Resep deur: Karla Janse van Vuuren
Drie gunstelingsmake in een koekie
Ons almal het ons staatmakerresepte, en die resep wat ek vandag deel is een van myne, en ons kom al ’n lang pad saam! Die oorspronklike resep het verskyn in die kosblogger Alida Ryder se boek Heerlik & Maklik wat in 2012 gepubliseer is. Ek het die resep volgens my eie smaak aangepas, en vandag bak ek seker weekliks ’n baksel van hierdie smullekker koekies. Ek het dit selfs in 2019 vir een van my sussies se troue gebak en ons het dit vir die gaste as ’n dankie-sê-geskenkie gegee.
Wanneer ek met sjokolade bak, gebruik ek altyd goeie gehalte sjokolade, nooit baksjokolade nie. Die smaak van jou gebak hang baie af van dit wat jy insit, en as jy goeie gehalte sjokolade in hierdie resep gebruik, gaan mense wonder wat is jou geheim, en nog ’n koekie (of twee) neem. Ek kap die sjokolade lekker grof, sodat die koekies hompe sjokolade bevat, nie net splinters nie!
Drie van my gunstelingsmake (wat ook wonderlike pasmaats is) is koffie, kaneel en sjokolade. Die koffie komplementeer die sjokolade, en die kaneel sorg vir ’n sweempie nostalgie en net daardie ekstra ‘iets’ wat die koekies so onvergeetlik maak. In hierdie koekies kom hulle bymekaar om iets te skep wat so lekker is, dat jy beslis nie net een sal kan eet nie. Daarom maak ek die koekies klein, net so twee happies, want dan voel ’n mens nie te skuldig as jy twee of drie verorber nie.
Sjokolade-, koffie- en kaneelkoekies
Maak sowat 36 klein koekies (jy kan die resep ook maklik verdubbel)
125 g botter, by kamertemperatuur
100 g ligte bruinsuiker
50 g witsuiker
1 groot eier
2,5 ml vanieljegeursel
2,5 ml kaneel
5 ml espresso-koffiepoeier
175 g koekmeel
2,5 ml koeksoda
1 ml sout
160 g (twee plakke) sjokolade – een melk- en een donkersjokolade (ek gebruik graag Cadbury’s)
Metode
- Klits die botter en beide suikers saam tot lig met jou elektriese menger.
- Voeg die eier en vanieljegeursel by en klits deeglik.
- Meng die kaneel, koffiepoeier, meel, koeksoda en sout en klits dit by die eiermengsel in.
- Kap die sjokolade grof en roer dit by die deeg. Plaas die deeg sowat ’n halfuur lank in die yskas sodat dit bietjie fermer kan wees voordat jy daarmee begin werk. Voorverhit intussen die oond tot 180° C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.
- Rol klein balletjies (sowat ’n teelepel vol) en plaas op die bakplaat. Spasieer hulle ongeveer 5 cm uitmekaar, want hulle word plat wanneer hulle bak.
- Bak ongeveer 10 minute of tot mooi goudbruin. Laat effens op die bakplate afkoel, en koel dan heeltemal af op ’n draadrak.
- Bêre die koekies tot ’n week lank in ’n lugdigte houer.







