Skrywers: Annelie van Jaarsveldt & Estie Lippiatt
As volwassenes het die meeste van ons waarskynlik deur die jare geleer om ons emosies te herken, dit te bestuur, ander se emosies te “lees” en op gepaste wyse daarop te reageer. Emosionele regulering is egter nie iets waarmee ons gebore word nie, en tog is dit een van die belangrikste vaardighede wat ’n kind moet ontwikkel en oefen. Selfregulering ontwikkel nie in isolasie nie. Dit ontstaan binne veilige verhoudings waar kinders geleidelik leer om na hulle eie liggaam, gevoelens en die mense rondom hulle te luister. Luistervaardighede speel ‘n belangrike rol in hierdie proses omdat dit kinders help om instruksies, emosies en sosiale leidrade beter te verstaan. Afrikaans.com het gaan aanklop by arbeidsterapeut, Estie Lippiatt, om van hierdie begrippe aan ons te verduidelik en haar ook gevra om te help met wenke oor hoe ouers hulle kinders op prettige maniere met luistervaardighede en uiteindelik ook selfregulering kan help.
Wat is selfregulering in kinders?
Dit is die kind se vermoë om sy gevoelens of emosies, sy denke en gedrag te herken, te verstaan en om dit te verwoord en uiteindelik op gepaste wyse daarop te reageer.
Selfregulering is egter nie selfbeheer nie. As ons net op selfbeheer konsentreer, kan dit gebeur dat die kind huiwerig is om sy ware gevoelens te wys. Hy steek dit agter ‘n “masker” weg, maar die emosies self word nie hanteer nie. Die kind het op daardie oomblik nie toegang tot hoër denke en probleemoplossing nie en kan nie dink aan die gevolge nie.
Sê Estie: “Selfreguleringsvaardighede ontwikkel geleidelik vanaf geboorte en word deur die kinderjare verder verfyn met ondersteuning van ouers, versorgers en opvoeders. Die vermoë om stil te staan, te dink oor wat ons voel en dan ‘n gepaste reaksie te kies, vind grotendeels plaas in die frontale lob van die brein – ons “dinkbrein”. Hierdie deel van die brein ontwikkel steeds tot in ons middel-twintigs. Daarom is koregulering (gesamentlike regulering met die hulp van ’n volwassene) so belangrik. Wanneer volwassenes kinders help om te kalmeer, gevoelens te verstaan en probleme op te los, leen ons as’t ware ons “dinkbrein” aan die kinders totdat hulle hierdie vaardighede geleidelik self kan ontwikkel.”
Selfregulering is nie perfeksie nie – dit is ’n ontwikkelingsreis.
Estie verduidelik dat kinders nie selfregulering alleen leer nie, maar dat dit ontwikkel deur duisende klein oomblikke van konneksie met ouers, opvoeders en ander belangrike volwassenes. Dit help hulle dan om gevoelens te verstaan, te benoem en te bestuur. “Wees dus daar vir jou kind en spandeer gehaltetyd saam met hom.”
Hoekom is luistervaardighede in kinders belangrik?
Kinders wie se luistervaardighede nie behoorlik ontwikkel is nie, kan sukkel om instruksies te volg wat tot frustrasie en swak gedrag kan lei. Dit het gewoonlik ook ‘n impak op hulle taalvaardighede wat dan leer en prestasie negatief kan raak.
Wanneer kinders baie ontsteld, kwaad of oorweldig voel, is dit dikwels moeilik vir hulle om toegang tot taal, probleemoplossing en logiese denke te kry. Estie verduidelik dit so: “In hierdie oomblikke neem die emosionele deel van die brein oor en die “dinkbrein” is minder beskikbaar. Daarom kan ’n kind wat normaalweg goed kan praat, redeneer en luister, skielik sukkel om sy gevoelens in woorde uit te druk.
“Dis is juis waarom koregulering so belangrik is. Die rol van die ouer of versorger is nie om die kind onmiddellik te probeer reghelp of om met hom te rederneer nie, maar om hom veilig te hou en kalm ondersteuning te bied totdat die intense emosie bedaar. Eers wanneer die kind weer gereguleer voel, kan hy toegang kry tot taal, luistervaardighede, refleksie en probleemoplossing.”
Estie sê ook dat kinders met verloop van tyd leer om die vroeë tekens van frustrasie, angs of oorweldiging in hul liggame raak te sien. Wanneer hulle dan later ook die woordeskat het om hierdie gevoelens te benoem, word dit makliker om strategieë te gebruik voordat hulle heeltemal disreguleer (onbeheersd) raak.
Maar wat is luister en luistervaardighede?
Om te luister is nie net om fisies te hoor wat daar gesê word nie. Dit is die sleutelvaardigheid wat kinders nodig het om selfregulering te ontwikkel.
Sterk luistervaardighede help kinders om instruksies te prosesseer, emosies te verstaan en in die teenwoordigheid van ’n volwassenes te reguleer, wat op sy beurt impulsbeheer, emosionele selfbeheersing en probleemoplossing ondersteun. Sonder effektiewe luister, slaag selfreguleringstrategieë dikwels nie.
Hoekom maak luistervaardighede in selfregulering saak?
- Emosionele steun. Die kind het ’n veilige ruimte waarbinne hy uiting aan sy gevoelens kan gee omdat die ouer of opvoeder rustig na hom luister en hom op ’n nieveroordelende wyse help om die intense emosies wat hy ervaar, te verstaan en te beheer.
- Kognitiewe ontwikkeling. Luister verbeter aandag, geheue en redenasie (denkvermoë). Hierdie kognitiewe vaardighede is noodsaaklik vir selfregulering.
- Taal en kommunikasie. Luister ondersteun woordeskatuitbreiding en die vermoë om gevoelens verbaal uit te druk sodat die kind dit uiteindelik makliker vind om sy emosies deur woorde eerder as aksies/optrede te reguleer.

Luister teenoor selfregulering – twee ertjies in dieselfde peul
| Die rol wat luister speel | Impak op selfregulering | |
| Emosionele bewustheid | Dit help die kind om emosies te herken en dit te benoem. | Maak kalmeringstrategieë en empatie moontlik. |
| Impulsbeheer | Dit vertraag emosionele tempo, m.a.w. impulsiewe optrede. | Verminder aggressie en oorhaastige besluite en reaksies. |
| Probleemoplossing | Dit help met begrip, hoër denke en redenasievermoë. | Moedig deurdagte respons aan. |
| Sosiale interaksie | Dit bou konneksies, verhoudings en vertroue. | Ondersteun regulering binne groepsverband. (Die kind saam met die ouer, opvoeder, oppasser of maats.) |
Wat kan ouers doen om hulle kinders se luistervaardighede te versterk?
Aktiewe luister-roetines: Gebruik storievertelling, liedjies, rympies en gerigte geselsies (wanneer julle byvoorbeeld iets saam doen) om die kind se aandag vas te vang en woordeskat uit te brei.
Gesamentlike regulering (koregulering): Bly kalm en luister aandagtig na jou kind tydens emosionele episodes en lei deur jou eie voorbeeld.
Gestruktureerde strategieë: Beweeg na ‘n stiller omgewing, vra die kind om voorwerpe rondom julle te identifiseer en herhaal instruksies duidelik.
Woordeskatuitbreiding: Moedig die kind aan om sy belewenisse wat tot sy emosies gelei het, oor te vertel om sodoende betekenis aan sy emosies te verleen.
Hoekom is dit belangrik dat ’n kind selfregulering kan toepas?
- Akademiese sukses: Hy kan fokus, reëls volg en deurdruk met take of opdragte.
- Sosiale vaardighede: Hy maak maklik vriende en behou vriendskappe omdat hy weet hoe om ander se emosies te “lees” en sy eie moontlike frustrasies te hanteer en dus saam met ander te werk.
Hoe kan ouers help?
Reguleer jou eie optrede: Kinders leer deur volwassenes dop te hou.
Leer jou kind om sy eie probleme op te los: Jy hoef nie elke probleem namens jou kind op te los nie. Op die manier leer hulle om nie maklik tou op te gooi nie en leer hulle meer oor probleemoplossing.
Praat oor emosies: Help jou kind om sy gevoelens te verwoord: “Ek is hartseer”, “Ek voel gefrustreerd”, “Ek is sommer vies”. So kry die gevoel ’n naam en is dit makliker om daaroor te praat.
Leer jou kind oor sy brein: Help jou kind verstaan dat almal soms groot emosies ervaar. Wanneer ons baie kwaad, bang of oorweldig voel, kan ons ons deksel verloor (“flip our lid” – dit verwys na die navorsing en ontwikkeling wat dr Dan Siegel hieroor gedoen het – Flipping your lid). Dit verduidelik wat dit beteken wanneer die emosionele deel van die brein oorneem en hoe die “dinkbrein” wat ons help om te luister, probleme op te los en goeie besluite te neem, tydelik minder beskikbaar raak. Wanneer kinders hierdie konsep verstaan, raak dit makliker om hul gevoelens raak te sien en reguleringstrategieë te gebruik voordat die emosies te groot raak. (Kyk gerus na die video onderaan die artikel vir ’n eenvoudige verduideliking van hierdie konsep.)
Asemhalingstegnieke: Diep asemhaling wanneer ’n mens emosioneel oorweldig voel, help dikwels om net weer geanker te voel. Dalk is dit iets eenvoudig wat die emosie veroorsaak het, bv. die kind sukkel om ’n legkaart te bou en raak gefrustreerd. Deur hom te leer om stadig in en uit asem te haal, kalmeer hy en kan hy dan weer probeer.
Oefen geduld: Speel speletjies waar jou kind gedwing word om sy beurt af te wag, of moet wag totdat sy maatjie klaar gespeel is met die speelding wat hy graag wil hê.
Skep roetine: Kinders voel veilig wanneer hulle weet wat volgende gaan gebeur en dit is dan ook vir hulle makliker om oorgang te hanteer.
Moedig probleemoplossing aan: Vra vrae soos: “Wat dink jy kan ons ook probeer?” – in plaas daarvan om onmiddellike oplossings te gee.

Hier is ’n paar voorbeelde van prettige aktiwiteite:
Kleursones: Gebruik kleur om emosies voor te stel. Laat die kinders gesiggies of prenties teken wat emosie weergee en help hulle om so hul gevoelens te identifiseer en te verwoord. Blou = hartseer, groen = kalm, geel = laf, rooi = kwaad.
Emosiewiel: Maak ’n wiel wat kan draai en waarop verskillende emosies uitgebeeld is. Die kind kry die kans om die wiel te draai en hy moet dan gesels oor die emosies waarop die wiel tot stilstand gekom het. Op die manier word sy emosionele woordeskat uitgebrei.
Rolspel en handpoppe: Verskillende situasies kan uitgebeeld word en die kind kan dan handpoppe gebruik om ’n emosie aan die situasie toe te ken. Byvoorbeeld: frustrasie, ongeduld, hartseer of blydskap. Die kind oefen so op ’n veilige manier sy reaksie op die situasie.
Sensoriese speletjies: Die kind dans op musiek en moet vries wanneer die musiek ophou. Dit leer impulsbeheer en luistervaardighede.
Skep ’n kalm hoekie: Dit is ’n plek waar julle saam kan gaan sit wanneer jou kind oorweldig voel. Met verloop van tyd kan die kind leer om hierdie strategie self te gebruik. Gee die kind toegang tot stresballe, komberse met gewigte in om diepdruk toe te pas, en so meer. (Kyk ook na die video onderaan die artikel vir meer hieroor.)
Rolspel: Dink aan verskillende uitdagings waaraan die kind blootgestel kan word en vra hom om dit in rolspel uit te beeld, soos om in ’n ry te wag, of om ’n speletjie te verloor. Oefen dan gepaste strategieë om die situasie te hanteer.
Vertel stories: Dink aan karakters wat groot emosies moet hanteer en kry saam oplossings daarvoor.
Bordspeletjies: Dit leer geduld, om jou beurt af te wag en om teleurstelling te hanteer as jy dalk verloor. “Slangetjies en leertjies” is ’n goeie voorbeeld.
Bewustheidspeletjies: Dit kan eenvoudig wees soos om te luister na ’n klokkie totdat die klank wegraak, of om vyf dinge in die kamer te identifiseer en te benoem. Dit leer die kind om te fokus op dinge buite die liggaam en sodoende te kalmeer.

Wenke vir ouers:
- Hou die sessies kort en prettig – nie langer as tien minute vir die jonger kinders nie.
- Praat agterna daaroor. Vra: “Hoe het dit gevoel toe jy moes wag?” of “Wat het jou gehelp om te kalmeer?”
‘n Laaste woord
Die mens se vermoë om homself te reguleer as ‘n volwassene ontstaan reeds in die kinderjare. Kinders wat leer om hulself op gepaste wyse te reguleer en emosionele intelligensie aanleer, vind dit makliker om as volwassenes betekenisvolle sosiale verbindings en verhoudings te kweek en vol te hou – ‘n vaardigheid wat veral in die werksplek saakmaak.
Omdat die kind vroeg reeds geleer het hoe om daardie ongemaklike gevoelens te hanteer, is sy impulsbeheer as volwassene net soveel beter. So ’n persoon is gewoonlik geduldiger, meer buigsaam, bedagsaam en toon empatie met ander, sonder om noodwendig die ander persoon se gedrag te “aanvaar” of goed te keur.
Diegene met swak selfreguleringsvaardighede het dikwels ook ‘n gebrekkige selfbeeld, ’n gebrek aan selfvertroue en sukkel om stres te hanteer. Dit kan ook tot ander geestesgesondheidsprobleme lei.
Wanneer ’n mens se selfregulering in plek is, is dit soveel makliker om kalm te bly onder druk, teleurstellings te oorkom en nie tou op te gooi nie, maar elke uitdaging eerder as geleentheid te sien.
Estie sluit af:
“Ons kan nie altyd kies wat met ons gebeur nie, maar ons kan leer hoe om daarop te reageer. Hierdie vaardigheid ontwikkel nie oornag nie – dit groei deur veilige verhoudings, oefening en die ondersteuning van mense wat ons help wanneer groot emosies oorneem.”
Kyk ook die volgende video’s:
Wat gebeur in die brein wanneer die kind sy deksel verloor (flip his lid). Klik hier: Dr. Dan Siegel’s Hand Model of the Brain “Don’t Flip Your Lid” – Aimée Lim-Miller, LICSW en klik op die video in die artikel.
Leer meer oor hoe om ’n kalm hoekie te skep. Klik hier.
Lees ook ons artikel oor BrainTribe op Afrikaans.com en hoe die program jou en jou kind kan help met emosionele bekwaamheid en intelligensie. Klik hier.
Lees meer:
Help jou kind om hulself te leer reguleer – Afrikaans.com
Emosionele intelligensie. Ouers, maak julle ’n emosioneel intelligente kind groot? – Afrikaans.com







