Kom luister saam!
Nog nooit vantevore was daar soveel menings, raad, en reëls oor ouerskap soos vandag nie. Die groot hoeveelheid ouerskapinhoud aanlyn skep dikwels meer verwarring as enigiets anders. Hoe kan jy as jong ouer die geraas afsit?
Simoné Pretorius, aktrise, regisseur en mamma van drie, gesels met ons oor die druk van vergelyking, oor die krag van intuïsie en wat jy as ouer kan doen om weer jou eie stem te vind.
Die onderwys is ’n baie belonende beroep, maar deesdae voel al hoe meer onderwysers oorlaai en uitgeput. Die gevolg: talle onderwysers verlaat die beroep reeds in die eerste paar jaar van hul loopbaan. Hoe behou ons goeie talent in die onderwys?
Ons gesels met Daan Potgieter, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) oor die uitdagings waarvoor onderwysers vandag te staan kom en wat ons kan doen om te verseker dat goeie leerkragte nie die onderwys verlaat nie.
Hierdie gesprek is vir elke vrou wat al ooit gevoel het sy moet alles bymekaarhou – verantwoordelikhede soos werk, kinders, haar huwelik en haarself. Moderne ma-wees kom met ongelooflike mooi oomblikke maar ook uitputting, skuldgevoelens, onrealistiese verwagtinge en ’n gevoel dat daar nooit genoeg ure in ’n dag is nie.
Ons gesels met Daniëlla van Heerden, kommunikasiebestuurder by Fedsas en die stem agter die bekende Ma met ’n mikrofoon-podsendingskanaal. As ’n ma van twee pragtige dogtertjies, gesels sy openlik oor die realiteite van ma-wees, die balans tussen loopbaan en gesin en die uitdagings waarvoor moderne ma’s vandag te staan kom.
Radio het mense oor dekades heen laat lag, laat dink en ingelig. Maar in ’n wêreld van podsendings, stromingsdienste en sosiale media, kom die vraag al hoe meer na vore: Het Afrikaanse radio nog ’n toekoms?
Sue Pyler-Slabbert, bekende radio-omroeper by RSG, gesels oor die toekoms van Afrikaanse radio en ons leer ken die vrou agter die stem wat reeds so diep in mense se harte gekruip het.
Hoe maak ons lees weer lekker vir kinders in ’n wêreld van skerms, kort aandagspanne en konstante afleiding? Hierdie episode se gas is Fanie Viljoen, een van Afrikaans se bekendste en gewildste jeugskrywers. Sy boeke word landswyd deur jong lesers verslind en verskeie van sy werke is ook voorgeskrewe boeke in skole. Hy verstaan nie net stories nie, hy verstaan jongmense, hul wêreld en wat hulle aandag regtig vasvang.
Kyk ook saam na die video van die gesprek:







