Skrywer: Karla Janse van Vuuren
’n Debuutroman het my lanklaas so beïndruk soos Soetroos van Saron deur Theolla Langenhoven.
Dié skrywer en gemeenskapsaktivis van Belhar se kortverhale en rubrieke het al in Kuier verskyn, en in 2023 het sy ’n tienergebedeboek self uitgegee. Sy het ook ’n bydrae gelewer tot die geskiedkundige Krotoa-bundel wat Poets Vannie Kaap in samewerking met De Groote Kerk in 2024 uitgegee het. Theolla (44) werk tans by die Universiteit van Wes-Kaap en sy vertel sy het ook die “malperd opgesaal” om vanjaar haar honneurs in Women and Gender-studies te voltooi. Haar man Keith en kinders Ciara (21), Keaton (14) en Cade (8) hou haar nederig en op haar tone, sê sy.
Bietjie meer oor die boek
Soetroos van Saron vertel die storie van Delicia Basson, ’n meisie van die dorpie Saron wat ’n beurs by die skatryk Nicols-familie kry om by die Universiteit Stellenbosch te gaan studeer. Aanvanklik word sy oorweldig deur die Nicols se gasvryheid en al die deure wat vir haar oopgaan, maar vinnig besef sy dat alles nie pluis is nie. Met die hulp van haar rebelse vriendin Shunté (wat in die boek lekker in Kaapse Afrikaans praat) probeer sy die blink lagie wat geld gee wegkrap om die donker geheime daaragter te ontdek.
Soetroos van Saron lees heerlik, en die storie gryp sommer dadelik die leser se aandag. Theolla se karakters is geloofwaardig, en netso die storie, want ’n mens kan beslis glo dat só iets werklik kan gebeur.
Theolla het vir Afrikaans.com ’n paar vrae oor haar boek beantwoord:
Waar het die idee vir Soetroos vandaan gekom?
Terwyl ek by Stellenbosch Universiteit gewerk het, staan ek eendag onder ’n boom en die gedagte kom by my op: Hoekom skryf ek nie ’n verhaal oor ’n student van Saron wat hier kom studeer, by mense met ou geld kom woon, en dan probeer hulle haar by hul euweldade intrek nie? Ek het ’n vriendin gebel en sy vertel my toe sy het al gehoor van só iets wat wel gebeur het. Dit was my bevestiging, en ek daag toe myself uit om ’n roman te leer skryf.
Wie dink jy sal die boek geniet?
Soetroos is geskryf vir enige leser, maar ek hoop veral jongmense sal dit geniet.
Dit bevat temas wat relevant is vir hulle en ek het heelwat navorsing gedoen om seker te maak ek kry die detail van klere, gebeure gedurende die tyd wat ek geskryf het, en selfs hulle sêgoed reg.
Wat het jy die meeste geniet van die skryf van die boek?
Alles! Die leer hoe om ’n roman te skryf, die navorsing, en net die geleentheid om die Delicias in die lewe se verhaal neer te pen.

Jou karakters is baie kleurvol, veral die bekkige Shunté – is hulle heeltemal fiktief of geïnspireer deur regte mense?
Delicia en Shunté is op twee van my besties gebaseer, want hulle verskil soos dag en nag. Hulle persoonlikhede verskil, en hulle kom ook van verskillende agtergronde, plekke, en praat verskillend.
’n Ander karakter, Edwina, is geïnspireer deur ’n vriendin wat ek ontmoet het toe ek destyds by Stellenbosch gewerk het. As jy by Studente Admin instap, sal sy agter die toonbank wees. Die karakters Latifha en dr. Genine se rolle in die boek is aangepas, maar hulle is baanbrekers met die werk wat hulle doen vir ander. Die res van die karakters is fiktief, maar dit was ook lekker om hulle op die bladsye te laat lewe.
Wat was vir jou die grootste uitdaging tydens die skryf van Soetroos?
Die hoofstuk oor die Thuthuzela-sentrum was seker die mees uitdagende. Aangesien ek reeds mense in die gemeenskap soontoe verwys het nadat daar seksuele misdrywe teen hulle gepleeg was, het ek besef hoe belangrik dit sou wees. Want wat as iemand dit lees en die Sentrum benodig? Ek móés net die detail en ondervinding regkry. Nie net vir my en die leser nie, maar ook vir ’n moontlike slagoffer.
Wanneer Shunté praat in die boek, HOOR mens haar regtig. Was dit vir jou belangrik om só te skryf dat mens haar unieke Afrikaans kan hoor?
Die regte persoon waarop Shunté gebaseer is, hoor mens voor jy haar sien. Dit was dus belangrik vir my om seker te maak sy staan uit deur Kaaps in die dialoog te gebruik. Shunté, die karakter, verteenwoordig ’n groot groep Kaapssprekers, dus moes ek reg doen aan haar unieke stem in Soetroos. Ook, volgens terugvoer oor die boek wat ek reeds ontvang het, waardeer van die Engelse lesers vir Shunté, want dit maak die lees soveel makliker vir hulle!
Gaan ons weer van Delicia hoor – is ‘n opvolg in die pyplyn?
Soetroos eindig op ’n cliffhanger, daarom kan ek nog nie afskeid neem van Delicia en Shunté nie. Die besties het nog werk om af te handel en moet seker een of ander tyd ook verlief raak, of hoe?
- Soetroos van Saron word deur Kwela Boeke, ’n druknaam van Jonathan Ball Uitgewers, uitgegee, en is nou op die rakke by boekwinkels soos Exclusive Books en Readers Warehouse, of aanlyn by onder meer Takealot en Amazon.







