Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Foto: Deelnemers in aksie
Op ’n koue Hoëveldse wintersoggend het taalentoesiaste bymekaargekom by Akademia se Leriba-kampus in Centurion vir die finale taalstryd om die Woordmeester-wenners vir 2026 te bepaal. Afrikaans.com was daar om die tawwe kompetisie en interessante taalvrae te beleef.
Die finaal is gehou op Afrikaanse Taaldag, 14 Augustus, en dit was die hoogtepunt van die Woordmeesterskompetisie wat oor vyf weke gestrek het. Dié kompetisie word aangebied deur Akademia in samewerking met die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) en Die Papier. Afrikaans.com was ook een van die borge, saam met AfriForum, Jonathan Ball Publishers, Stimulusmaksima, Penguin Random House SA en Weet. Daar was drie finaliste in elk van die kategorieë – skoolleerders, studente en die publiek.
Die volgepakte Boerneef-lokaal het behoorlik gegons toe die finaliste mekaar die stryd aangesê het. Met ’n lekker koffie van Akademia se koffiehuis, Sowel As, om die koue te verdryf, het toeskouers onderlangs gefluister soos wat hulle self van die vrae probeer antwoord het. Die deelnemers se taalkennis is tydens die finaal getoets met alles van idiome en spelling tot betekenis, tegniese toepassing asook die fyner nuanses van Afrikaans. Die bekende stemkunstenaar en aktrise Su-an Müller-Marais het as seremoniemeester opgetree.
Die kompetisie het oor drie uitdunrondes gestrek: blitsvrae, woordstryd en taalkennis.
Vyf ervare taalkundiges en -praktisyns het as beoordelaars opgetree om seker te maak die kompetisie verloop seepglad en regverdig: Ansie Maritz (voltydse dosent in Afrikaanse Taalkunde aan die Universiteit van Pretoria), George de Bruin (taalpraktisyn en toegepaste taalkundige), Karien Brits (dosent in Taalpraktyk en Sepedi aan Akademia), Maureen van Helden (taaladviseur by VivA) en Suléne Pilon (beskrywende taalkundige by die Universiteit van Pretoria).
Rian Knoesen, Ildamari Botha en Morné van Rooyen het tydens die finaal gewys dat ’n mens hulle nie sommer sal uitvang in Afrikaans nie, en só het hulle meer as 1 000 ander deelnemers van dwarsoor die land in die stof laat byt. Hulle is onderskeidelik as die wenners in die skoolleerders-, studente- en publiekkategorie aangewys en is met ʼn rits pryse, insluitende kontant, bederf.
Rian, wat tans ’n matriekleerling is by die Hoërskool Menlo Park, sê sy ma het aangedring dat hy inskryf vir die kompetisie. “My ma is ’n Afrikaansonderwyseres, so ek was basies vriendelik verplig om deel te neem! Ek het nooit gedink ek sou so ver kom in die kompetisie nie. Dit is lekker om jouself te toets en nuwe dinge te leer.” Rian vertel hy was onlangs saam met die skool op ’n koortoer na Oos-Europa, en daar het hy volgens hom “bietjie baie geld uitgegee”. “Ek gaan van my prysgeld moet gebruik om vir my ma terug te betaal!” lag hy.
Ildamari is tans ’n derdejaar- teologiestudent aan die Universiteit van Pretoria en sy sê sy het die advertensie vir die Woordmeesterskompetisie op Facebook gesien. “Ek het gedink dit sal lekker uitdagend wees en het besluit om in te skryf. Ek beplan om vir myself ’n nuwe boek te koop met my prysgeld, en as student is die slimste seker om die res te spaar!”
Morné is van Bloemfontein en hy is die radiostasie OFM se nuusredakteur. “Ek het verlede jaar die kompetisie gesien op Facebook en het begin om deel te neem, maar ek het dit nie ernstig genoeg opgeneem nie. Vanjaar het ek uitgekyk daarvoor en regtig moeite gedoen om alles op te soek waarvan ek onseker was. Ek het uiteindelik so goed gevaar dat ek in die finaal beland het. Die finaal was vir my baie senutergend en ek het heeltyd gevoel ons is kop-aan-kop.” Morné vertel tong-in-die-kies dat sy prysgeld help betaal vir sy brandstof en verblyf vanaf Bloemfontein na Pretoria om die finaal by te woon. “Ek het darem nog so ’n bietjie oor om te spaar vir ’n vakansie!”

Die nege finaliste.
Woordmeesters is veel meer as net ’n taalkompetisie – dit is ’n viering van Afrikaans en van die mense wat kies om die taal met trots te leef.
In ’n persverklaring wat na die kompetisie uitgereik is, sê Akademia:
“ ’n Taal bly immers lewenskragtig wanneer dit nie nét gepraat word nie, maar met kennis en liefde beoefen, gekoester en voortdurend verder ontwikkel word. Deur hierdie en soortgelyke inisiatiewe word nuwe geslagte taalgebruikers uitgedaag om Afrikaans doelgerig en toekomsgedrewe te slyp, te verryk en met trots verder uit te dra.”
Mareli Swanepoel, die bestuurder vir institusionele projekte en ondernemings by Akademia, sê hulle is baie tevrede oor die afloop van vanjaar se Woordmeesters. “Die hoë getal deelnemers aan vanjaar se kompetisie wys mens net hoe nodig is so kompetisie en die waarde daarvan onder ons taalgemeenskap. Ons sien uit om Woordmeesters volgende jaar weer aan te bied en dit net nog groter en beter uit te rol.”
So, as jy ook ’n boffin is in Afrikaans, hou dop en maak seker jy skryf in vir volgende jaar se Woordmeesterskompetisie!







