Geskryf namens die AON deur Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Dis ’n algemene uitdaging vir onderwyseresse en ouers: jy sit met ’n mooi storieboek, begin lees met entoesiasme … en die kind is óf op pad êrens heen, óf besig om ’n karretjie rond te stoot, óf gereed om heeltemal onverwante vrae te vra.
Dit kan frustrerend wees — veral omdat ons weet hoe waardevol boekvoorlesings vir jong kinders se ontwikkeling is.
Moenie moed verloor nie. Hierdie gedrag is dikwels heeltemal normaal, en daar is maniere om te help.
Waarom luister jong kinders dikwels nie?
Baie kinders onder vier sukkel om lank stil te sit – en dis nie ongehoorsaamheid nie. Die breinareas wat hul uitvoerende funksies beheer moet nog bedraad word – en hulle is gevolglik nog beginners wat konstentrasie en impulsbeheer betref. Na die vierde verjaarsdag vind daar gewoonlik ’n merkbare sprong plaas, en teen 5½ kan die meeste kinders vir sowat 25 minute aandagtig luister.
Onthou die aandag-reël:
- 5 minute vir ’n 2-jarige
- 10 minute vir ’n 3-jarige
- 15 minute vir ’n 4-jarige
- 25 minute vir kinders ouer as 5½
Wat mis kinders as ons opgee en ophou voorlees?
- Hulle mis die geleentheid om te oefen om prentjies in hul geestesoog voor te stel.
Wanneer kinders na prente (statiese illustrasies) kyk terwyl ’n storie voorgelees word, gebruik hulle die prente as vertrekpunt om die karakters en die wêreld waarin die storie afspeel te visualiseer. So leer hulle om gebeure en begrippe in hul verbeelding voor te stel – ’n kernvaardigheid wat hulle later in hul lewens sal nodig kry vir kreatiewe denke, wiskunde en hoër-orde redenasie. Hierdie vermoë – bekend as visuele konsepvorming – ontwikkel nie wanneer kinders na bewegende karakters op ’n skerm kyk nie omdat die animasie dan al die werk namens hul breine doen, en daar dus geen verbeelding nodig is nie.
- Hul taalvaardigheid en woordeskat ly skade.
Kinderboeke bevat unieke sinskonstruksies en woorde wat selde in alledaagse gesprekke voorkom. Kinders moet ’n aanvoeling vir hierdie “boeketaal” ontwikkel om eendag vlot te lees en hulself met selfvertroue in geskrewe taal uit te druk. Navorsers het bevind dat kinders aan baie meer skaars woorde blootgestel word tydens boekvoorlesings as tydens gesprekke met volwassenes – selfs meer as in opvoedkundige televisieprogramme. Herhaling van gunstelingboeke versterk hierdie leerproses nóg meer, omdat kleurryke woorde dan boonop ook in bekende kontekste herhaal word, wat begrip en geheue bevorder.
- Hulle mis die geleentheid om hul vermoë om te konsentreer en hul geheue ’n hupstoot te gee.
Stories in boeke ontvou bladsy vir bladsy, en dit beteken dat kinders moet onthou wat vroeër gebeur het om te verstaan wat noú gebeur. Elke keer wat ’n storie aan hulle voorgelees word oefen hulle hierdie vermoë, en word hul werksgeheue uitgebou – ’n sleutelvereiste vir skoolgereedheid.
Kinders aan wie daar gereeld voorgelees word leer om met begrip te luister, te onthou wat hulle gehoor het, en dit terug te vertel.

Wenke
- Illustrasies is aanvanklik belangriker as teks. Ons het gesien dat prente verbeelding stimuleer en jong kinders help om woorde te verstaan en begrippe te visualiseer. Dit is besonder belangrik, so – as dit nodig is – fokus vir eers net op die prente en verkort die teks, of vertel die storie kortliks.
- Maak seker jou woorde pas by die prent. As daar twee prente op ’n dubbelblad is, bedek die een wat nie ter sake is nie om dit vir jou kind maklik te maak om te weet waar om te kyk.
- Jong kinders het boeke nodig wat min teks het. ’n Goeie maatstaf vir peuters en kleuters is dat daar een sin per illustrasie vir elke jaar van die kind se ouderdom moet wees. Verkort die teks indien nodig, of vertel die storie in jou eie woorde. Maar onthou om heelwat kleurryke woorde te behou. Hou ook in gedagte dat kinders makliker fokus op teks wat baie ritmies is – veral as dit boonop ook rym.
- Laat toe dat jong kinders se hande beweeg. Dit geld nie vir alle kinders nie, maar sommige peuters luister eenvoudig beter wanneer hulle iets in hul hande mag vashou. Baie ouers rapporteer selfs dat hul kinders aktief luister terwyl hulle met iets speel – en net nou en dan na die prente kyk. Dit is nie ’n ideale opset nie, maar dit is ’n begin.
- Kies fokuswoorde vir vaslegging. Kinders se woordeskat verbreed baie vinniger wanneer ’n mens fokuswoorde identifiseer wat in gewilde storieboeke voorkom – wat jy dan doelbewus in alledaagse gesprekke herhaal. Dis veral nuttig vir kinders wat twee tale tegelyk aanleer.
- Moenie bang wees vir kort sessies nie. Vyf goeie minute is beter as twintig frustrerende minute. Lees eerder meer gereeld.
- Beklemtoon wat in die prente gebeur. Terwyl jy voorlees, gebruik handbewegings om te wys hoe karakters en voorwerpe beweeg – soos ’n padda wat spring of ’n boot wat duik. Of maak die klanke na wat ’n mens sou hoor as jy in die illustrasie sou wees. Jy kan ook uitbeeld wat die karakters doen om die storie te dramatiseer – soos iemand wat ’n deur oopmaak, ’n geskenk toedraai, of bewe van die koue.
- Speel speletjies met die illustrasies. Kies ’n baie bekende boek met die uitsluitlike doel dat julle met een of meer van die illustrasies gaan speel – sonder om die boek te lees. Soek die aksie: Gee voor dat jy iets doen en laat jou kind wys waar iemand in die prent dieselfde aksie uitvoer. Soek die voorwerp: Teken ’n eenvoudige sketsie van iets wat in die prent voorkom. Vra jou kind om te sê wat dit is, en dit dan te soek. En sê soms op die ou trant iets soos: “Ek sien met my kleine ogies … iets wat rooi is en bons wanneer jy dit laat val.”
- Skep ’n voorleeshoekie. Gebruik sagte kussings, ’n mat om op te sit, en boeke wat só uitgestal word dat die voorblaaie sigbaar is.
- Gebruik handpoppe en verander jou stem om aan die karakters lewe te gee. Dis nog ’n vorm van dramatisering wat die storie meer lewendig maak en die kinders help om langer en dieper te konsentreer.
- Laat die kinders kies. Keuse verhoog betrokkenheid en gee vir kinders ’n gevoel van beheer.
- Vra vrae wat hulle laat nadink. Voorbeelde sluit in: “Wat het gebeur?” / “Wat gaan nou gebeur?” of “Hoe voel ___ (die naam van ’n karakter) nou?”
Kontak gerus vir Wilna van Rooyen via Wilna@aonetwerk.co.za vir meer inligting.
Verwysing 1. Hayes, D.P., “Speaking and Writing: Distinct Patterns of Word Choice”, Journal of Memory and Language, Volume 27, p 572-585, (1988)
Hierdie artikel is met vergunning van die AON geplaas. Vir meer inligting, besoek hul webtuiste: https://aonetwerk.co.za/







