Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Toe ek begin kruie gebruik, het ek begin leer om te luister na my liggaam en besef elkeen van ons ken ons liggame die beste en deur bewus te wees van hoe jou liggaam werk, so kan jy voorkomend te werk gaan.”
Jy kry haar die afgelope 25 jaar meestal op haar neef Jacques Pienaar se plaas en destydse veepos Theefontein, anderkant Beaufort-Wes. Daar in haar klein, wit werkershuisie waar die ou muurhorlosie elke halfuur en uur van die dag getrou die ure aftel. Stadig … soos dit hoort wanneer mens se lewe so nou verweef is met die grond en die oop hand en ritme van die natuur.
Die skrywer, sanger, storieverteller en kruiekenner Antoinette Pienaar het met afrikaans.com gesels oor haar komvandaan, haar lewe saam met haar leermeester en vertroueling oom Johannes Willemse, die kennis en wyshede wat hy deur die jare met haar gedeel het, die diep leemte wat oom Johannes se dood in 2023 in haar lewe gelaat het en natuurlik … die wonder van kruie.
Antoinette is een van vyf dogters en vertel dat haar pappa (sy praat altyd met soveel deernis van haar mamma en pappa) onder die Leeu-sterreteken gebore is en tog te graag soos ’n wafferse leeumannetjie met sy meisiekinders gespog het. “Maar dat dit soms ’n uitdaging moes wees, kan mens nou nie stry nie,” lag sy. Sy vertel haar pa was slim en omdat die oudste broer die plaas geërf het, het haar pa vir apteker gaan leer en na sy studies ’n apteek op Carnarvon oopgemaak. “Ons is al vyf daar gebore. Daai jare was dit nog tradisie gewees om ‘n pienk of blou vlag te hys met die geboorte van ’n kind, maar ek glo nie dit sal vandag goed afgaan nie,” glimlag sy. Sy was 16 toe hulle Beaufort-Wes toe is om nader aan die familie te wees. Sy vertel nostalgies dat Carnarvon desjare net een teerstraat gehad het en geen robotte nie, en dit was vir haar soos toor om te sien hoe die robot in Beaufort-Wes se ligte vanself verander. Na skool is sy Stellenbosch toe met die voorneme om drama te studeer, maar haar ouers het haar oortuig om eerder BA te swot.
“En daar dop ek in my eerste jaar al my vakke, behalwe die twee wat ek vir drama nodig gehad het! Toe gaan ek maar aan met drama en voltooi ook my honneurs by die Universiteit van Kaapstad.”
Antoinette vertel dat sy grootgeword het onder die oë en tonge van baie merkwaardige storievertellers. “Dit is waar ek my altyd self die tuisste gevoel het. Daarom was dit vir my ’n skok toe ek op dramaskool agterkom dat ek steeds nie op ’n plek is waar ek inpas nie. Gelukkig was een van my vakke Klassieke Kultuur en het ek geleer van al die ou dramas – en dit het my universiteitsjare interessant gemaak.” Na ’n rukkie by KRUIK (vandag Kunstekaap), het sy besef sy is ’n kluisenaar gebore en funksioneer nie lekker in ’n groep nie. Toe het sy maar haar eie werk begin skep en deur die land getoer en konsert gehou.
Tydens haar konserte het sy altyd vir die gehoor vertel van die Karoo. “Dan is die helfte van die mense in trane oor die verlange na die Karoo en ek gaan bitter hartseer huis toe. Toe dink ek later, nou vir wat sal ek rondry en vir die mense oor die Karoo vertel – ek moet teruggaan huis toe! Nie dat ek geweet het wat ek daar sou doen nie.”
In die jaar 2000 besluit Antoinette om Frankryk toe te gaan, want lag sy, “die vraag wat die mense my nog altyd my lewe lank gevra het, is ‘is jy nou mal?’ Toe dink ek, ek is mos nie op my eie mal nie – ek moet dan sekerlik voorvaders hê wat ook ’n streep gehad het! Net daar besluit ek om soos die Griekwas altyd gesê het, my voorvaders se pypsteel te gaan soek.” Sy het vinnig in Frankryk besef daar is niks Frans aan haar nie en het glad nie van die plek en die mense gehou nie.
“Iemand los toe op ’n plek waar ek sit en tee drink het, ’n reisboek oor Mali en ek besluit net daar dis waarheen ek gaan. Afrika toe om te gaan kyk wat die Franse daar aangevang het.”
Hierdie reis het nie voorspoedig verloop nie, want Antoinette het serebrale malaria opgedoen en by die dood omgedraai en is uiteindelik met SOS Internasionaal teruggevlieg Suid-Afrika toe. “Op daardie stadium ver buitekant hoop. En toe die dokter eers vra of ek ’n testament het, het ek besef ek sal by kruie moet uitkom. Ek het iewers raakgelees dat jy die kruie uit die streek waar jy jou eerste water gedrink het, moet gebruik, want dis die kruie wat spesifiek op jou gaan werk.”
Antoinette vertel dat sy gereeld Theefontein toe gegaan het met volmaan en besluit toe om weer so te maak. Sy is vooraf gemaan om haar honde in toom te hou, want die jagter wat op die plaas bly, is baie kwaai. “Ek stop toe op Theefontein en die oom staan daar en ek steek hand uit en sê: ‘Middag Oom, ek is ook ’n Pienaar’. Waarop hy antwoord: ‘En Juffrou kom nou eers hier aan?’ Ek het natuurlik eers later uitgevind presies wat die oom bedoel het.”
Volgens wat oom Johannes vir Antoinette vertel het, was dit Griekwatradisie dat die oupa die oudste kleinseun sal leer.
Sy oupa het toe ’n “gesiente” gehad dat hy wat Johannes is ’n wit vrou met swart hare gaan leer. Ook dat die mense baie kwaad gaan wees, maar dat hy hom nie daaraan moet steur nie. “Dis jou pad en jy moet dit doen.” Oom Johannes het daarom vir Antoinette begin “sien” vandat sy sewe jaar oud was. Uiteindelik het hy 33 jaar lank gewag voordat sy in haar rooi bakkie daar aangekom het, baie verswak en siek van die serebrale malaria. “Ek het eintlik die volmaan kom kyk, min wetende dat my pad sou kruis met die bekendste bossiedokter van die Karoo en dat dit so bestem was.”
Sy vertel dat sy vandag ’n sprekende voorbeeld is dat kruie werk.
“Ek het swartwater gehad – my niere het baie seer gekry – en ek het dasbos en klipkruid gedrink en vandag het ek nuwe niere. Ek is steeds hier danksy kruie.”
Oom Johannes het na sy aftrede op Theefontein beland om rooikatte en jakkalse volgens die ou, etiese tradisies te jag. “Die oom het altyd net daai ding gevang wat hy gejag het. En so in die begin – ek kon skaars loop – het die oom my twee jaar lank opgelei om spoor te sny, want dan loop mens bitter stadig en jy loop krom soos wat ek daai tyd was, met ’n kierietjie.” Antoinette sê dat dit ook tydens hierdie leerproses was wat sy een van die grootste geskenke teëgekom het. “Die oom het altyd net gewerk met ’n olienhoutkierie. Hy het nooit ’n dier met klippe gegooi nie … nooit met ’n yster geslaan nie … Ek sal nooit vergeet nie. As ons by ’n dier kom in die yster het die oom altyd sy linkerhand opgelig en gesê: ‘Ai jong, jy is nou hier, ek wil jou nou nie kwes nie, gee asseblief vir my jou doodmaakplek.’ En dan sak daai dier sy kop, want sy doodmaakplek sit so effens agter sy kroon – en so het die oom my geleer om sonder vrees of wreedheid daai dier dan uit sy pyn uit te verlos.”
Antoinette vertel verder met deernis hoe die oom haar leer slag het – sonder vrees, want “as jy vol vrees is, word jy wreed. En jy bewerk die vleis mooi en eties sodat dit soet is, want anders proe dit bitter. En as jy die vel so met die vuis afdruk voordat jy die dier oopsny, lê en bewe daai vleis. Dan het jy lewendige vleis, want jy het nie die dier vermoor nie, maar met respek geslag.”



Ons grootste geskenk: Moeder Natuur
Antoinette is verknog aan die grond en die natuur. “Die natuur is ons eerste moeder. En daar is genoeg vir ons almal, maar dan moet ons almal gelyk van haar gebruik. Ongelukkig skep die mensdom se soeke na mag en ons gierigheid ’n wanbalans.”
Die wonder van kruie: Nie ’n kitsoplossing nie
Vra ’n mens Antoinette uit oor kruie en haar kennis oor die veldplante en hul medisinale gebruik, is sy soos ’n kind wat gehoor het sy kan heeldag lank lekkergoed eet. Haar entoesiasme en oortuiging is aansteeklik.
“Kruiemedisyne werk nie oornag nie. Dit vra vir geloof en jou liggaam moet gereed wees om die kruie te aanvaar as deel van die genesing. Kruie het ook geen newe-effekte nie.
“Ek sit juis met ’n maagpyn vandag omdat ek ’n pynkapsule gedrink het wat my dokter (en sy glo nie sommer aan pille nie) vir my voorgeskryf het as ek dit sou nodig kry vir my arm wat ek so paar weke gelede gebreek het. Ek moes ook iets gebruik vir inflammasie. Maar toe tas dit my maag so aan. So, jy sien, die pyn is dalk weg, maar nou is iets anders siek,” sê sy lakonies.
Kruie is toewyding
“Toe ek met kruie begin werk het, het ek geleer wat toewyding is. Ek het my so toegewy aan die kruie dat ek nie een keer vergeet het om dit te drink nie. Want jou toewyding maak die verskil. Jy kan dit nie vir twee weke lank gebruik en sê: ‘Haai nou voel ek lekker!’ en klaar is jy nie. Daarom stuur ek altyd drie maande se voorraad. Dan kan ’n mens nuuskierig dophou wat gebeur. Jou probleem is dalk jou niere en dasbos en klipkruid werk daarvoor. Maar jy moet bereid wees om tyd aan hierdie kruie te gee sodat jy die verskil wat dit aan jou kan maak, eerstehands kan ervaar.”
Vra maar liewer die eksperts oor die gebruik van kruie
“Ek leer die mense wat my werkswinkels bywoon dat jy begin by dasbos en klipkruie, juis omdat hulle eerste werk is om balans in die liggaam te herstel. Daardie balans wat deur stres en angs versteur word. Daarna gaan die kruie niere toe, en dan die skildklier en so aan. Jy is dus nie siek nie, maar jou liggaam is ook nie op optimum nie.”
Antoinette maan ook dat mense die kruie nie aanmekaar kan gebruik nie. Na drie maande moet jy dit eers vir so drie of vier maande los, behalwe “die hertog van kruie – die kankerbossie”. Volgens haar is kankerbossie (in streekstaal onder andere ook bekend as willekeur, kalkoentjies, gansies of keurtjies en selfs Jantjie Bêrend) die enigste kruie wat jy elke dag heeljaar lank kan drink. Maar met ’n GROOT maar. Dit moet in die regte dosis gebruik word (’n teelepel (5 ml) kankerbossie op 1 liter kookwater).
“Kankerbossie se werk is om – na alles in balans is – al die organe te versterk. Dit is wat ’n goeie immuunstelsel beteken en jou organe word deur hierdie immuunstelsel ondersteun.”
Antoinette sê ook dat kruie se werk is om die orgaan waarvoor hy bedoel is, te onderhou.
“Mens moet niks loop soek nie”
Antoinette het nou vir oom Johannes opgevolg, maar wie gaan haar opvolg? “Dis wat die bloudak se Baas my sal moet wys,” sê sy. “As ek so dink aan die oom se geloof van 33 jaar, dan glo ek – as dit so moet wees – dit wel so sal gebeur dat ek hierdie kennis wat die oom aan my oorgedra het aan iemand anders sal kan oordra.
“’n Kosbare les wat die oom my geleer het, is dat ’n mens niks moet loop soek nie. Dit wat vir jou bedoel is, is vir seker op pad na jou toe. Maar … jy moet ryp en reg wees om dit te ontvang, en daai ding of mens moet reg en ryp wees om jou te ontvang. As jy daardie proses aanjaag, dan ontspoor dit. Mens moet daai stille geloof hê om te sien wanneer dit gebeur. So … ek sal wag en my glo voor my bang sit.”

Die pad sonder die oom
Antoinette raak vir ’n oomblik stil en ’n mens word diep bewus van hoe baie sy hom mis en hoe diep haar rou sit. Hoe groot die aanpassing vir haar was en steeds is so sonder die oom. “Die oom is op my verjaarsdag huis toe – nou amper drie jaar gelede. Hy het die aand vantevore gesê dat hy die volgende dag ‘op Juffrou se geborenedag’ huis toe sou gaan, ‘want Juffrou sal weer moet gebore word vir hierdie pad vorentoe’.”
Sy praat met moeite oor haar seer.
“Ek het nog nooit so iets oorgekom nie. Die eerste ruk het ek gevries in vrees. Ek kon nie by die hek uitgaan nie, ek kon nie slaap nie en het soms in die nag so gebewe dat ek van my tande gekraak het.
“Die eerste 70 dae was ek alleen en het daarna eers weer mense begin ontvang. Nou nog voel ek op ’n manier soos ’n trui wat omgedop is. Ek sit een voet voor die ander. Die oom het altyd gesê as ek moedeloos raak, ‘uit die donkiewerk kom die wonderwerk, Juffrou’, en dis hoe ek hierdie ding benader.
“Die een ding waarvoor ek wens, is om dit weer te geniet om alleen veld toe te gaan – dis asof die veld nie meer vir my lekker is nie. En tog, dis in die veld waar ek die oom kan voel. Daarom vat ek myself veld toe. In die begin was ek vreeslik bang – en het myself soos Eno’s sien oplos in water. Maar deesdae voel ek darem meer solied. En wat regtig die vuur in my lewendig hou, is dat ek die voorreg het om hierdie groot, groot kennis wat die oom so oophand vir my aangegee het, vorentoe te dra.”

“Ons almal word gebore met ons eie pad”
Antoinette glo dat ons pad en die keuses wat ons maak, vir ons bestem is. Die lewe maak egter dat ons vergeet wat werklik saakmaak en dat ons ons weg moet terugvind. “Die oom het dit so verduidelik: Almal word gebore met ’n pad en al wat jy elke dag moet doen, is om jou pad te skoffel. Niemand anders kan jou pad skoffel nie. Jy kan dit ook nie net elke tweede week doen nie. Dis iets wat jy elke dag moet doen. Want … dan het jy nie tyd om kwaad te praat, te skinder of kwaad te doen nie. Net so kan jy ook nie ’n ander man se pad skoffel of loop nie en jy kan ook nie ander mense op jou pad toelaat nie. En as jy die dag jou pad byster raak, moet jy maar net weer opklim en aangaan!”
Selfregulering
Antoinette noem dat mens klein goedjies kan doen om jouself te reguleer as die lewe tussen-in kom en gebeur. “Gaan buitetoe en gebruik jou sintuie. Wat sien jy, wat hoor jy, wat ruik jy? Raak bewus van die wind teen jou vel, die son op jou kop, die grond onder jou voete. Dis die maklikste manier om jouself terug te kry.” Sy noem dit om terug te val in jou liggaam in (“drop back into your body”) – amper soos ’n sweefstokarties wat in die vangnet inval, opstaan, opklim en weer probeer.
Kruie pluk is soos nagmaal
Antoinette vertel dat die oom haar geleer het dat kruie pluk soos nagmaal is – ’n konsep waarby sy aanklank kon vind. “My mamma-hulle het altyd die week voor nagmaal vir ons vertel dat hulle nou hulle harte skoonmaak en goed met die Here praat waaroor hulle jammer is, want hulle gaan nagmaal gebruik en wil skonerig wees teen die tyd dat hulle nagmaal hou.”
Sy verduidelik hierdie ritueel verder: “Jy kom by die bossie, jy groet hom, jy sê vir hom, ‘sjoe, maar jy het mooi geraak!’ en jy breek sy dooie takkies uit en sê vir hom, ‘dankie tog, ek gaan nou van jou pluk vir medisyne’. Hy gee sy medisyne vir jou en jy kan dit nou gebruik en vir mense stuur en jy is bly dat jy hier by die bossie kan sit … en dan … gebeur daardie osmose en raak jy stil. So, selfs die pluk van die kruie is medisyne.”
Sy vertel verder dat dieselfde met haar in die hoenderhok gebeur. “My hoenders is my priesters en my biegmoeders. As ek loop en stoei met iets en ek weet nie meer watter kant toe nie, dan gaan sit ek by die hoenderhok sodat die osmose kan gebeur. Of as ek met my windhond en twee worshonde gaan sit, of as my agt siamese katte hier rondom my kom lê … daardie wonderwerk om te kan praat sonder woorde – dis waarvan ek praat.”
Haar stem raak amper weg wanneer sy vertel van hoe dit op die werf gegaan het die eerste nege maande na die oom se dood. “Hier het nie ’n hond of kat gehardloop nie. Die haan sou so een keer gekraai het en dan is hy stil, die kalkoene het van hulle kos afgegaan. Die energie was nie meer daar nie. Dit was asof ’n goiingsak wat in sement gedoop is, oor die hele werf gelê het.”

’n Draaipunt
Antoinette vertel dat sy op ’n dag die voorreg gehad het om met ’n vrou te praat wat ‘body talk’ doen – ’n soort holistiese benadering wat die kommunikasie binne in jou liggaam herstel om selfheling en welstand te ondersteun. Sy het haar aangesê om haar oë toe te maak en haar te verbeel dat sy saam met die oom stap na hulle geliefde plek in die kloof tussen die Manberg en die Vrouberg. “Na so rukkie sê sy vir my om stil te staan en vir die oom te sê hoe lief ek vir hom is en om vir hom dankie te sê vir wat hy vir my gegee het. Om dankie te sê vir sy liefde, sy sorg … en dan vir hom te sê, ‘ek moet nou regs draai’, in die rigting van die Vrouberg. Daar het ek die Vrouberg in my geestesoog uitgeklim en in my verbeelding my eie stapel gebou en toe alleen teruggestap huis toe. En eers toe het daai nat, swaar goiingsak van die werf af gelig en het ek afsluiting gekry.”
Raat teen die plooie
Diegene wat al vir Antoinette gesien het, sal saamstem dat sy ’n pragtige, gladde vel het. Haar geheim? Sy lag heerlik wanneer sy sê dat dit skaapvet is. Kaiings gebraai uit die vetstert van die Persie, Afrikaner of Damara – waarvan die sterte partykeer so groot soos ’n skinkbord is. “En nee,” skater sy, “ek stink nie na vet nie!” Die storieverteller steek weer kop uit: “Weet jy, toe ek nog konsert gehou het, het ek van die duurste Clinique en ander produkte gekoop en kyk nou net,” glimlag sy.
My moeder se taal
Antoinette praat die mooiste Afrikaans en sê met oortuiging dat dit haar ma was wat haar die wonderwerk van woorde geleer deur die stories wat sy gelees en vertel het. “Mamma kon woorde laat sing. Emosies is vir my so kosbaar en my woorde rol soos klippies hier in my binneste in my emosies rond. Woorde is ons mooiste kleinood, want daardeur kan ons vir ander wys wat in ons binneste aangaan.”
’n Laaste woord van hierdie merkwaardige mens
“Ek is so dankbaar dat ek gebore is. Dat ek hierdie ervaring kan hê wat ek al van kindertyd af begeer het.
“Vroeër jare, as ek en my susters klaar vir die mense gesing het, en hulle wou weet wat ons eendag gaan word, het ek altyd gesê ek gaan in die veld saam met ’n ou skaapwagter bly.
“Ek is so bly dat ek by ’n plek kon kom waar ek iemand kon leer ken wat vir my die sleutels van Moeder Natuur gegee het, afgesien daarvan dat ek die eerste sewe jaar van my verblyf op Theefontein net gehuil het. Maar dit was nodig. Ek moes eers my koppie leeg kry.
“As ek eers op iets besluit het, sal ek dit deurvoer en my woord is my woord. My mamma het geglo ons is hier om diensbaar te wees. En ja, op die verhoog is jy seker tot ’n mate diensbaar, maar hier waar ek nou is, om met kruie of met ’n woord, of ’n giggeltjie, of met skewe Nanny McPhee-tande, ander te kan help, nou is ek uiteindelik tot diens van die veld, die natuur en my medemens.”
Kontak:
As jy met Antoinette Pienaar wil skakel vir raat en om kruie te bestel, skryf vir haar by info@karookruie.co.za of stuur ’n WhatsApp na 083 273 9659.
Lees ook ’n vorige artikel op afrikaans.com: https://afrikaans.com/2018/03/31/antoinette-pienaar-ons-eie-karookruiekoningin/







