Gesels só met vriende wat sukkel met onvrugbaarheid

Tuis 5 Leerhulp 5 Artikels 5 Algemeen 5 Gesels só met vriende wat sukkel met onvrugbaarheid
Paulien Oosthuizen en gesin

Skrywer: Karla Janse van Vuuren

Daar is sommige onderwerpe wat amper té moeilik en persoonlik is om oor te praat – soos onvrugbaarheid.

En tog is dit ’n onderwerp waaroor mense wat nié daarmee sukkel nie, dikwels vinnig ’n antwoord of opinie oor sal hê. afrikaans.com het uitgevind dat jou woorde pyn en trauma nóg erger kan maak, en dat jy mooi moet dink wanneer jy met jou vriende gesels wat dalk op hierdie moeilike reis is.

Paulien Oosthuizen van Polokwane is ’n vrou wat hierdie lang en pynvolle pad gestap het, en wéét waarvan sy praat wanneer dit by onvrugbaarheid kom. “Ek en my man is in 2008 getroud, en het besluit om sommer dadelik met ’n gesin te begin. Binne twee maande na ons troue was ek swanger, maar daardie swangerskap het vroeg al in ’n miskraam geëindig.”

Paulien het oor die volgende paar jaar nog vyf miskrame gehad, waarvan een ’n buisswangerskap was en sy dus ook een van haar buise verloor het. In 2015 was sy 18 weke swanger toe sy haar seuntjie, Xander, in ’n toilet by die hospitaal verloor het. “Die verpleegsusters het my nie betyds gehelp nie, en as gevolg van hierdie voorval, het ek met erge posttraumatiese stres gesukkel. Soveel so dat ek later by ’n instansie opgeneem is waar ek behandeling kon ontvang en ook met ander mense kon praat wat deur dieselfde ervaring is as ek.”

Vir Paulien het ’n suksesvolle swangerskap nooit ’n werklikheid geword nie, maar haar droom om ma te word, het wel.

Sy en haar man, Lohann, het in 2017 en 2018 twee dogtertjies, Chantoney en Leandi aangeneem, hulle is vandag 14 en amper 11.

Dr. Carin Bester, ’n kliniese sielkundige van Stellenbosch, sê sy kan vanuit ’n persoonlike en professionele oogpunt oor hierdie onderwerp praat. “Ek het self met onvrugbaarheid gesukkel en moes IVF ondergaan. Dit is ’n baie intense, baie persoonlike proses. ’n Mens voel dat om swanger te raak moet mos net natuurlik en maklik gebeur. As dit dan nié die geval is nie, kom komplekse gevoelens na vore – skaamte, mislukking en die gevoel dat jy nie goed genoeg is nie. Dit is ’n baie unieke vorm van verlies. Omdat dit die verlies is van ’n droom, is dit nog meer onsigbaar wat ’n mens geïsoleerd en baie alleen kan laat voel.”

Volgens Fertility Solutions, een van Suid-Afrika se mees vooraanstaande hulpbronne vir enigiemand wat met onvrugbaarheid sukkel, is die keuse om hierdie gevoelens en jou reis met onvrugbaarheid en/of swangerskapverliese met jou vriende en familie te deel, ’n diep, persoonlike besluit. Paulien stem saam. “Ek sal nooit vergeet nie, iemand naby aan my het eenkeer vir my gesê, ‘dis hoekom mens nie dadelik vir almal moet vertel dat jy swanger is nie’. Haar woorde het my seergemaak, want mens wil mos jou opgewondenheid deel. Maar ons het later al hoe langer begin wag voordat ons iets gesê het, want dit is baie erg om elke keer vir mense te moet sê ek het al weer ’n miskraam gehad.”

Woorde wat seermaak

Een van die onbehulpsaamste dinge wat mense kan sê, is ontspan net, dit sal op die regte tyd gebeur. “Vriende sal soms sê, ‘julle stres te veel’. Dit laat die paartjie voel asof dit hulle skuld is. Spanning speel natuurlik ’n rol – maar daar kan ook mediese en emosionele redes wees hoekom swangerskap nie gebeur nie,” verduidelik Carin.

Mense het ook vir Paulien en haar man gesê, “Die Here weet die beste, en dit sal op sy tyd gebeur.” Al is sy ’n diepgelowige, het hierdie woorde geensins troos vir haar gebring nie. “Wanneer ’n mens besluit het om met ’n gesin te begin, is dit al waarop jy fokus. Dan wanneer dit nie wil gebeur nie, kom jy met baie vrae na die Here toe. Hoekom gebeur dit vir ander paartjies (wat dalk nie eens ’n swangerskap beplan het nie), maar nie vir ons nie? Hoekom raak skooldogters swanger wat geensins gereed is vir ’n kind nie, maar ons wat gereed is, sukkel? Mens kry nie die antwoorde op jou vrae nie, en dit laat jou stomgeslaan dat so iets kan aanhou gebeur.”

Dinge soos: “Gaan op ’n lekker vakansie en geniet mekaar”, of “Dalk is dit beter so, julle is nog so jonk”, maak ook diep seer. “As vrou sukkel jy reeds met die emosies van selfverwyt en hartseer en voel jy asof jy iets verkeerd gedoen het. Ek het elke keer vir my man om verskoning gevra dat ek al weer ’n miskraam gehad het,” sê Paulien.

Dade beteken meer as woorde

Die beste manier wat jy iemand kan ondersteun wat hierdeur gaan, is om te luister sonder om te wil raad gee, sê Carin. “Besef ook dat party mense gemaklik sal praat oor waardeur hulle gaan, en juis wil sin maak in gesprekke. Maar dikwels sal iemand nié wil praat nie en dit privaat wil hou. Dit was byvoorbeeld ons keuse – ek het nie met almal gedeel nie en het ons ervaring met onvrugbaarheid vir onsself gehou.”

Ondersteuning is wat ’n verskil maak, beklemtoon Paulien.

“Wat vir my die meeste beteken het, is mense wat net daar was, wat nie probeer verstaan het nie.”

Mense wat kos of blomme gebring het, kom wasgoed was het toe ek nie self kans gesien het nie, wat net by my gesit het en saam gehuil het. Letterlik niks wat jy sê kan help nie, so wys met jou dade dat jy omgee en daar wil wees. En die belangrikste – bid vir mekaar. Dra jou vriende op in gebed wat deur hierdie uitmergelende ding gaan. Bid vir die pad vorentoe, bid vir krag.”

Moet ook nie maak asof jy ’n kenner is of iets sê soos “ek weet waardeur jy gaan nie”. Elkeen se ervaring is uniek. “Selfs sommige dokters kan leer om hulle woorde meer versigtig te kies. Een dokter het vir my gesê, ‘ag wat, dit is maar wat dit is, die lewe gaan sy gang. More kan jy weer gaan werk’. Hulle besef nie altyd wat die emosionele impak is nie. Van die oomblik wat jy daardie positiewe toetsie gekry het, vorm drome oor jou kind in jou kop. Wie gaan hulle wees, hoe gaan hulle lyk? Na die miskraam is alles in daardie oomblik weg.”

“So, as jy nie weet wat om te sê nie, selfs al is jy ’n dokter, sê liewer niks!”

Paulien sê ook dat dit belangrik is om na jou emosionele welstand om te sien. “Ek wens ek het vroeër hulp gekry, maar ek het eerder uitgestel en probeer sterk staan. Ek het probeer aanbeweeg vir almal anders. Op die ou einde het al daardie rou emosie en trauma opgehoop en moes ek by ’n instansie inboek om dit regtig te verwerk.”

Carin sluit af deur te sê dat vrae oor ander mense se ouerskapsreis nooit gepas is nie. “Dit is net nie oukei om dit te vra nie – dit het niks met enigiemand anders as die paartjie te doen nie. Vier fees wanneer die baba daar is, maar moet nooit vra wanneer mense met ’n gesin gaan begin, of selfs ’n tweede of derde baba beplan nie.”

by | Aug 25, 2026 | Algemeen, Artikels, Leerhulp

Deel hierdie plasing