Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Elke dag kom ons in aanraking met mense van verskillende agtergronde en persoonlikheidseienskappe en veral emosionele bekwaamheid en intelligensie. Dit is hoekom dit so belangrik is om van kleins af emosies te herken en om daaroor te praat; om emosioneel bekwaam te word sodat ons weet hoe om ons eie en ook ander se emosies “intelligent” te hanteer.
Emosionele intelligensie ondersteun ‘n kind se emosionele welstand, verbeter hulle vermoë om te kommunikeer en gee hulle die vaardighede om selfbeheersing toe te pas. So ‘n kind kan uitdagings beter hanteer, vind dit makliker om positiewe verhoudings met ander te hê en ontwikkel ook veerkragtigheid.
Kinders wat nie leer om hul emosies te herken en uit te druk nie, kan ontwikkel in volwassenes wat hulle gevoelens onderdruk en hulle eie behoeftes ignoreer. Hierdie patroon van selfverwaarlosing en emosionele onderdrukking kan lei tot chroniese stres, wat die immuunstelsel verswak en die risiko vir siektes verhoog. – Dr. Gabor Maté
Sosiale en emosionele vaardighede moet aangeleer word
Ons word egter nie met sosiale en emosionele vaardighede gebore nie en moet dit aanleer. Dit is waar ’n program soos BrainTribe ouers en onderwysers se taak sommer baie makliker maak. Wanneer kinders, ouers en onderwysers met BrainTribe se oulike karaktertjies kennis gemaak het en hulle prettige taal eers onder die knie het, raak dit ‘n tweede natuur om oor emosies te praat. Die eenvoudige BrainTribe-taal stel die kind in staat om sy angs, hartseer, woede, oorstimulasie en ander emosies raak te sien en te voel, maar belangriker nog, om dit ‘n naam te gee en daaroor te praat. Uiteindelik het die kind die woordeskat om daardie gevoel in sy binneste te beskryf en leer hy om dit te reguleer en hoe om daarop te reageer. Hy “lees” ook sy maatjies se emosies beter, verstaan sommer die boelie beter en weet hoe om dit te hanteer of te benader.
Dit is hierdie emosionele intelligensie wat veerkragtigheid ontwikkel sodat die kind uiteindelik ’n emosioneel intelligente volwassene raak. Iemand wat weet hoe om in die werkplek te funksioneer en die daaglikse uitdagings van die lewe te hanteer en uiteindelik sy eie kinders help om emosioneel die mas op te kom en oopkop en met empatie met ander om te gaan.
BrainTribe is meer as net nog ’n program. Dit is ‘n nuwe taal.
Dis ‘n taal wat kinders, ouers en onderwysers saam kan praat wanneer die lewe moeilik raak.
BrainTribe is ontwikkel vir die kind in graad R tot by graad 7. Die kind leer interaktief deur beweging en klank en leer uiteindelik op tasbare wyse “hoe om sy kop en hart saam te laat klop”. Saam met oorspronklike liedjies, bewegings en stories word moeilike konsepte eenvoudige, prettige ervarings wat kinders nog lank sal onthou.
- Dit is die plek waar jy en jou kind leer om dieselfde emosionele taal te praat.
- Dit is ‘n plek waar die kind hoër emosionele intelligensie en bekwaamheid ontwikkel.
- Dit is ‘n plek waar die kind lewensvaardighede ontwikkel.
- Dit is ‘n plek waar die kind saam met “BrainBuddy” en die ander lede van die “tribe” – Wagter die Waghond, Piet Papegaai, Bob Bobbejaan en Ou Koei – leer om uiteindelik beter besluite te neem.
- Dit is ‘n plek waar die kind leer om hulle sosiale- en emosionele selfbeskermingsvaardighede te verbeter.

BrainTribe fokus op emosionele bekwaamheid:
Die kind leer om sy emosies eerlik te voel, uit te druk en te verwerk sodat hy nie sy emosies onderdruk nie. Hy leer daarom om ander se gevoelens in ag te neem, terwyl hy terselfdertyd persoonlike grense stel en homself sagkens behandel.
BrainTribe fokus op emosionele intelligensie:
“BrainBuddy” leer jou kind meer oor selfbewustheid, selfregulering, empatie en sosiale vaardighede. As dinge moeilik raak, help “BrainBuddy” jou kind dus om kalm te bly. Die kind weet wanneer iemand kwaad of hartseer is en probeer die vrede bewaar, maar nie ten koste van hulle eie emosies nie.
Hoekom die vyf karakters?

BrainBuddy help kinders om te stop, dink en wys te kies.

Wagter die Waghond verduidelik waarom ons soms bang, kwaad of gespanne voel.

Piet Papegaai herinner ons aan die krag van herinneringe.

Bob die Bobbejaan wys ons hoe bekommernisse ons kan vasvang.

Ou Koei leer ons hoe negatiewe selfgesprek ons kan terughou.
Wat maak BrainTribe uniek?
BrainTribe word deel van ‘n skool of gesin se daaglikse taal. “Deur ons volhoubare Kosblik-program in skole, die aanlyn kursusse en Digitale Rugsakke vir gesinne, word die gesprekke nog jare na die eerste aanbieding lewendig gehou. Wanneer ‘n ouer dus vra: ‘Wat sou BrainBuddy nou gedoen het?’ ontstaan daar ‘n veilige derde ruimte. Die gesprek gaan nie oor skuld of straf nie, maar oor begrip, groei en praktiese oplossings.”
BrainTribe:
- Help kinders om te verstaan wat in hul brein gebeur.
- Help om ouers en onderwysers se hande sterker te maak.
- Gee vir elke kind die woorde, hoop en gereedskap om met moed, wysheid en veerkragtigheid deur die lewe te stap.

Afrikaans.com wou bietjie meer weet oor waar alles begin het en hoekom Manie Botha en sy kollegas so sterk glo in BrainTribe.
“Dit het begin met ‘n belofte.”
As jong predikant en na die selfdood van ’n belowende jong matriekdogter, het Manie Botha homself belowe dat hy alles in sy vermoë sou doen om die emosionele welstand van kinders, ouers en onderwysers ‘n lewenstaak te maak. “Ek het besef mense kry emosioneel swaar, maar praat nie noodwendig daaroor nie, Nie omdat hulle gevoel het mense gee nie om nie, maar omdat hulle nie ‘n eenvoudige, praktiese taal gehad het om oor emosies en die brein te praat nie. En dit is waar BrainTribe gebore is.”
Hy vertel dat hulle telkens gesien en beleef het wat gebeur wanneer ‘n kind die woorde kry vir dit wat binne hom aangaan. “Ek het besef dat BrainTribe nie net vir kinders kennis gee nie, maar taal. Taal om pyn te benoem. Taal om hulp te vra. Taal om nie alleen met hul emosies te wees nie.” So het ‘n seuntjie met ernstige skeidingsangs en wat nie meer skool toe kon gaan nie, se lewe handomkeer verander toe hy besef het wat binne hom aangaan en vir sy ma gesê het: “Dis nie ek wat fout is nie … dis net Wagter wat blaf. En nou weet ek hoe om vir Wagter weer rustig te kry.”
Ook onderwysers praat net met lof van BrainTribe en hoe die dissipline verbeter, die atmosfeer in die klas verander en hoe akademiese prestasie begin groei wanneer kinders leer om eers hulle emosies te reguleer voordat hulle probeer leer.
Die span
Die BrainTribe-span bestaan uit Manie Botha, Stefaans Burden, Cornelius de Koning, Schoemé Steenkamp, Igna Kotze en “’n besonderse groep vriende, opvoeders, terapeute, kunstenaars, ouers en ondersteuners”. Almal met dieselfde droom en dieselfde taal.
Gee jou kind vandag nog die BrainTribe-voorsprong, want:
“Kinders wat hul gevoelens kan verstaan én verwerk, vaar nie net beter op skool nie – hulle bou sterker vriendskappe, behou gesonder grense, en stap met BrainTribe-selfvertroue die toekoms in.”
Gaan loer by Brain Tribe vir meer oor hierdie program en berei jou kind voor vir die toekoms.
Of stuur ‘n WhatsApp aan: 076 576 1969/083 254 7711
Of stuur ‘n e-pos aan: info@braintribe.co.za / braintribe3@gmail.com







