Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Vier kunstefeeste vir die laaste ses maande van 2026
Die jaar is dalk halfpad verby, maar vir liefhebbers van kunstefeeste is daar nog ’n paar lekker geleenthede om na uit te sien. Van die Laeveld tot Bloemfontein, Stellenbosch en Potchefstroom: maak ’n plan om een (of almal!) van hierdie vier groot feeste by te woon. afrikaans.com het ’n bietjie meer uitgevind oor elk van hierdie feeste:
Innibos: Laeveld-kuier met musiek, teater en feesliggies
Wanneer: 2 tot 5 Julie 2026
Waar: Mbombela/Nelspruit, met die hoof- feesterrein by Hoërskool Bergvlam
Innibos is een van daardie feeste waar die Laeveld se winterson, groot verhoogkonserte en gesellige stalletjies alles bymekaarkom. Die 2026-fees bied musiek, teater, kuns, boekbesprekings, leefstylgeleenthede, markstalletjies, pretparkaktiwiteite en hoofverhoogkonserte.
Waar koop jy kaartjies?
Kaartjies is aanlyn beskibaar by Ticketpro of by die hekke. ’n Volfeeskaartjie vir die feesterrein kos R775. Dagkaartjies is R250 vir Donderdag, R325 vir Vrydag en R385 vir Saterdag. Loof Hom Sondag kos R50. Kinders jonger as 13 kry gratis toegang tot die feesterrein, terwyl pensioenarisse van 65 jaar en ouer op Donderdag ’n hekprys van R195 by uitgesoekte hekke kan kry.
Innibos is ’n fees vir gesinne, musiekliefhebbers en almal wat van ’n klassieke Afrikaanse feeservaring hou. Vir meer inligting, besoek innibos.co.za.

Vrystaat Kunstefees / Vrystaat Arts Festival: Bloemfontein se kleurvolste kuier
Wanneer: 7 tot 11 Julie 2026
Waar: Bloemfontein en die Universiteit van die Vrystaat-omgewing
Die Vrystaat Kunstefees bied ’n wye program met literatuur, musiek, teater, film, planetarium-ervarings, geleenthede vir die jongspan, en meer. Die fees is ook bekend vir sy groot kunsmark met meer as 300 stalletjies.
Waar koop jy kaartjies?
Vir inligting oor produksies en geleenthede wat elke dag van die fees plaasvind, besoek vrystaatkunstefees.co.za. Klik op dit waarin jy belangstel, en koop dan jou kaartjie via WebTickets. Algemene feestoegang kos R50 vir ’n dagpas en R150 vir ’n weekpas. Die Literatuurfees-weekpas kos R450.
Individuele produksies en aktiwiteite verskil in prys. Voorbeelde sluit in kinder- en wetenskapaktiwiteite van ongeveer R20–R60, gesprekke en films rondom R40, en baie teater- en musiekitems rondom R140–R250.
Die Vrystaat Kunstefees is ideaal vir kultuurontdekkers, boekmense, gesinne, studente en feesgangers wat van ’n uiteenlopende program hou.

Toyota Stellenbosch Woordfees: wynland, woorde en wêreldklas kuns
Wanneer: 3 tot 11 Oktober 2026
Waar: Stellenbosch
Die Toyota Stellenbosch Woordfees is een van Suid-Afrika se groot kunstefeeste en kombineer die beste van teater, skrywersgesprekke, klassieke musiek, Toyota Music Festival-vertonings, dans, visuele kunste, diskoers, kinderfeesaktiwiteite, leefstyl, en film.
Waar koop jy kaartjies?
Kaartjies word aanlyn via Quicket verkoop, en by die Quicket-verkooppunt by die Woordfees-kaartjiekantoor by Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch.
Die Woordfees werk hoofsaaklik met kaartjies per geleentheid, eerder as een eenvoudige algemene feestoegangsprys. Teater- en musiekkaartjies kos rondom R200–R350, kinder- en gesinsgeleenthede is byvoorbeeld rondom R50–R200, terwyl premium leefstyl-, kos- en wynervarings tot ongeveer R1 500 kan kos. Kaartjies by die deur, waar beskikbaar, is duurder. Parkering is beskikbaar teen R25 per dag, met pendeldienste teen R60 per dag of R250 vir die volle fees.
Onthou egter dat selfs gratis geleenthede via Quicket bespreek moet word. Besoek woordfees.co.za vir ’n volledige lys van alles wat tydens die fees plaasvind.
As jy ’n boekliefhebber, wynland-naweekganger, teateraanhanger of iemand is wat kultuur met kos, wyn en mooi omgewings wil kombineer, moenie die Stellenbosch Woordfees vanjaar misloop nie!

Momentum Aardklop: Potchefstroom se groot kuns- en kuierfees
Wanneer: 29 September tot 4 Oktober 2026
Waar: Potchefstroom, met die hoof- feesterrein by die Fanie du Toit-sportgronde, NWU
Feesterrein oop: 29 September tot 3 Oktober 2026
Momentum Aardklop is een van Suid-Afrika se gunstelingfeeste, en vanjaar se program sluit drama, gesprekke, kabaret, kinderteater, klassieke musiek, komedie, kontemporêre werk, leefstyl, musiekteater, tragikomedie en visuele kunste in. Dit is ’n fees vir mense wat hou van produksies, markenergie en Potchefstroom se kenmerkende studente- en kunstefeessfeer.
Waar koop jy kaartjies?
Kaartjies vir 2026 word via SeatMe verkoop (kaartjies wat vooraf gekoop word, is ’n rapsie goedkoper). Feesterreinkaartjies kan ook by die Aardklop-kantoor by The Roots of by die ingangshekke tydens die fees gekoop word, maar geen kontant word by die hekke of kantoor aanvaar nie.
Feesterreintoegang kos R80 per dag op Dinsdag en Woensdag, en R120 per dag op Donderdag, Vrydag en Saterdag. ’n Weekkaartjie kos R350, en kinders jonger as 12 kry gratis toegang.
Individuele produksiepryse is geleentheid-spesifiek op SeatMe. Vir meer inligting oor produksies en vertonings, besoek aardklop.co.za.
Aardklop is dié fees vir teaterliefhebbers, kampuskuiermense, gesinne en feesgangers wat ’n mengsel van kuns, komedie en leefstyl wil hê.







