Skrywer: Karla Janse van Vuuren
’n Vullende, geurige bredie waar die vleis murgsag gekook is en die sous jou laat teruggaan vir nog ’n happie – is daar enigiets lekkerder?
Die resep wat ek vandag deel het ek opgespoor na ’n uitgebreide aanlyn soektog met die soekterme “best beef stew ever”. Ek het dit ook aangepas volgens my eie smaak. In die oorspronklike verskyn baba-aartappels, maar ek verkies om my bredie voor te sit op romerige kapokaartappels. Dit is die perfekte basis vir die sous, maar jy kan die bredie natuurlik ook saam met enige stysel van jou keuse voorsit. Ek beveel polenta of koeskoes aan – iets wat die sous in al sy heerlikheid sal opslurp.
As jy hou van bene in jou bredie, vra jou slagter vir 1,5 kg vleis met bene by. Weer eens het ek die resep aangepas, want ek verkies geen bene in ’n bredie nie – net suiwer vleis! Moenie bekommerd wees oor die rooiwyn in die resep nie – die alkohol verdamp heeltemal, en selfs die smaak van die wyn verdwyn. Al wat agterbly is ’n diepte aan die sous wat mens met niks anders kan kry nie. As jy egter ’n rooiwyn-liefhebber is, is ’n glasie rooiwyn natuurlik die perfekte pasmaat vir dié bredie.
Klassieke beesvleisbredie
Bestanddele (genoeg vir 6):
1 kg beenlose beesvleisblokkies (chuck), met bietjie vet aan
10 ml sout
5 ml varsgemaalde swartpeper
15 ml olyfolie
Ongeveer 16 heel baba-uitjies*, geskil (of twee groot uie, geskil en in kwarte gesny)
7 knoffelhuisies, geskil en fyngekap
30 ml balsamiese asyn
1 pakkie tamatiepasta
60 ml meel
500 ml droë rooiwyn
500 ml beesvleisaftreksel
500 ml water
2 lourierblare
’n paar takkies vars tiemie
5-10 ml suiker
4-6 groot wortels, geskil en in groterige stukke gesny
Om voor te sit:
Kapokaartappels, vars Italiaanse pietersielie
Metode:
- Voorverhit die oond tot 165 °C en plaas ’n oondrak in die onderste middelste posisie.
- Geur die beesvleisblokkies met sout en peper. Verhit 1 eetlepel olyfolie in ’n groot swaarboomkastrol oor medium-hoë hitte en braai die vleis in drie sarsies. Jy wil die vleis mooi verbruin buite en dit nie laat stowe nie. Braai elke sarsie ongeveer vyf minute lank en voeg telkens nog 1 eetlepel olie by. (Moenie die pan te vol pak nie, sodat die vleis behoorlik kan verbruin. Laat dit eers ’n mooi bruin kors vorm voordat jy dit omdraai.) Dit hoef nie deurgaar te wees nie, net mooi bruin aan die buitekant. Plaas die vleis op ’n groot bord en hou eenkant.
- Voeg die uie, knoffel en balsamiese asyn by. Roerbraai vir ongeveer 5 minute, terwyl jy met ’n houtlepel roer en die bruin stukkies van die bodem van die pan losskraap. Voeg die tamatiepasta by en braai nog ’n minuut. Plaas die beesvleis, saam met enige vleissappe, terug in die kastrol en strooi die meel oor. Roer met ’n houtlepel totdat die meel geabsorbeer is, ongeveer 1–2 minute.
- Voeg die wyn, beesvleisaftreksel, water, lourierblaar, tiemietakkies en suiker by. Roer met ’n houtlepel om enige bruin stukkies van die bodem van die pan los te maak en bring tot kookpunt. Sit die deksel op die kastrol, plaas dit in die voorverhitte oond en stowe vir 2 uur (as die kastrol wat jy gebruik het nie oondvas is nie, gooi eenvoudig die bredie versigtig in ’n groot oondvaste bak met ’n deksel, of maak dit dig toe moet foelie).
- Haal die kastrol na 2 ure se stowe uit die oond en voeg die wortelstukke by. Sit die deksel terug en plaas die bredie vir nog ongeveer 1 uur in die oond, of totdat die wortels gaar is, die sous verdik het en die vleis sag is (ek sal dit maklik nog 2 ure in die oond los). Verwyder die lourierblare en tiemietakkies en gooi dit weg. Proe en pas die geurmiddels aan indien nodig. Sit die bredie warm voor, of laat dit tot kamertemperatuur afkoel en bêre dit oornag in die yskas, of totdat jy gereed is om dit voor te sit. Die geur van hierdie bredie verbeter indien dit minstens een dag vooraf berei word. Verhit dit weer, bedek, oor matige hitte. Garneer indien verkies met vars pietersielie en sit dit voor saam met kapokaartappels wat die bredie se sous lekker kan opslurp.
*Ek hou van die klein, heel uitjies in die bredie, maar groter uie wat in kwarte gesny is sal beslis ook werk.
- Aangepas van ’n resep op onceuponachef.com.







