Skrywer: Karla Janse van Vuuren
“Ek het nooit daaraan gedink of gedroom om eendag ’n voorkomskonsultant te word nie.
Inteendeel, ek het as tiener en student altyd ongemaklik in my eie lyf gevoel en nooit regtig geweet wat my styl is en waarvan ek hou nie.” Só vertel Jeanne Pistorius van Waterkloof in Pretoria aan Afrikaans.com. Sy is die vrou agter Kleurvol, ’n baie suksesvolle voorkomskonsultasie-onderneming.
“My agtergrond is eintlik in B.Sc. en blomme!” lag sy. “Ek het vir 11 jaar in die rigting van voeding en terapie gestudeer, en het ook vir 13 jaar met blomme gewerk, van troues tot kleinhandel. Die voedingsbedryf het my geleer hoe vrouens werk as liggaam, siel en gees — jy kan nie die een aspek van ’n vrou van ’n ander aspek van haarself isoleer nie. Blomme het my weer geleer om kleur, tekstuur en harmonie te waardeer en om ruimte te gee vir ’n kreatiewe uitlaatklep in die lewe.”
Uiteindelik het beide dié bedrywe en haar ondervinding daarin saamgevloei om Jeanne voor te berei vir Kleurvol, wat sy beskryf as haar “roeping en passie”. Die totstandkoming van haar voorkomskonsultasie-onderneming het ’n baie mooi storie. “Hoe meer my verhouding met God in my vroeë twintigs verdiep het, hoe meer het ek verstaan wie ek is aan die binnekant en hoe meer het dit moeiteloos geraak om uitdrukking daaraan te gee aan die buitekant. Dit was vir seker ’n binne-na-buite pad gewees om my persoonlike styl te ontdek.
“Ek het dit geniet om rond te speel met kleure, teksture en snitte, maar ek het steeds nie regtig geweet watter kleure of snitte spesifiek by my pas nie.
Ek het net geweet dat ek dit geniet om elke dag met my uitrusting te speel. Ek het drie jaar gelede myself professioneel laat analiseer deur ’n voorkomskonsultant, en sy tipeer my toe as ’n Helder Lente. Hoe vrolik! Ek was aanvanklik eers versigtig, want ek het gedink ek is ’n Herfs, maar hoe meer ek begin eksperimenteer het met Helder Lente, hoe meer het ek soos myself gevoel en gelyk. Skielik was daar lewe geblaas in my persoonlike uitdrukking, en ek het elke oomblik geniet.”
Jeanne sê soos wat sy haar lyftipe beter begin verstaan het, het sy met selfvertroue en baie vreugde elke oggend haarself laat blom van kop tot tone. “Vanuit hierdie vreugde, het ek begin ervaar dat ek dié geskenk aan ander vroue wil gee; ek kan dit net nie vir myself hou nie. Ek besef daar is soveel vroue wat nie weet wat vir hulle werk nie. Ek het gebid daaroor en die volgende Woord gekry by die Here:
‘Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word, en dit is die werk van die Here wat die Gees is’ (2 Korintiërs 3:17–18).
“Ek was eers verward, want die Skrif dui daarop dat Hy ons van binne na buite mooi maak (soos Hy ook met my persoonlik gewerk het) en toe openbaar Hy vir my dat Hy soms van binne na buite werk, maar Hy werk ook van buite na binne.”
Net daar het sy gaan rondsoek vir kursusse en ’n week later het sy ingeskryf vir ’n voorkomskonsultant- en stileerderkursus.
“Ek het nog nie een oomblik teruggekyk nie, en elke dag sê ek dankie vir Kleurvol. Hy ken ons innig en weet presies waarvoor Hy ons geskape het en in watter beroep ons sal floreer en eer aan Hom gee.”
Jeanne het aanvanklik in Engels begin werk as voorkomskonsultant, maar kort voor lank het sy besef dat haar moedertaal haar roep. “Ek het aanvanklik my bemarking op sosiale media in Engels gedoen en ek het na ’n ruk besef dat meer as 90% van my kliënte Afrikaans is en dat hulle moontlik makliker met my en my dienste gaan resoneer as ek oorskakel na Afrikaans. Ek het geleidelik oorgeskakel en nou is my sosiale media feitlik net in Afrikaans. Ek geniet dit vreeslik om in my taal te kan werk en ek is pedanties daaroor om nie my kliënte in ‘mengels’ te bedien nie. Ek het nie besef hoe maklik Engelse woorde inkruip totdat ek suiwer in Afrikaans begin werk het nie!”
Wat sy die meeste geniet van haar werk, is om die uitdrukking op ’n vrou se gesig te sien wanneer sy haarself in die spieël sien in die kleure wat haar moeiteloos laat mooi lyk. “Baie vroue kan nie eers vir hulself in die spieël kyk nie, wat nog te sê met sagte oë. Dis baie spesiaal om te sien hoe my kliënte ten volle blom met gesonde selfvertroue wanneer hulle die beginsels toepas wat vir hulle werk. Ek kry gereeld selfies wanneer my kliënte mooi voel en dit met iemand wil deel.”
Jeanne se wenke vir mooi lyk binne jou eie styl:
- Weet wat is jou kleurseisoen en lyftipe, sodat dit jou filter kan wees vir elke modegier.
- As die modegier-kleur nie in jou palet is nie, maar jy wil dit graag dra — dra dit van die middel af ondertoe. Dis ver genoeg van jou gesig om nie ’n negatiewe impak op jou gelaatstrekke te hê nie. Jy kan dan jou kleurseisoen nader aan jou gesig inbring.
- As die modegier-kledingstuk nie by jou lyftipe pas nie (bv. die huidige ‘barrel jean’-gier wat by baie min lytipes pas): As jy weet dis nie vleiend vir jou lyftipe nie, dan is dit maklik om verby te hou. Wie van ons wil nie items aantrek met vleiende snitte nie?
- As die modegier se kleur en/of snit wel in jou kleurseisoen val of harmoniseer met jou lyftipe: As dit pap reën, moet jy skep. Maak dalk jou begroting vir klere en bykomstighede bietjie meer as gewoonlik hierdie jaar/seisoen, want die items wat moeiteloos by jou werk, is volop beskikbaar en jy kan voorraad opbou vir die volgende paar jaar wanneer jy dit dalk nie in die hande gaan kry nie.
- Weet wie jy is en weet wat werk vir jou: Wanneer dit by persoonlike styl kom, is hierdie beginsels ’n stewige fondasie waarop jy kan bou. Wanneer jy ’n struktuur het wat persoonlik vir jou werk, kan jy binne die struktuur baie pret hê en lekker rondspeel.
Op die ou einde moet jy klere en kleure dra wat vir jou vreugde bring en wat jou soos jouself laat voel. As ’n modegier dus nie op papier by jou pas nie, maar jy is gek daaroor — koop dit en dra dit met selfvertroue … en sit tog ’n lippie aan in jou palet!







