Skrywer: Skrywer: Marie Brumm
Souskluitjies
Hierdie resep is ’n treffer van Marie se ouma Elsabé en sy maak dit gewoonlik wanneer sy na haar ouma en oupa verlang. Hierdie resep is ook te vind in haar kookboek getiteld KAROOMANNA.
BESTANDDELE
2 e koekmeel
1 e mielieblom (Maizena)
2 e vlapoeier
3 e suiker
½ t sout
2 eiers, geskei
2 k melk
3 e botter
1 k kookwater
Kaneelsuiker na smaak
METODE
1. Meng die koekmeel, mielieblom, vlapoeier, suiker en sout in ’n mengbak.
2. Klits die eiergele en ’n ¼ koppie van die melk bymekaar en meng dit dan by die meelmengsel in.
3. In ’n pot op die stoof, kook die oorblywende 1¾ koppies melk en 1 eetlepel botter saam.
4. Voeg dit by die warm melk-en-botter-mengsel op die stoof. Kook dit tot die vlamengsel dik word. Roer aanhoudend sodat dit nie klonte maak nie.
5. Klits die 2 eierwitte styf. Verwyder die vlamengsel van die hitte en vou die eierwit daarin.
6. Meng die kookwater en oorblywende 2 eetlepels botter in ’n beker en giet die helfte van dié sous in ’n opdienbak.
7. Skep lepels vol van die gaar vlamengsel in die sous en strooi kaneelsuiker oor.
8. Gooi die res van die sous in die bak, dan weer lepels vol vla en strooi laaste die kaneelsuiker oor.
9. Sit dadelik voor.







