Dit is weer tyd vir die mense in die Afrikaanse filmbedryf om hulle blink rokke en fênsie pakke aan te trek en te wys hoe baie talent daar in dié bedryf is.
Die 14de kykNET Silwerskermfees skop vandeesweek in Kampsbaai, Kaapstad, af en beloof vier dae van Afrikaanse rolprentkuns, nuwe talent en stories wat die Suid-Afrikaanse ervaring vanuit verskillende hoeke belig.
Die fees duur van 19 tot 22 Augustus 2026 en vanjaar se program sluit 22 rolprente in – onder meer kortfilms, dokumentêre en vollengtefilms. Agttien van die rolprente ding ook mee om van die fees se gesogte pryse.
Een van die groot hoogtepunte is die première van Silas en die Ysbeer op Tafelberg, ’n verhaal oor die agtjarige Silas wie se verbeelding hom na ’n wêreld van drome en avontuur neem. Landmyn, die nuwe rolprent van Nico Scheepers, is nog ’n belangrike première en fokus op die impak van trauma wat van een geslag na die volgende oorgedra word.
Film- en letterkundeliefhebbers kan ook uitsien na Al wat ek weet, ’n verwerking van Marita van der Vyver se geliefde jeugroman, terwyl Variasies op ’n tema – wat reeds die gesogte Tiger-prys by die Rotterdamse Internasionale Rolprentfees gewen het – deel van die program is. Die vollengte-dokumentêr From Dust We Spin werp weer ’n intieme blik op spinning as ’n subkultuur en vorm van gemeenskapsuitdrukking.
Die kortfilmprogram is ewe uiteenlopend, met titels soos Twee persent, ’n komiese liefdesverhaal; As ek kon kies, wat ’n komplekse verhouding tussen twee vroue ondersoek; Trilstraat, waarin ’n paartjie se aand uit in Kaapstad ’n onverwagse wending neem; en Verwerking, wat die tema van geslagsgebaseerde geweld vanuit ’n besondere perspektief benader.
Benewens die filmvertonings is daar gesprekke, werkswinkels, ’n Silwermark vir nuwe film- en TV-idees en ’n meesterklas deur die bekroonde skrywer-regisseur Dian Weys.
Die fees bied dus nie net aan gehore die kans om nuwe Afrikaanse films eerste te sien nie, maar skep ook ’n belangrike platform vir gevestigde én opkomende filmmakers.
Die loodsepisodes van ’n opwindende dramareeks gebaseer op Deon Meyer se Blood Safari, in samewerking met MultiChoice, ’n Canal+-maatskappy en ITV Studios, en die eksklusiewe wêreldpremière van die tweede seisoen van Spinners, ’n ko-produksie van MultiChoice in samewerking met StudioCanal, en drie Afrikaanse dokumentêre reekse bied ook ’n blik op die uiteenlopende TV-inhoud waarna DStv-intekenare kan uitsien.
Met sy mengsel van premières, internasionaal bekroonde films, dokumentêre en kortfilms bevestig die 2026 Silwerskermfees weer die groeiende verskeidenheid van Afrikaanse rolprentkuns – en die krag van plaaslike stories om gehore te laat lag, dink en soms ook ’n bietjie ongemaklik voel.
Kaartjies vir filmpremières, TV-loodsepisodes, asook die prestigeryke toekenningsgeleentheid op Saterdag 22 Augustus, is beskikbaar by Quicket.
Vir die volledige program, besoek www.silwerskermfees.co.za.







