Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Met haar klassieke musiekagtergrond, liefde vir die klavier en ’n natuurlike aanvoeling vir eerlike storievertelling, is Lizl Simoes besig om haar eie plek in die Afrikaanse musieklandskap te vind. Die musiek wat sy skep beweeg gemaklik tussen sensitiewe ballades, kontemporêre pop en persoonlike lirieke wat iets van haar innerlike wêreld verklap. Met haar enkelsnit Muurblom stel sy haarself bekend as ’n kunstenaar wat nie bang is om kwesbaarheid, selfontdekking en die stil oomblikke van menswees te verken nie.
Afrikaans.com het met Lizl gesels oor haar musikale reis, die inspirasie agter haar unieke styl en die drome wat sy vir die volgende hoofstuk van haar loopbaan koester.
Lizl vertel dat sy haar hele lewe lank nog in Pretoria bly, en baie lief is vir die stad. “Ek het ’n ouer broer en ’n skoonsussie wat basies my regte suster is. Ek was by Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria (of Affies) en voor dit by Laerskool Pretoria-Oos, waar ons nog kaalvoet skool toe gegaan het. Ek het in 2020 gematrikuleer en die volgende jaar by Tukkies my BMus-graad begin, wat ek in 2024 voltooi het. Ek is tans besig met my meestersgraad in musiek. Ek is ook in 2024 getroud!”
Haar liefde vir musiek, voel sy, is saam met haar gebore.
“Ek wou nog altyd sing. Dit het begin by ’n Dana Winner-DVD wat ek omtrent woord vir woord kon saamsing. En toe Juanita du Plessis. Dié liefde vir musiek is ook aangevuur deur my ouma wat altyd klavier gespeel en gesing het. Ek het met musiek grootgeword en my ouers het hul bes probeer om elke geleentheid vir my en my broer te skep om musiek te kan maak.”
Lizl se deurbraak het gekom toe sy as een van ATKV-Crescendo se 2026-opnamekunstenaars gekies is. Sy is saam met Mark Pekeur, Salvador Mouers en Tamryn Paulse uit die organisasie se 2025-mentorprogram gekies. Die program bied jong kunstenaars mentorskap, verhoogblootstelling, professionele ontwikkeling en die geleentheid om oorspronklike musiek te ontwikkel en op te neem. Lizl is in dié program bekendgestel as ’n pianis, meestersgraadstudent, liedjieskrywer en sanger.
Oor haar musiekstyl, sê sy dat sy altyd haar horisonne probeer verbreed. “Ek luister graag na nuwe style en luister ook na ’n groot verskeidenheid musiek. Soms help ’n sekere styl meer om ’n boodskap oor te dra as ’n ander en dit is lekker om só vrylik musiek te kan maak en te verken.” Haar musikale kreatiwiteit is ook duidelik in die feit dat sy graag haar eie musiek skryf. “My inspirasie kom meestal uit my eie ervarings uit. Musiek is my dagboek, so alles waaroor ek skryf is eg uit my eie lewe. Verder vind ek inspirasie in my geloof en die pad wat ek met die Here stap en, natuurlik, die liefde! Ek is immers nog ’n jonggetroude,” lag sy.
Lizl se splinternuwe enkelsnit, Muurblom, is onlangs uitgereik.
Dit is ’n goeie voorbeeld van hoe persoonlik haar musiek en liedjies is: “Muurblom” handel oor ’n ‘muurblom’ – iemand wat skaam en teruggetrokke is en die kollig vermy – wat uitvind dat muurblomme ook blomme is wat moet blom. Dit is die besef dat nie almal op dieselfde manier gaan of kan blom nie, maar dat jóú unieke manier van blom ’n besonderse deel van die lewe se tuin vorm.”
Muurblom is ook reeds benoem as Beste Nuweling Enkelsnit by die Afri-Indie Onafhanklike Kunstenaarstoekennings. Dié benoeming was beslis vir haar ’n hoogtepunt in haar loopbaan sover, vertel Lizl. “Omdat my musiek so persoonlik is, het ek regtig soos ’n muurblom gevoel. Met die ATKV-Crescendo-slypskool het ek begin voel asof ek blom en in my eie posisie in hierdie lewe intree. Om genomineer te word met Muurblom is só ongelooflike groot voorreg en ek is dankbaar dat ander ook daarby aanklank kon vind.”
Haar volgende enkelsnit, Ek Wens, is ook reeds uitgereik en daar is nog drie wat binnekort vrygestel gaan word.
“My grootste droom is om voltyds musiek te kan maak. Ek voel die meeste soos myself op die verhoog. Die volgende groot gebeurtenis in my loopbaan vind op 23 September plaas wanneer ek by die Centurion-teater my kunstenaarsvrystelling saam met Joshua na die Reën doen.” Dit is ook vir haar ’n droom wat waar word, want sy is self ’n groot aanhanger van Joshua na die Reën.
Al is Lizl self ’n jong kunstenaar, is sy reeds as klavierjuffrou besig om terug te ploeg in die volgende generasie musikante. “Dit beteken so baie om dié werk te kan doen. Almal kom uit verskillende omstandighede uit en almal het hul eie laste om te dra, maar musiek maak dit soms net bietjie ligter. Dit is ’n voorreg om hierdie wonderlike wêreld met hulle te kan deel en ek hoop net om hulle te inspireer so ver as wat ek kan, dat daar oor tyd ’n passie daarvoor, eerder as blote verpligting, sal ontwikkel.”








