Skrywer: Karla Janse van Vuuren
As ek die konsep van ‘oos wes tuis bes’ moes bak, sou ek pannekoek maak.
Ek het nooit my skoonma ontmoet nie, want sy is in 2003 oorlede, ’n paar jaar voordat ek my wederhelf ontmoet het. My skoonsusters het vir my haar pannekoekresep gegee. Wanneer ek dit maak en daardie eerste donsige pannekoek begin oppof in die pan, voel ek ’n konneksie met die vrou wat my wonderlike man grootgemaak het. Met daardie eerste hap van ’n vuurwarm pannekoek, met die kaneelsuiker wat knars onder my tande, sê ek vir haar dankie vir my ‘oos wes tuis bes’!
Dié resep maak lekker baie pannekoeke, ’n moet in my huis. Hulle is heerlik dik en ewe lekker met soet of sout vulsels. Vir die perfekte wintertrooskos, gebruik die pannekoek as basis vir ’n vullende, smullekker oondgebakte hoendergereg. Ek belowe, daar gaan nog baie deeg oorbly vir ’n hele hoop kaneelsuiker-pannekoeke.
Pannekoek-gebak met hoendermayo-vulsel
Vir die pannekoeke:
4 koppies koekmeel
4 teelepels bakpoeier
1 teelepel sout
4 eiers, geskei
1 koppie sonneblomolie
1 eetlepel witasyn of suurlemoensap
500 ml water
500 ml melk
Vir die vulsel en bolaag:
500 g hoenderfilette, in stukkies gesny
Olyfolie
Sout, peper en gemengde kruie
125 ml romerige mayonnaise (jy kan hier ook meer of minder byvoeg na smaak)
15 ml vars suurlemoensap
50 g botter
50 g meel
1 koppie melk (voeg ekstra by indien jy ‘n dunner sous verkies)
5 ml Dijon-mosterd
250 ml gerasperde beleë Cheddarkaas, plus ekstra vir bo-oor strooi
Metode
- Maak die pannekoekbeslag: Meng die droë bestanddele in ‘n groot mengbak. Klits die eiergele, olie, asyn, water en melk saam.
- Voeg die nat bestanddele by die droë bestanddele en meng deeglik totdat daar geen klonte in die beslag is nie. Indien die beslag te dik is, voeg nog ‘n bietjie water of melk by.
- Klits die eierwitte tot stywe punte vorm. Vou dit versigtig met ‘n groot metaallepel by die beslag in totdat dit net gemeng is – moenie die lug uit die eierwitte uitwerk nie. Pas die dikte van die beslag aan met nog melk of water indien nodig. Bedek en laat die beslag sowat 30 minute rus.
- Maak die vulsel terwyl die beslag rus: Braai die hoender in ‘n bietjie olyfolie totdat dit gaar is en geur met sout, peper en gemengde kruie. Laat afkoel en kap fyn.
- Meng die hoender met die mayonnaise en suurlemoensap. Proe en pas die geurmiddels aan indien nodig.
- Maak die kaassous: Smelt die botter, roer die meel by en voeg die melk geleidelik by terwyl jy aanhoudend roer totdat die sous glad en verdik is. Roer die kaas en mosterd by, proe en geur met sout en peper.
- Verhit ‘n pannekoekpan en smeer dit liggies met olie vir die eerste pannekoek. Gooi genoeg beslag in om die bodem van die pan te bedek. Bak totdat borrels op die oppervlak vorm en die beslag gestol lyk. Draai om en bak nog ongeveer ‘n minuut. Bak agt pannekoeke en vou elkeen in ‘n driehoek (vou dit eers in die helfte, en dan weer in die helfte), gereed om te vul.
- Skep ‘n ruim lepelvol van die hoendermengsel in elke pannekoek (lig die boonste deel van jou driehoek op, daar sal ’n lekker holte wees, perfek vir vul). Pak die gevulde pannekoeke in ‘n oondvaste bak. Giet die kaassous bo-oor en strooi nog gerasperde kaas oor.
- Bak teen 180 °C vir ongeveer 20 minute, of totdat die kaas goudbruin en borrelend is. Bedien dadelik met nog ‘n skeut vars suurlemoensap.







