Skrywer: Johan David Brits
Foto’s: Rina G. Coetzee
Met ’n klokhelder stem wat moeiteloos tussen oktawe beweeg, stof die sangeres en aktrise Stephanie Baartman musiektreffers uit die verlede af in die splinternuwe verhoogproduksie “’n Skatkis uit ons Musiekverlede”.
Dié produksie is ’n intieme, maar kragtige huldeblyk aan die liedjies – en veral die vroue – wat die Suid-Afrikaanse musieklandskap oor dekades heen help vorm het.
Die pianis en musiekregisseur Chanie Jonker begelei Baartman meesterlik in dié sangskouspel van Lefra Produksies. Die première was op Sondag 2 Augustus in die AfriForum Teater in Pretoria. Frans Swart, die regisseur, het skertsend gesê die produksie het reeds sy “internasionale debuut” gemaak, verwysend na die opvoering by die Oppiwater Kunstefees. Die vertoning het nou sy “nasionale” debuut gemaak.
Baartman begin haar optrede met die stelling dat Suid-Afrika ’n land met probleme is – elektrisiteit, water en korrupsie – maar dat daar tog ook baie hoop in die land is.
“Ons het almal ’n liedjie wat iets in ons lewe verteenwoordig – toe jy verlief geraak het, jou eerste break-up of selfs die liedjie wat gespeel het toe jy rys in die kombuis gekook het.”
Sy sê ook dat die vrouestemme wat in die vertoning geëer word, mense lank vóór ons as een nasie oor kleur- en klankgrense heen saamgesnoer het en ’n gedeelde kultuurerfenis help bou het.
“Daar is stérk vroue in Suid-Afrikaanse musiek.”
Musiek roep herinneringe van goeie én moeiliker tye op en teatergangers het gelag, gejuig en hier en daar ’n traan of twee uit hul oë gevee toe Baartman en Jonker hulle vermaak het met liedjies soos “Skipskop”, “Sweef soos ’n arend”, “Dis ’n land”, “Paradise Road,” “Jantjie”, “Master Jack”, “Lisa se klavier”, “Stuur groete aan Mannetjies Roux”, “Suikerbossie” en “Special Star”.
Omdat daar musiek vir verskillende lewensfases is, het Baartman haar siel op die verhoog ontbloot toe sy gepraat het oor die gewelddadige eerste huwelik waarin sy was en hoe sy besef het sy moet wegkom. Sy het toe, gepas vir hierdie lewensfase, “I don’t wanna play house” uit haar musiekskatkis gehaal en baie roerend gesing. Dié lied beskryf die swaar, onsigbare emosionele tol wat egskeiding van veral jong kinders eis. “As jy ’n besluit geneem het om op te staan, is daar nuwe uitdagings, maar ook ’n geleentheid om nuwe herinneringe te maak.” Volgens Baartman het sy besluit om haar kinders eerste te stel en dit het haar die moed gegee om haar lewe terug te neem.
“Die boodskap is: Breek die bose kringloop; liefde moet nooit swaar wees nie.” Sy het weer geluk gevind en toe Juanita du Plessis se gepaste “Engel van my hart” gesing. “Want nooit in my lewe het ek gedink/Dat iemand my/So lief kan hê soos jy/’n Engel gestuur vir my,” lui die lirieke.
Die maande lange voorbereiding vir die verhoogstuk was nie aldag maklik nie.
“Ek het deur die dag aan ‘Diepe Waters’ geskiet en daarna van Johannesburg deurgery Pretoria toe en tot laat saam met Jonker geoefen.”
Baartman is vol lof vir Jonker, die klaviervirtuoos wat die verhoog met haar deel.
Hou Lefra Produksies se webblad dop vir die volgende optredes. Moet dit nie misloop nie – dit is ’n wonderlike geleentheid om met ’n lied in die hart en ’n warm gevoel in die musiekverlede terug te stap.

Meer oor Stephanie Baartman
Benewens haar sangloopbaan, is Stephanie ook ’n bekende aktrise op televisie en verhoog. Sy speel Lettie in die telenovella “Diepe Waters” op kykNET. Sy is oorspronklik van Humansdorp in die Oos-Kaap en het drama aan die Tshwane Universiteit vir Tegnologie in Pretoria gestudeer.
Baartman is ’n kunstenaar in hart en siel – ewe tuis in teater, televisie, stemwerk en radio. Haar eerste liefde bly egter musiek, en haar veelsydigheid strek oor genres soos Afrikaans, Engels, jazz, gospel en country. Sy bring nie net tegniese vaardigheid na die verhoog nie, maar ook ’n diep menslikheid wat elke uitvoering uniek maak.

Meer oor Chanie Jonker
Chanie, wat ’n klassiek-opgeleide pianis is, het haar BMus-graad cum laude aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Met verdere kwalifikasies het sy haarself gevestig as een van die land se voorste begeleiers en musiekregisseurs. Haar musikale reis strek oor verskeie genres – van klassiek tot jazz en kontemporêr – en sy het reeds saam met bekende kunstenaars soos Jannie du Toit, André Schwartz en Nadia Beukes opgetree. As musiekregisseur bring sy ’n fyn aanvoeling vir detail en ’n diep begrip van musikale storievertelling na hierdie produksie.







