Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Sy is al beskryf as die “doyen” van Suid-Afrikaanse historiese fiksie, en met reg.
Irma Joubert bekoor nou al vir 20 jaar boekwurms met haar uitstekende, goed nagevorsde romans, propvol onvergeetlike karakters en stories wat ’n mens bybly, lank nadat jy die laaste bladsy gelees het.
Irma vertel vir Afrikaans.com dat sy 40 jaar lank ’n hoërskoolonderwyseres in Afrikaans en Geskiedenis was, en dat sy ná haar aftrede in 2004 voltyds begin skryf het. “Ek het na my aftrede besef dat ek nie ’n goeie huisvrou is nie – ek kan nie fênsie koeke bak en ure aan naaldwerk spandeer nie. Ek wou ook nie net by die huis sit nie. Ek kom uit ’n skrywersfamilie – beide my oumas, twee van my neefs en natuurlik my seun (die bekende joernalis Jan-Jan Joubert) skryf, so toe dink ek, dan kan ek ook mos!”
Irma vertel sy het verskeie skryfkursusse bygewoon en begin met kortverhale en ligte liefdesverhale. Dit het alles die fondasie gelê vir stories gewortel in haar groot passie – Afrikaanse geskiedenis. Fantastiese boeke, soos die Tussen Stasies– en Pontenilo-trilogieë, het uit haar pen gevloei. “Ons geskiedenis is propvol wonderlike stories van oorlewing, heldedade en net gewone mense wat in moeilike omstandighede oorleef het. Eintlik gaan my boeke oor die oorlewingsdrang van die mens.” Irma se boeke neem lesers op ’n reis deur Suid-Afrika en ook internasionaal, met agtergronde vir haar karakters so divers soos Bosveldplase en Johannesburg in die 1930’s tot die noorde van Italië en Nederland.
Irma het ook al self die land amper deurkruis – sy bly nou al vir sewe jaar in die Paarl, maar sy is oorspronklik afkomstig van Noord-Transvaal, en het vir 40 jaar in Durban gebly. Haar nuutste boek wat pas verskyn het, Rebekka van Kameeldoornplaas, begin op ’n plaas in Kimberley, maar ’n groot deel van die narratief vind plaas in Oxford, Engeland.
“My boek-idees kom soms van mense wat vir my ’n storie vertel, dikwels iets uit hulle eie familiegeskiedenis.”
“Die saadjie vir die nuutste boek lê juis in my familie – my oupa en ouma Holloway is vroeg in 1914 na Ghent in België waar my oupa ’n beurs gehad het om medies te studeer. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het hulle Londen toe gevlug, en hy het daar verder studeer. My ouma het baie stories oor hierdie tyd vertel, insluitende dat sy geleer het om vlot Cockney te praat. Sy het altyd vertel hoe sy baie armoedig aangetrek het, en met haar twee klein kinders mark toe gegaan het om kos te koop. Met haar voorkoms en haar Cockney-aksent het sy dan baie goedkoper inkopies gedoen!”
Aangename kennis, Bekkie
Irma vertel sy wou eintlik haar oupa se storie vertel, maar “die mediese student in die boek wou net nie begin lewe nie. Die karakter Richard het toe uiteindelik die mediese student geword.” Bekkie het eerder by Irma kom aanklop. “Rebekka, of Bekkie soos sy meestal in die boek genoem word, het uit die niet verskyn. Ek het baie van haar gehou, en besluit om haar storie te vertel.”
Karakters wat ’n lewe van hulle eie aanneem, is natuurlik ’n heerlike ervaring vir ’n skrywer, en Irma sê ook die navorsing vir haar stories laat haar hart warm klop. “Dis so lekker soos die lekkerste storie. Daar is so baie stories daarbuite, en ek geniet dit om regte stories te ontdek, en dan daarop te bou.” Irma verduidelik dat sy eers haar storie uitdink voordat sy begin skryf, maar dat dit nooit bly soos sy dit aanvanklik uitgedink het nie. “Ek probeer altyd twee of drie boeke lees oor die tydperk, soos byvoorbeeld All quiet on the Western Front vir meer agtergrond oor die Eerste Wêreldoorlog. Ek lees om my gedagtes aan die gang te kry. Dan doen ek navorsing op die internet en in boeke, en dit is vir my belangrik om die plekke te besoek waar my stories afspeel.”

Rondsnuffel in Oxford
So is sy en haar seun Jan-Jan Oxford toe om in Bekkie se spore te gaan trap. Hulle het die stad deurkruis op soek na die regte huis waar Irma Bekkie se storie kon laat afspeel. “Ons het die perfekte huis gekry, en gelukkig was die eienaar ’n baie vriendelike vrou wat ons toegelaat het om deur die huis te loop. So kon ek lekker ’n gevoel kry daarvoor. Gelukkig is ek oud, en niemand sien my as ’n bedreiging nie,” lag sy.
In Oxford het Irma ook heerlik in museums en argiewe rondgesnuffel en haarself verdiep in haar navorsing.
“Mense in ’n museum is so bly as iemand regtig belangstel – hulle help altyd flink. Argiewe is wonderlike bronne vir dagboeke en briewe wat ’n mens help om in die gees van die tyd te kom. Oorspronklike bronne, soos koerante van daardie tyd, is ook ’n skatkis van inligting.”
Al is skryf vir haar heerlik, is dit ook baie harde werk, bieg sy. “Die ABC van skryf is ‘apply bottom to chair’. So, mens moet gaan sit en skryf. Ek word volgende jaar 80 en artritis is maar ’n probleem. As ek vir langer as 20 minute sit en skryf, is my rug vreeslik seer. Ek moet gereeld opstaan en bietjie loop – maar dis makliker gesê as gedaan. Soms is ek so in ’n ritme met skryf, dat ek vir ure sit, en dan beland ek op my rug in die bed. Die fisiese uitdaging van skryf is op die oomblik vir my die ergste.”
Verbaas deur sukses
As sy terugkyk, het sy nooit gedink haar boeke sou só suksesvol wees nie. “Ek het dit nie eens gedroom nie! Dit is alles genade van Bo. Ek is dan ’n onderwyseres, nie ’n skrywer nie! Ek het aanvanklik net gedink ek wil artikels en kortverhale skryf, en as ek ’n boek kon skryf, sou dit lekker wees.” Wanneer mens op die laaste bladsy van Rebekka van Kameeldoornplaas kom, is dit baie duidelik dat die karakters se storie nog lank nie klaar is nie. ’n Mens wonder of dit ook die eerste boek van ’n trilogie gaan wees? “Nee jong, op my ouderdom belowe ’n mens nie meer ’n trilogie nie,” lag sy. “Maar, ’n tweeluik, beslis. Die volgende boek gaan waarskynlik in Libanon begin, en fokus op die onstuimige jare van 1922 tot 1924.”
Lesers moet maar geduldig wag om uit te vind waarheen Bekkie se avonture haar volgende gaan neem. “Ek het die idee vir Rebekka in 2020 gekry, en die boek het eers nou in 2026 verskyn. So, dit is maar ’n lang proses en die manuskrip gaan ook deur baie mense se hande voordat dit uiteindelik gedruk word en op boekwinkels se rakke pryk.”







