Skrywer: Karla Janse van Vuuren
’n Skool is veel meer as net ’n plek waar kinders leer lees, skryf en somme doen. Dit is waar hulle ontdek wie hulle is, waar hulle leer droom oor hul toekoms en waar hulle tuis behoort te voel – selfs wanneer die wêreld daar buite vir hulle min hoop bied.
Maar wat gebeur wanneer ’n skool self ondersteuning nodig het?
Dit is die vraag wat die Strong Schools-span en Trudie Schoeman hulle die afgelope sewe jaar lank mee besig hou en tot aksie laat oorgaan het. Afrikaans.com het met haar gesels oor die Strong Schools Community Collaborative (SSCC)-inisiatief.
Trudie is een van die dryfvere agter dié inisiatief. Sy is ’n stigterslid en tans finansiële beampte vir Strong Schools, en ook deel van die span op ’n vrywilligerbasis. Sy het ’n hart vir gemeenskapsontwikkeling en -opheffing deur onderrig, opleiding en gemeenskapsbetrokkenheid. Sy glo aan bemagtiging deur mense toe te rus: “Gee ’n man ’n vis en jy voed hom vir ’n dag; leer ’n man om vis te vang en jy voed hom vir ’n leeftyd,” is haar filosofie. Sy was voorheen ’n Wiskunde- en Boekhouonderwyseres en was nog altyd by verskeie skoolinisiatiewe en -projekte betrokke. Sy het ook vir vyf jaar by die Helderberg Ontwikkelingsentrum gewerk. “Ons het Strong Schools in Januarie 2020 gestig, net mooi drie maande voordat Covid uitgebreek het. In dieselfde jaar het ek my PGDip in NPO leierskap by die Stellenbosch Bestuurskool voltooi. Dit het my oë verder oopgemaak vir die groot uitdagings wat niewinsgewende-organisasies het, en die enorme rol wat hulle speel in enige land.”

Van die begin af was die doel van Strong Schools om skole in gemeenskappe met beperkte hulpbronne holisties te versterk sodat hulle sterk, doeltreffende skole kan wees, vertel sy.
“Ons wil help dat leerders in volwassenes ontwikkel wat uiteindelik selfstandige en produktiewe landsburgers kan wees,” sê Trudie.
Die probleem, verduidelik sy, is dat leerders in gemeenskappe met minder hulpbronne beperkte toegang tot gehalte-onderwys, leerondersteuning, infrastruktuur, leermateriaal en die ontwikkeling van lewensvaardighede het. “Ons wil hierdie probleem aanpak met ’n holistiese benadering, waar mens met gees, siel en liggaam werk – ‘from roots to fruits’. Ons begin met leierskap van ’n skool, en werk dan met die onderwysers, leerders en ouers. By SSCC is lewensvaardighede meer as net praktiese vaardighede. Ons waardegedrewe intervensies fokus op identiteit, selfwaarde en groei, omdat ons glo dat ware verandering begin by hoe mense hulself verstaan, waardeer en hul plek in die wêreld sien.”
Omdat die leerders en onderwysers net nog swaarder kry in minderbevoorregte gemeenskappe, is dit des te meer nodig om die probleem holisites te benader.

Elke skool is ook uniek, met unieke uitdagings.
Omdat ons goeie vertrouensverhoudings bou in die skole en ondersteuningsentrums begin nadat ons ’n heelskool-evaluering gedoen het, kan ons by die skole self uitvind wat hulle unieke uitdagings is, en saam met hulle oplossings skep.”
SSCC is tans in die Wes-Kaap gebaseer en het die model in agt skole hier ontwikkel. Trudie vertel hulle het die afgelope sewe jaar hulle benadering, die “5-Step Change Journey” getoets, beoefen en verfyn. “Ons het onlangs ook die model beskikbaar gemaak vir die Mosselbaai-gemeenskap, waar daar ’n befondser na vore gekom het om ’n paar skole daar ook te begin versterk.”
Die hartklop van die projek is om skole werklik met God se liefde te dien en holisties ’n verskil te maak. “Ons glo dis wat in God se hart is – Jesaja 61:3 beskryf ons ‘redemptive purpose’, en dis waarop ons welstandsintervensies gebou is – die heelword van mense ‘om ’n blye boodskap te bring aan die mense in nood, om dié wat moedeloos is, op te beur, om vir die gevangenes vrylating aan te kondig, vryheid vir dié wat opgesluit is. Hulle sal genoem word: Bome van Redding – om sy roem te vermeerder’.” Die welstandsintervensies fokus juis op die emosionele, geestelike, fisieke en algemene welstand van leerders, onderwysers en ouers. Psigososiale ondersteuning en berading is ook deel hiervan – wanneer spesifieke befondsing daarvoor bewillig word.
Die publiek kan op verskeie maniere betrokke raak, sê Trudie. “Ons het altyd vrywilligers nodig wat kan lees in skole, fasiliteerders van lewensvaardighede en ander intervensies, en betrokkenheid by verskeie geïdentifiseerde projekte. Mense kan ook help met huiswerk by die nasorg, om sport af te rig, met fondsinsamelingsidees en -ondersteuning en om deel te word van ons gebedspan en voorbidding te doen. Befondsing vir spesifieke intervensies is altyd nodig.”


“Die nood is groot in die skole waar ons bedien.”
Die Strong Schools-span droom daarvan om hulle SSCC “5-Step Change Journey” ook vir ander gemeenskappe beskikbaar te stel om in hulle eie gemeenskap die skole te bemagtig en te versterk. “Want die werk is te veel en te groot vir een organisasie. Daar moet samewerking wees tussen niewinsgewende-organisasies, ander instansies en passievolle individue om ons skoolsisteem, wat tans onvoldoende is om die groeiende aantal leerders in staatskole te kan akkommodeer, te help – een leerder, een onderwyser, een skool op ’n slag.”
Ander skole kan ook by die SSCC betrokke raak. “Dit is nog altyd ons ideaal – om meer bevoorregte skole te kry om in te koop en op sinvolle en volhoubare maniere betrokke te raak om ander skole te ondersteun. Daar is legio moontlikhede – elke skool moet net na die tafel toe kom en uitvind wat die behoeftes is. En dit moenie net bly by ‘hand-outs’ nie. Kontak met die leerderrade en inklim in mekaar se leefwêrelde – dis waar die verskil kan kom. Ons skole het altyd nog basiese skryfbehoeftes, skoene, skoolhemde, skoolskoene, tekkies om sport mee te doen, sokkerballe en sakrekenaars, om net ’n paar dinge te noem, nodig. Ons onderwysers het ook ’n behoefte aan vaardighede, hulp met beplanning en middele. Skole benodig leesboeke – daar waar wel skoolbiblioteke is. En ons skole het nie bibliotekaresses nie. So mense wat so deeltyds in biblioteke kan help, sal wonderlik wees.”
Besoek gerus www.strongschools.co.za vir meer oor die SSCC.








