Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Ons fokus dikwels op 21ste-eeuse vaardighede omdat die werkplek verander, maar daar is ’n tweede groot skuif wat ons nie kan ignoreer nie: naskoolse opleiding self word tans deur KI herontwerp.
Die wêreld waarin vandag se kinders ná matriek gaan leer en kwalifiseer, gaan radikaal anders lyk; en hoe beter ons hierdie nuwe terrein verstaan, hoe beter kan ons hulle voorberei.
Die einde van die tradisionele model
Kenners voorspel dat universiteite KI aanvanklik by die bestaande stelsel sal aanlas — ’n chatbot hier, ’n kursus daar, ’n paar reëls oor “oneerlike gebruik”. Maar hierdie oplossings sal tydelik wees, omdat die voordele van KI-opleiding eenvoudig nie vir lank op grond van tradisie onderdruk sal kan word nie.
Die werklike verandering sal waarskynlik in die mees dinamiese instansies nog in ons kinders se era plaasvind – wanneer opleiding herontwerp word rondom KI, nie net daarmee aangevul word nie.
Verandering is onafwendbaar
Die kruks van die saak is: die tradisionele model, groot lesings, vasgestelde semesters, memorisering vir toetse, sal nie vir lank kan meeding met ’n wêreld waar elke student toegang het tot ’n persoonlike tutor wat 24/7 beskikbaar is nie.
Die KI-tutor: altyd geduldig, altyd beskikbaar
’n KI-tutor kan enige konsep op verskillende maniere verduidelik, onmiddellik aanpas by ’n student se vlak, en nooit moeg word nie. Dit beteken dat elke student teen ’n unieke pas kan leer en dat niemand langer hoef weg te skram van “dom vrae” nie. Meer nog, onder KI-leiding kan leerinhoud voortdurend op datum bly, en elke student se leerplan kan gereeld aangepas word volgens sy of haar vordering en belangstellings.
Bewyse van bevoegdheid word belangriker as generiese sertifikate en titels
In ’n wêreld waar formele kwalifikasies steeds nodig sal wees, sal toegang tot KI mettertyd teweegbring dat tradisionele kwalifikasies nie meer ’n student se werklike begrip en vaardigheid sal kan reflekteer nie. Bevoegdheid sal dus op nuwe maniere ten toon gestel moet word.Dit sal beteken dat werkgewers toenemend sal moet kyk na portefeuljes, projekte, simulasies en probleemoplossingsvoorbeelde wat met ’n KI-tutor se leiding, maar deur die student se eie inisiatief en insig, geskep is.
’n Graad wys dat iemand deur ’n program gewerk het, maar ’n dinamiese profiel sal een van die dae moet wys wat ‘n persoon in die praktyk kan doen.

In-diens-opleiding word toenemend gewild
Daar is drie redes waarom baie werkgewers iemand eers ná aanstelling sal wil oplei as om te belê in mense wat vooraf kwalifikasies verwerf het:
- Kennis raak vinnig uitgedien. Wat jy drie of vier jaar gelede geleer het, is dalk reeds irrelevant.
- Toegang tot kennis is nie meer die struikelblok nie – kontekstuele toepassing en insig wat in die praktyk verwerf is, word deesdae baie meer waardevol.
- KI maak voortdurende, persoonlike opleiding maklik en bekostigbaar. Dit beteken dat werkgewers eerder sal kyk na ‘n kandidaat se vermoë om te groei as na die generiese sertifikaat waarmee die persoon begin het.
Dis onwaarskynlik dat formele kwalifikasies afgeskaf sal word, maar dit sal aangevul (en soms oorskadu) word deur bewyse van werklike bevoegdheid. Gevolglik sal portefeuljes, projekte en praktiese demonstrasies toenemend in aanvraag wees wanneer jongmense hul eerste tree in die arbeidsmark gee.
Wenke
Hoe ons kinders kan voorberei

1.) Leer hulle dat kennis steeds belangrik is, maar om anders daaroor te dink
Hulle hoef alles nie meer te memoriseer nie. Dit word nou belangriker om met kennis te kan werk. Dit behels om te verstaan watter kennis relevant is, waar om dit te kry, hoe dit in die groter prentjie inpas, of en hoe dit prakties van toepassing is, en hoe om dit te integreer om iets daarmee uit te rig.
Die vier K’s speel hier ’n groot rol: kreatiwiteit,kommunikasie, kollaborasie (oftewel samewerking) en kritiese denke (wat probleemoplossing insluit).
2.) Leer hulle om leer as ’n lewenswyse te beskou
KI maak leer altyd beskikbaar en altyd persoonlik. Die idee van “klaar geleer wees” sal verdwyn. Ons kinders moet vroeg leer om opgewonde te wees oor die idee dat ’n mens in ’n beroep voortdurend groei.
3.) Help hulle om hoër-orde-denke te ontwikkel
As KI antwoorde kan genereer, is die waarde wat mense toevoeg dat ons die werklikheid tasbaar beleef en dus uit ’n unieke hoek kan insette lewer, nuuskierig kan wees, probleme kan formuleer, en oplossings kan skep.
’n “First principles”-denkwyse word ’n groot bate.
4.) Berei hulle voor om universiteite anders te sien
Die universiteite wat hulle eendag gaan bywoon sal minder fokus op kennisvoorsiening en eerder op identiteitvorming, samewerking, etiese opvoeding,menslike verbondenheid, en diep werk. KI kan baie doen, maar dit kan nie vir studente gemeenskap bied, roeping skep, of karakter bou nie.
5.) Berei kinders voor op nuwe assesserings
Assessering sal meer deurlopend, meer aanpasbaar, en dikwels meer prakties wees.
Mondelinge vraestelle, simulasies en vaardigheidsgebaseerde evaluering sal toeneem.
Om te gradueer sal meer voel soos “leveling up” as ’n eenmalige seremonie.
6.) Help hulle om dosente in ’n nuwe rol te sien
Die dosent van die toekoms sal minder van ’n kennisvoorsiener wees en eerder die rol inneem van ’n mentor, kultuurbouer en projekkurator – dus ’n ontwerper van leerervarings en iemand wat standaarde handhaaf.
Terwyl KI die leerproses hanteer, sal dosente die transformasieproses bestuur wat studente deurleef.
7.) Moedig hulle aan om ’n domein te kies waarin hulle regtig belangstel
Die nuwe elite sal nie mense wees wat net basiese kennis onder die knie het nie, maar dié wat diep gaan. Ware kundiges sal op elke studiegebied en in elke beroepsrigting in aanvraag wees omdat KI wel oplossings kan genereer, maar mense moet knelpunte uitwys, terrein afbaken en doelwitte bepaal. Dit vereis diep insig en ervaring.
8.) Leer kinders dat posisie en prestasie voortaan ‘eerliker’ gemeet gaan word
Mense kon voorheen soms agter kwalifikasies of titels wegkruip, maar prestasie in die werkplek sal voortaan meer soos prestasie in sport wees: Jy kan sukses nie namaak nie. Jy moet prakties kan doen wat verwag word.
9.) Leer-snelheid is die nuwe superkrag
Die hoofrede hoekom kundigheid op ’n gebied nou krities word is omdat dit jou aanpasbaarheid versnel. Mense wat meer oor ‘n onderwerp weet, verstaan en evalueer nuwe inligting vinniger.
Die vraag is: “Hoe vinnig kan jy leer, aanpas, en weer probeer?”
10.) Lei hulle om te verstaan dat toewyding belangriker word as toegang
Wanneer almal toegang het tot dieselfde KI-tutor, word niemand meer op grond van hul agtergrond of finansies bevoordeel nie. Die onderskeidende faktor sal nie toegang wees nie, maar toewyding.
Wanneer projekte die nuwe CV’s word sal die belangrikste vraag nie meer wees: “Wat of waar het jy gestudeer nie?” Maar: “Wat is jy besig om te maak?”
11.) Berei hulle voor dat opleiding baie meer prakties gaan word
KI maak eindelose oefening en gevallestudies moontlik. Dit beteken dat studente baie meer gereeld prakties sal kan oefen om letterlik enigiets te doen: kliënte te help, onderhandelings te voer, mediese diagnoses te maak of ingenieursontwerpe te skep.
Meer oefeningsgeleenthede maak dit meer realisties om te verwag dat meer mense spesialiste sal kan word.
12.) Leer kinders om KI reg te gebruik
Moenie KI voorhou as ‘n manier om minder te dink, minder te werk en lyf weg te steek nie. KI is nie “cheat code” nie. Dit is ’n tutor, denker-vriend, simulator, en projekversneller.
Gebruik KI om sterker te word, nie swakker nie.
Hierdie artikel is met vergunning van die AON geplaas. Vir meer inligting, besoek hul webtuiste: https://aonetwerk.co.za/







