Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
Lesers wat namiddae Spitstyd op RSG luister, sal hom ken, die man met die mooi stem en skerp sin vir humor, wat veral die spitsverkeer so bietjie draagliker maak. Dalk kuier jy weekliks saam met hom in U eie keuse. Hoe ook al, Willem Pelser se energie agter die mikrofoon is aansteeklik – seker ook maar omdat hy werklik hou van wat hy doen. Afrikaans.com vertel jou graag meer oor hierdie gewilde RSG-omroeper.
Willem, die oudste van twee kinders, is gebore in Matatiele, deesdae in die Oos-Kaap en het sy skoolloopbaan in Kokstad begin. Hy was in graad 3 toe die gesin Burgersdorp toe verhuis het waar hy gematrikuleer het voordat hy sy studies in Kaapstad voortgesit het en as klankingenieur gekwalifiseer het.
Hy was ’n veelsydige kind, want vertel hy, “as jy in ’n plattelandse skool is met min leerders, is daar nie ruimte om in jou eie nis te verval nie, en moes jy aan alles deelneem.
Ek het klavier gespeel, koor gesing, aan musiekspele deelgeneem, rugby en krieket gespeel, aan die landsdiens en CSV behoort – noem maar op.” Daarom ook dat hy nooit ’n “nerd” genoem is nie – al was hy duidelik tuis voor die klavier. Hy erken tog tong-in-die-kies dat hy wel op ’n kol soos een gelyk het – kompleet met ‘n groot bril, draadjies en hare wat in ’n sypaadjie gekam was.
Willem is bekend vir sy musiekkennis en het reeds as klein seuntjie begin klavier speel. “My pa, Johan, het my so bietjie touwys gemaak. Ek dink die eerste liedjie wat hy my geleer speel het, was Picking up pebbles. Toe ek begin musiek neem het, was dit klassieke musiek – ’n goeie grondslag wat deure oopmaak vir ander style en genres.” Deesdae speel hy steeds elke dag klavier en mens sal hom selfs soms kan oortuig (lees: “vriendelik verplig”) om agter die klawers in te skuif by byeenkomste of partytjies. Hy noem ook dat hy hou van sogenaamde “cross-over”-musiek. Dit is wanneer klassieke musiek ‘n ligter aanslag gegee word sodat dit tot ’n breër gehoor spreek. Sy persoonlike gunstelinge is byvoorbeeld die violiste Vanessa-Mae en David Garrett.

‘n Jong Willem 16 berei voor vir n konsert by die ouetehuis.

Voorbereiding vir n Unisa-eksamen is geen grap nie.
’n Loopbaan agter die mikrofoon
Willem vertel dat een van sy vakke tydens sy tersiêre studies radio-postproduksie ingesluit het waar hy voorgestel is aan die vervaardiging van advertensies – iets wat hom baie geïnteresseer het – veral om agter die skerms in produksie te werk. Gelukkig vir ons, het hy toe met ’n aweregse draai aan die ander kant van die mikrofoon beland toe ’n kollega saam met wie hy vroeër jare by die Billy Graham Evangelistic Association gewerk het, die nimlike Amore Bekker, hom aan gemeenskapsradio voorgestel het en hy begin uitsaai het en sedert 2006 deel van die RSG-span is.
U eie keuse – reeds langer as 80 jaar op die lug
Die program, U eie keuse, het talle aanbieders deur die jare gehad, maar in 2010 het die destydse RSG-stasiehoof, Magdaleen Kruger, Willem genader om die program by Wouter de Wet oor te neem wat sou skuif na Dis opera. Willem vertel dat Wouter hom alles geleer en gewys het om die program met sukses vorentoe te neem. Hy het desjare ook Klassieke Keuse op Sondae aangebied. Dus ‘n goeie leerskool om met gesag oor klassieke musiek te kan gesels. Gereelde luisteraars sal weet dat U eie keuse se tydgleuf van Saterdagaande na Sondagmiddae geskuif het en nou in die plek van Nic se goed (Nic de Jager wou uittree) uitgesaai word. “Dit was nogal ’n gewigtige besluit, maar ons het intensiewe navorsing laat doen en daar is vasgestel dat so tipe program meer geskik sou wees vir ’n Sondagmiddag. Saterdagaande het dus ’n meer homogene klank gekry met programme soos Haidee se hartsnommertjies, Kapityt! en Countryklanke.

Wat maak ’n goeie omroeper?
Willem reken dat dit eintlik ’n snaakse beroep is en nie veel te make het met hoe geleerd, ingelig of humoristies jy is nie. Volgens hom is dit ’n ingebore talent en daar is baie faktore by betrokke. “Jy het dit of jy het dit nie.” Hy beklemtoon egter dat die hoofeienskap van ’n goeie omroeper vir hom wel opgesluit lê in die vraag: “Wat word jy wanneer die rooi lig aankom?” Bly jy getrou aan jouself of klim jy in ’n karakter in, begin jy toneelspeel, word jy iets anders, klink jy soos iets of iemand anders? “As dit die geval is, het jy ‘n probleem, want aansittery en valsheid word vinnig en maklik deur luisteraars opgetel. Daarom: Wees net jouself.”
Willem is nie iemand vir die kollig nie en erken eerlik dat hy sy privaat lewe en professionele lewe apart hou en die media maar grootliks vermy. “Gaan dit met jou goed, wil hulle alles weet en kan nie genoeg oor jou skryf of sê nie, maar ongelukkig is die teenpool ook waar en in slegter tye, loop jy ook deur. Dis alles of niks. Daarom vat ek maar eerder niks.”
Dié afgeronde omroeper is ook net mens, en hy vertel dat daar heelwat staaltjies is wat hy kan vertel, maar dat een van sy blapse wat hom altyd bybly die keer was toe hy in sy hoedanigheid as TV-nuusleser uitgevang is. Die teks het gelees: Die grootste orkaan wat die Maagde-eilande nog getref het en hy gelees het: Die grootste orgaan … “Die nuuslessenaar se mense het in die gange rondgerol soos hulle gelag het.”
En wanneer hy nie uitsaai nie? Willem vertel dat hy daarvan hou om misdaadgedrewe dokumentêre programme te kyk, graag outobiografieë – veral oor sportsterre – lees en teaterproduksies bywoon. Sy geliefkoosde tydverdryf is egter om te sloertoer. “Sit my in ‘n kar en gee my 3 000 km om af te lê – ek sal alles beplan – van oornagplekke tot besienswaardighede.” Willem erken dat dit soms moeilik is om af te skakel, selfs al is jy met vakansie, maar dat dit broodnodig is. “Uitsaai is allesomvattend. Mens is konstant besig om te dink aan programinhoud, notas te neem en materiaal op te gaar as jy iets kyk op TV of iets raaklees op die internet, sodat jy dit dalk in jou program kan gebruik.”

Saam met sy suster, Johanette in die RSG-ateljee.
Toekoms van Afrikaans in die media
Willem het in 2025 uitgetree as nuusleser op SABC se Afrikaanse nuuskanaal, maar voel sterk daaroor dat die onoordeelkundige rondskuiwery van die Afrikaanse nuusbulletin tot nou onlangs meer skade as goed gedoen het. “Afrikaans is die taal wat die derde meeste gepraat word in Suid-Afrika en daarom is dit belangrik dat daar Afrikaanse nuus moet wees. Dit was ook altyd die derde mees winsgewende bulletin op TV. Gelukkig is dit nou onlangs teruggeskuif en kan ons net hoop dat daardie inkomste weer verhaal kan word.”
Hy voel nogal bekommerd oor die uitsaaiwese ten opsigte van die gehalte van Afrikaans.
“Die Afrikaanse taal word nie meer vooropgestel nie en die verskoning wat gereeld geopper word is dat ’n taal moet ontwikkel en verander anders gaan dit nie oorleef nie. En ek stem saam, maar daar is vir my ‘n verskil tussen die uitbreiding, ontwikkeling en aanpassing van ’n taal en die vermenging van taal. Om jou taal net klakkeloos te meng, wys vir my dat jy nie oor die voldoende woordeskat beskik om ordentlike Afrikaans te praat nie en jy stel ook nie belang om jou woordeskat uit te brei nie. Dit beteken ook jy stel nie belang in lees nie, dis nie vir jou belangrik om jouself te omring met mense wat goeie Afrikaans praat nie en om by hulle te leer nie en jy stel ook nie belang om iets in ‘n woordeboek na te slaan nie. Dis baie kommerwekkend.”
Geliefkoosde gesegde?
“Die voormalige Suid-Afrikaanse krieketspeler, Hashim Amla, het gesê: ‘Moet jou nie steur aan komplimente of beledigings nie, want albei is ewe oordrewe.’ Dit is ook my mantra.”
Wat maak jou gelukkig en tevrede?
Willem sê dat hy op sy gelukkigste is wanneer hy vakansie hou op sy mees gunstelingplek in die land, die Suidkus. “Met ’n uitsig oor die see, ‘n vuurtjie wat voor my knetter en langs my ‘n bier van Nottingham Breweries … dan is ek tevrede.”
Wat dryf jou die harnas in?
Hy lag en sê dat dit ongelukkig te veel dinge is, want “ek is maar nukkerig”. Bo-aan sy lys is dit egter mense wat tot gevolgtrekkings kom en weier om van hulle standpunt af te sien ongeag klinkklare feite wat die teendeel bewys. “Sulke hardkoppigheid staan my nie aan nie. Ook mense wat nie logiese denke kan inspan nie. En dan die kersie op die koek, selfsugtige mense, veral in die verkeer. Diegene wat nie flikkerligte gebruik nie, voor jou insny en duidelik die ‘eie ek’ vooropstel. Dit maak my kwaad, hartseer en bekommerd oor die toekoms.”

‘n Sloertoer aan die Namibiese Skedelkus.
En dit, lesers, is Willem Pelser in ’n neutedop.
’n Man wat homself beskryf as ’n Godvresende, Afrikaanse boerseun met sy kop in die stad en sy hart in die platteland. Seker daarom dat ons so graag luister wanneer hy agter die mikrofoon inskuif en daardie rooi liggie aanskakel.







