Skrywer: Skrywer: Marie Brumm
Ria se koeksisters
Ria se koeksisters is ’n gunsteling in die Karoo Manna-kookboek (bladsy 209), maar vir hierdie resep gooi ons die appelkar ’n bietjie om en maak ons koeksisterballetjies. Twee koeksisterballetjies is gelykstaande aan een koeksister, so niemand kan ’n skewe oog gooi as jy jou vierde balletjie aandurf nie.
BESTANDDELE
Stroop
4 k suiker
2 k water
¼ t sout
½ t kremetart
1 suurlemoen, in skywe gesny
Koeksisters
2 k koekmeel
knippie sout
3 t bakpoeier
20 ml sagte botter
¾ k water
olie, vir diepbraai
METODE
- Plaas al die bestanddele vir die stroop in ’n kastrol oor lae hitte, roer tot die suiker gesmelt is en prut vir ongeveer 3 minute.
- Meng die koekmeel, sout en bakpoeier in ’n mengbak, en vryf die botter daarby in.
- Giet die water bietjie vir bietjie by tot jy ’n maklik hanteerbare deeg het – nie te styf en nie te slap nie.
- Knie die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak. Laat dit dan rus vir minstens 1 uur in die somer of oornag in die winter. (Dis nie nodig om dit in die yskas te sit nie.)
- Rol die deeg ongeveer 1 cm dik uit, sny in blokkies en rol die blokkies in balletjies.
- Voorverhit die olie tot ongeveer 180° C.
- Braai die koeksisterballetjies in sarsies in die olie tot goudbruin aan albei kante. Gebruik ’n vurk om hulle om te draai.
- Sodra die koeksisterballetjies mooi bruin en gaar is, haal hulle uit die olie met ’n gaatjieslepel en dompel hulle dadelik in die koue stroop. Hou hulle onder die stroop deur ’n groot lepel bo-op te sit tot die volgende klompie uit die olie kom.
- Haal die koeksisterballetjies uit die stroop en laat afdrup.
WENK: Maak die stroop ’n dag tevore sodat dit goed kan afkoel. Hierdie koeksisters se stroop moet yskoud wees wanneer hulle daarin gedoop word.







