Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Antoinette Modise is dalk veral bekend as die immergewilde verpleegster Bonnie in Binnelanders, maar agter die kamera is daar veel meer aan dié veelsydige 31-jarige aktrise. Met ’n agtergrond in dans, ’n liefde vir die verhoog en ’n aparte loopbaan waar sy jongmense ook help om hulle passie uit te leef, vertel Antoinette vir Afrikaans.com dat sy geleer om met selfvertroue tussen verskillende wêrelde te beweeg. Vandag is sy nie net besig om haar merk in die Suid-Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf te maak nie – sy ontdek ook steeds nuwe fasette van haarself langs die pad.
Ek ontmoet vir Antoinette vroeg op ’n weeksoggend by Stark Studios in Randburg.
Sy is reeds as Bonnie aangetrek en gereed om net-nou ’n toneel saam met die dokters Uys (Gerald Steyn) en Joe (Roberto Kyle) te skiet. Met ’n koppie koffie in die hand gaan sit ons in die winterson terwyl akteurs in japonne heen en weer loop tussen die stel en die grimeerkunstenaars.
Natuurlik vra ek vir Antoinette om haarself in ’n neutedop te beskryf. Sy is net 1,44 m lank, maar ek besef gou, in dié klein pakkie bruis ’n oorvloed energie en lewenslus. In ’n stem wat ingekleur is deur ’n lekker brei vertel sy: “Ek kom van Randfontein en ek bly steeds daar saam met my pa. Ek ry elke dag die ongeveer 40 km heen en weer, maar ek is al gewoond daaraan!” Mense vra haar altyd, hoekom trek sy nie nader aan die werk nie, maar dan verduidelik sy dat sy nóg ’n werk het wat haar in Randfontein hou. “Ek is ook ’n dansafrigter by Trinity Dance Company waar ek met dansers tussen die ouderdomme van ses en 21 werk.”
Haar oë skitter sommer toe sy vertel hoe sy saam met van die dansers in Julie vanjaar na Dublin, Ierland gereis het vir die Dance World Cup. “Dit was ’n ongelooflike ervaring. Daar was dansers van 60 verskillende lande, en ons kinders het so goed gedoen. Ons was vir twee weke daar en het ook ’n klein bietjie kans gehad om die Ierse kultuur te ervaar. Ek was veral mal oor die fantastiese musiek en die natuurskoon.” Antoinette moes natuurlik lank voor haar beplande reis na Ierland vir die mense by Binnelanders daarvan inlig. Sy is al ses jaar betrokke by die sepie, en hulle is gelukkig heel inskiklik wanneer dit kom by haar lewe as dansinstrukteur.
“Ek het as sesjarige begin dans nadat ek eintlik heel toevallig saam met ’n maatjie ’n dansklas bygewoon het.”
“Die gogga het sommer onmiddellik gebyt, en dit het ook daartoe gelei dat ek in graad 11 die kans gehad het om vir die heel eerste keer oorsee te gaan. Ek het Suid-Afrika verteenwoordig by ’n danskampioenskap in Montenegro en het daar ’n Grand Prix-trofee gewen. Dit was ’n onvergeetlike ervaring en het regtig die wêreld oopgebreek vir my. Dit was ook interessant hoe die mense daar hulleself verkyk het aan my as ’n persoon van kleur. Almal wou aan my hare vat en met my gesels,” lag sy.
Antoinette het na skool, waar sy reeds gereeld op die verhoog was, drama studeer by City Varsity, en het in 2019 ’n oudisie afgelê vir die rol van Bonnie. “Op skool en universiteit het ek baie teater gedoen en was maar gewoond aan die verhoog. Binnelanders is die eerste keer wat ek in ’n atlejee met ’n multi-kamera-opset gewerk het. Dit was nogal iets om aan gewoond te raak, maar ek het vinnig geleer.” Bonnie was aanvanklik net daar vir “one-liners” vertel Antoinette, maar die vervaardigers het potensiaal gesien, en haar karakter het gegroei tot een van die kykers se groot gunstelinge.
“Dit is vir my ’n voorreg om deel te wees van Binnelanders. Ek het die sepie gekyk lank voordat ek deel daarvan geword het. Ons kom almal so goed oor die weg – dit is regtig soos ’n familie.”

Ek moet vra, hoe eenders is sy en Bonnie?
“Wel, Bonnie is ’n groot ekstrovert wat praat voor sy dink. Ek is meer van ’n introvert, en sal nie so vinnig my mond oopmaak nie. Maar, ons is albei ‘go-getters’ en onafhanklike vroue. Daarvan hou ek baie!”
Wanneer sy nie voor die kameras of in die dansateljee is nie, is Antoinette op haar gelukkigste in haar pajamas met Netflix op die kassie. “Dis vir my belangrik om balans en rus te prioritiseer. Ek probeer tyd maak oor naweke om my vriendinne te sien, maar dis dikwels moeilik met my skedule om lekker sosiaal te verkeer.”
En word sy gereeld in die winkels voorgekeer deur tannies wat bietjie met Bonnie wil gesels?
“Oe ja!” lag sy. “Maar ek geniet dit om kykers te ontmoet, en dis maar deel van die werk. Dit is net so snaaks as hulle met jou praat asof hulle jou ken. Ek het myself al geleer om te reageer op ‘Bonnie’, so as iemand roep, dan kyk ek om asof dit my regte naam is!”
Antoinette drink ’n slukkie koffie en groet iemand wat agter my verbyloop terwyl sy dink aan ’n antwoord op my vraag oor haar toekomsdrome. “Ek wil graag my CV groei en dalk aan ’n fliek of twee werk. ’n Sitcom soos Die kantoor klink ook vir my soos ’n fees – ek hou nogal van komedie en mense het al vir my gesê ek kan snaaks wees! Ek sou ook baie graag weer teater wou doen – ek mis dit. Op persoonlike vlak het die reisgogga my opnuut gebyt na die besoek aan Ierland. Ek wil vreeslik graag nog meer van Suid-Afrika sien, soos die Karoo, en ook van ons buurlande, veral Namibië. Op internasionale vlak droom ek van Parys en Griekeland!”







