Skrywer: Karla Janse van Vuuren
“45! Jy lyk nie ’n dag ouer as 35 nie!”
As jy ook wens vir sulke kommentaar, is antioksidante dalk jou geheime wapen. Dit is miskien nie die eerste ding waaraan ’n mens dink wanneer jy velsorgprodukte kies nie, maar kenners beklemtoon dat dit belangrik is as jy voortydige velveroudering wil voorkom. Afrikaans.com het meer uitgevind oor die voordele van velsorgprodukte wat antioksidant-bestanddele het, en hoe jy dit deel van jou velsorgroetine kan maak.
Wat is antioksidante?
Dr. Suretha Kannenberg, ’n spesialis-dermatoloog van Bellville, verduidelik dat antioksidante molekules is wat die vel help beskerm teen skade wat deur vrye radikale veroorsaak word. “Vrye radikale is onstabiele molekules wat gesonde velselle beskadig. Hierdie onstabiele molekules ontstaan onder meer deur sonlig, lugbesoedeling, rook en byprodukte van normale liggaamsprosesse. Antioksidante neutraliseer dié onstabiele molekules en help om selbeskadiging, voortydige velveroudering en oksidatiewe stres te verminder.” Karen Bester, mediese opleidingbestuurder by Lamelle Research Laboratories, voeg by dat die skade wat vrye radikale aanrig een van die groot redes is hoekom ons liggame, en nié net ons velle nie, verouder. “Die skade veroorsaak lui selle wat selfs kan doodgaan en dalk lei tot mutasie wat kankeragtige selle tot gevolg kan hê.”
Oksidatiewe stres veroorsaak dat die vel mettertyd dof begin lyk, plooie en pigmentvlekke ontwikkel, droër word en fermheid verloor, verduidelik Sonja Perhold, ’n vel- en estetiese terapeut wat saam met Suretha werk. Gelukkig is daar hoop vir dié velprobleme in die vorm van antioksidante. “Vitamiene A, C en E het die triade geword in die versorging van die vel, maar daar is ook baie meer kragtige antioksidante beskikbaar,” sê Karen. “By Lamelle hou ons veral van astaksantien (afkomstig van ’n donkergroen alge en verantwoordelik vir die pienk kleur van salm en flaminke) en pycnogenol (’n dennebas-ekstrak van ’n baie spesifieke denneboom) as bykomend tot askorbiensuur (die aktiewe form van vitamien C), vitamien E en vitamien A. Ons gebruik ook baie niasienamied omdat dit baie goeie data het in die behandeling van sonskade of sonligkeratose. Dit help ook om te voorkom dat die keratose omskakel in niemelanoom-velkanker.”
Suretha beklemtoon dat vitamien C (veral L-askorbiensuur) waarskynlik die antioksidant is met die sterkste wetenskaplike ondersteuning in velsorg. “Ander bestanddele met goeie navorsing sluit vitamien E, niasinamied en feruliensuur in. Vitamien C help met kollageenvorming, verhelder die vel en verminder pigmentasie. Vitamien E beskerm die vel se vogversperring (‘barrier’-funksie) en werk nou saam met vitamien C. Niasinamied versterk die velversperring, verminder rooiheid (dis wonderlik in inflammatoriese toestande soos aknee) en help met oneweredige velverkleuring. Feruliensuur is ’n kragtige antioksidant wat vitamien C en E meer stabiel en doeltreffend maak.”
Maak dit deel van jou roetine
As jy nou oortuig is om antioksidante by jou daaglikse roetine te volg, is dit regtig nie moeilik nie. Dit vorm gewoonlik deel van ’n serum, room of sonskerm. “Omdat ons gedurende die dag aan meer son en besoedeling blootgestel word en ook omdat ons aktief is deur die dag, stel ons altyd voor dat antioksidante in die oggend aangesit word en/of gedrink word,” sê Karen. “Die konsentrasies en vorme van hierdie antioksidante het nie nodig om die vel te irriteer nie, so dit behoort maklik te wees om dit in te sluit. Wanneer jy die dag in die son spandeer het, is dit ook goed om jou vel met antioksidante te laai sodat al die vrye radikale wat nie geneutraliseer is nie, geneutraliseer word. Ons het by Lamelle ’n na-son-produk, Helase Rescue Repair, wat die vel afkoel en ook laai met pycnogenol.”
Suretha en Sonja beveel aan dat ’n mens begin met een nuwe produk op ’n slag en dit twee tot drie keer per week gebruik voordat dit daagliks gebruik word. “Vitamien C werk goed in die oggend onder sonskerm. Mense met sensitiewe vel kan eerder met niasinamied of laer konsentrasies vitamien C begin en dit eers op ’n klein stukkie vel toets. Verder mag dit help om in die bestanddelelys van jou produkte te kyk na die meer stabiele vorme soos sodium ascorbyl phosphate, magnesium ascorbyl phosphate of tetrahexyldecyl ascorbate.”

Lees die bestanddelelys
Karen beklemtoon dat mens nie altyd die duurste produk hoef te gebruik om goeie resultate en beskerming te kry nie.
Wanneer jy ’n produk kies, let op die volgende, sê Suretha:
- Die aktiewe bestanddeel: Kies produkte met goed nagevorsde antioksidante soos vitamien C, vitamien E, niasinamied of feruliensuur.
- Die verpakking: Vitamien C is sensitief vir lig en lug. Donker glasbottels of lugdigte pompe help om die produk langer stabiel en effektief te hou.
- Die bestanddeellys: Aktiewe bestanddele behoort redelik hoog op die lys te verskyn. As dit heel onder aan die lys is, is die konsentrasie waarskynlik baie laag.
- Die vervaldatum: Antioksidante verloor met tyd hul doeltreffendheid. Gebruik produkte binne hul vervaldatum en bêre dit volgens die vervaardiger se aanbevelings.
Onthou ook dat konsekwente gebruik van ’n geskikte produk belangriker is as ’n duur handelsnaam. Die beste antioksidant sal min waarde hê as dit nie gereeld gebruik word of as daaglikse sonskerm ontbreek nie.
Antioksidante kan ook oraal ingeneem word – en dit is baie belangrik omdat jou hele liggaam antioksidante nodig het, sê Karen. “Die probleem is dat te min van die antioksidante wat ons oraal inneem, by ons vel uitkom. Die liggaam gebruik wat dit nodig het, en stuur die res vel toe. Die beste beskerming vir jou vel is om die anti-oksidante op jou vel, en veral vel wat aan die son blootgestel is, te sit. Só beveg ons die vrye radikale amper voordat hulle gevorm word. Hulle is onmiddellik beskikbaar in hoë konsentrasies.”
Smeer daardie sonskerm aan
Sonskerms en antioksidante werk saam, verduidelik Karen. “Hulle het verskillende doele op die vel. Die beste bekerming teen veroudering is om daagliks jou sonskerm aan te sit en goeie, sterk antioksidante te gebruik. Sonskerm absorbeer die energie van die son wat die vrye radikale en direkte DNA-skade veroorsaak. Die probleem is dat daar nie een sonskermbestandeel is wat 100% beskerm nie. Dis waar antioksidante hulle werk doen om die vel te beskerm teen die molekules wat ook sonenergie absorbeer en dan vrye radikale word. Sonskerms en antioksidante is spesifiek in hulle verskillende werk.”
Sonja en Suretha sluit af deur te sê dat antioksidante sommige van die skade beperk wat deur UV-strale veroorsaak word, maar nie die sonstrale beperk nie.
“Daarom bly daaglikse sonskerm onmisbaar. Raadpleeg ’n dermatoloog as jy aanhoudende irritasie of ’n uitslag ontwikkel nadat jy nuwe produkte begin gebruik het.”







