan verwoord nie, wat magteloos is wanneer hulle geboelie word, wat soms selfs katatonies kan voorkom.”
Christien sê voorts dat die tienerjare vir die meeste van ons ’n vreesaanjaende tyd is. “Daar is ‘n toename in sosiale kodes, fyn spot, sarkasme, klieks en dikwels subtiele boeliegedrag. Vir die kind op die spektrum is dit die mees verwarrende tyd. Hulle sukkel werklik met al die subtiliteite van die tiener se sosiale milieu. Dit is geen wonder dat tieners op die spektrum totaal uitgeput raak nie. Die emosionele en sosiale en sensoriese aanpassings is vir hulle ontsaglik moeilik. Volgens data van verskeie studies, is daar ’n beduidende hoër insidensie van Polisistiese Ovariële Sindroom (PCOS) onder dogters op die spektrum. Die effek hiervan, wat insluit gewigstoename, aknee en gesigshare, maak dinge niks makliker nie.” So ook kan die tipiese PMS-simptome wat meisies ondervind eskaleer na ’n meer intense en ontwrigtende vorm daarvan wat as PMDD (Premenstrual Dysphoric Disorder), bekend staan.
’n Ouer met ’n tiener met uitbarstings en opstandigheid, moet dus nie die hormonale aspek van hul dogter se ontwikkeling buite rekening laat nie. Christien beveel aan dat ’n ginekoloog of ’n endokrinoloog gouer as later gespreek word.
Wees verseker dat geen tiener se opstandigheid uit eie vrye wil is nie. Dis ‘n moeilike tyd vir enige tiener om te navigeer. Dis mateloos moeiliker vir die tiener op die spektrum. Die goeie nuus is dat die simptome mettertyd verbeter, soos wat die hormoonskommelinge stabiliseer. (‘n Artikel om ouers daarmee by te staan, is gepubliseer in die joernaal, Narrative Inquiry in Bioethics. https:/doi//.org/10.1353/nib.2012.a494846.)
Die kwessie van PDA: Pathological Demand Avoidance (Patologiese Eisevermyding)
PDA kan ook by dogters voorkom, maar lyk anders as by seuns. Christien verduidelik dat dit eintlik ‘n angstoestand is, waarin die kind enige versoek of eis weier. By dogters manifesteer dit as sosiale na-apery (social mimicry) en patologiese pogings om mens te behaag (people-pleasing behaviour). Dit lei tot sosiale uitbranding in meeste gevalle. Net ter verduideliking:
By seuns lyk dit soos volg:
Die weiering van enige eise. Eise of take of voorwaardes wat aan die kind gestel word, kan ’n intense emosionele ontploffing veroorsaak, wat met geweld en verbale woede gepaard kan gaan.
By dogters lyk dit anders:
- Geïnternaliseerde maskering: Dit is gewoonlik om die voorbeeldige kind (goody-two shoes) te wees. Die een wat almal wil behaag, of wat ander mense naboots. Hierdie geneigdheid om probleme te internaliseer kan hulle geestesgesondheid ’n verdere knou gee.
- Inploffings by die huis: “Restraint Collapse.” Dit gebeur wanneer die masker wat by die skool voorgehou is, eenvoudig afval en ’n emosionele uitbarsting volg. Die kind kan weier om opdragte uit te voer, die ouer uitsluit, huil of hulself onttrek.
Psigoterapie kan beslis insig by beide ouer en kind meebring.

Outistiese meisies konformeer dikwels nie . . .
Christien verduidelik dit soos volg: “Dit is ’n algemene stereotipe dat ’n outistiese seun min of meer soos Sheldon van Little Sheldon sal aantrek (strikdas, kraaghemp, bril) en dat meisies sal aantrek soos groot Sheldon se meisie, Amy, van Big Bang Theory-faam. Met ander woorde: smaakloos en vreemd.
“’n Artikel deur ’n joernalis, wat self op die spektrum is, AJ Havens, (Medium, Jan 10, 2025), gee ’n persoonlike perspektief. Sy glo dat baie hoogfunksionerende outiste wel ‘anderster’ aantrek. Daar is dikwels baie goeie, fuksionele redes daarvoor. Gemak, is nommer een. Met baie sensoriese uitdagings, hou tieners meer van lospassende klere, soos sweetpakke. ‘n Persoon wat sensories-soekende gedrag toon, sal helder kleure en duidelike patrone verkies. Dit sommer meng ook. So ’n sensories-soekende tiener kan maklik besluit om hul hare pers of blou of swart te kleur. Buiten as dit teen die skoolreëls is.
“Persone wat sensories-ontwykend is, sal minimalisties aantrek, met swart en donker kleure as ’n gunsteling. Ander kan weer baie meer reëlgebonde wees en presies aantrek wat die gedragskode vereis. Hulle kan dan baie meer formeel voorkom.
“Maar vir die groot gros tieners wat op die rand van emosionele uitbranding leef, is die hele konsep van aantrek ’n angswekkende keuse elke dag. Skooldrag is die maklikste opsie. Wat om aan te trek na ’n partytjie of sosiale byeenkoms, kan tot ’n uitbarsting lei. Ouers moet dit gerus in ag neem. Die keuses wat hierdie kinders moet uitoefen, is vir hulle oorweldigend, ook omdat daar soveel sosiale taboes en voorskrifte is.”
Herhalende gedragspatrone
Meisies op die spektrum, net soos ander outistiese persone, kan verskillende en herhalende gedragspatrone openbaar, soos om byvoorbeeld dieselfde boek weer en weer te lees, of dieselfde film oor en oor te kyk omdat dit ‘n gevoel van troos en voorspelbaarheid bied. Dalk doen hulle hul huiswerk oor en oor totdat dit ‘perfek’ is (outistiese meisies is dikwels perfeksioniste), of om ‘n sekere gedrag te herhaal wat vir hulle troos en veiligheid bring.
Vriendskap en verhoudings
Vriendskappe kan baie belangrik wees vir outistiese meisies en ook baie angs veroorsaak, veral as daar konflik is. Outistiese meisies kan uiters sosiaal of geselserig wees, of uiters skaam voorkom en hulself eenkant hou. Hulle het dus oor die algemeen een of twee diep vriendskappe, maar vind dit moeilik om in groepe sosiaal te verkeer. Hulle voel dus dikwels uitgesluit en is ook uitgelewer aan boeliery.
Kompensering
Sterk- en swakpunte word gebalanseer deur middel van kompensering om by maats in te pas. Die outistiese persoon sal byvoorbeeld gesigsuitdrukkings ontleed om emosies te identifiseer. Sosiale interaksie kan moeilik wees en die outistiese persoon kan voel dat almal behalwe sy weet van ’n geheime kode om te begryp wat besig is om te gebeur. Gewaarwordinge soos die volgende kan by hulle opkom:
“Al die ander lyk asof hulle die reëls verstaan, maar ek is nie so seker nie en is so bang ek doen iets verkeerd.” “Hoekom is dit soveel moeiliker vir my?” “Ek weet nie eintlik waar ek inpas of hoort nie.”
Diagnose: Hoekom dit nie so eenvoudig is nie
Navorsing wys toenemend dat outisme selde alleen voorkom, veral by meisies/vroue. Baie laat-gediagnoseerde outistiese meisies/vroue ervaar ook AAHS (ADHD), angsversteurings, depressie, of die gevolge van komplekse trauma. Dit het tot gevolg dat diagnosering kompleks is en dit verduidelik waarom soveel meisies/vroue slegs gedeeltelike of verkeerde diagnoses kry.
’n Meisie/vrou kan jare lank vir angs of depressie behandel word sonder dat iemand die onderliggende outisme wat bydra tot hierdie sekondêre toestande, herken. Die vermoë om hulle ware gevoelens te kamoefleer om sosiaal in te pas, maak dit ook moeilik vir professionele persone om die onderliggende outisme raak te sien.
An-Mari Do Carmo, het die volgende raad vir ouers oor hoe om hulle dogter op die spektrum te hanteer:
- Kry professionele hulp: sielkundiges of arbeidsterapeute wat spesifiek opgelei is in neurodiversiteit.
- LUISTER na wat jou dogter vir jou sê of probeer kommunikeer. Elke outistiese persoon is anders, so kyk na wat jou kind help of hinder.
- Doen die moeite om navorsing te doen en aanpassings te maak in julle huis en roetine wat kan help. Moenie dink dis net ’n fase of rebelsheid of sy “sit net aan” of oordryf nie.
Bronne:
https://autisticgirlsnetwork.org/keeping-it-all-inside.pdf
Newsom, Cassandra and Taylor, Cora. Autism Speaks. Autism and puberty aggression
Raising an Autistic Girl: Modern ASD Strategies for Successful Parenting. A 2024 handbook by Taylor Eberstad.
Hier onder is ook ‘n artikel deur die Neurodiversity Centre; ‘n Suid-Afrikaanse sentrum met sielkundiges en ander spesialiste op die gebied van neurodiversiteit.
Lees ook:
An-Mari Do Carmo se blogplasing in 2023 na haar diagnose. Klik hier.
An-Mari se blog oor wat outistiese vroue wil hê ander moet weet. Klik hier.
Lees meer:
Outisme: ’n Wye spektrum met verskillende simptome en ervarings.
DIRFloortime® en die kind op die spektrum – Afrikaans.com
Neurodiversiteit: Riglyne vir ouers en onderwysers om die uitdagings te hanteer. – Afrikaans.com







