Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Wanneer ’n paartjie ouers word, verander liefde dikwels van lang, rustige gesprekke en spontane afsprake na kosblikke, slaaproetines, skoolaktiwiteite en eindelose doenlysies. Tussen werk, huiswerk, wasgoed en kindersorg kan ’n huwelik maklik begin voel soos ’n praktiese vennootskap eerder as ’n liefdevolle verhouding. Tog hoef ouerskap nie die einde van konneksie te beteken nie, het Afrikaans.com uitgevind.
Jacqui Chowles, ’n beradingsielkundige van Johannesburg wat baie met gesinne en paartjies werk, sê daar is ’n paar algemene uitdagings wanneer dit kom by die balans tussen ouerskap en jou huwelik. “Paartjies hou soms op om bewustelik tyd te maak vir mekaar. Dit is maklik om meegesleur te raak deur die eise van ouerskap. Paartjies kan ook sukkel om aan te pas by die oorgang na ouerskap – dit is ’n groot lewensverandering, en die aktiwiteite wat voorheen vreugde en konneksie gebring het, soos ’n spontane aand uit, raak dikwels moeiliker om vol te hou.”
Susan Gregor-Harlen, ’n familie- en ouerskapafrigter van Randburg, sê daar kan van dag een af uitdagings kop uitsteek.
“Nuwe ma’s sal dikwels nie hul maats genoeg vertrou om na die pasgebore baba om te sien nie, en pa’s vra ook dikwels nie genoeg om meer betrokke te wees nie. So ontstaan daar reeds ’n wanbalans.”
Jacqui voeg by dat daar dan onbewustelik onuitgesproke wrokke kan ontwikkel. “Elke ouer mag voel dat hy of sy die groter deel van die emosionele, fisieke of geestelike las dra. Wanneer hierdie gevoelens nie openlik bespreek word nie, kan paartjies begin voel dat hulle van mekaar verwyder is.”
Waarskuwingstekens sluit in gereelde konflik, emosionele afstand, verminderde toegeneentheid en ’n groeiende voorkeur om eerder tyd apart as saam deur te bring, sê Jacqui. “As jy agterkom dat jy gereeld oor jou maat kla, selfs voor of teenoor die kinders (‘Los vir mamma, sy is altyd te moeg om enigiets te doen’), of wanneer klein jakkalsies tot ’n groot bakleiery lei, is dit tyd om stil te staan en te kyk wat die kernrede vir hierdie snellers is. Is dit ’n gevoel van ’n gebrek aan respek, waardering, erkenning? Dit is wat ons teenoor ons maats moet verwoord,” verduidelik Susan.
Gelukkig is stap een van verandering om te besef daar is ’n probleem. Nou kan jy tot aksie oorgaan.
“Een van die eenvoudigste maniere is om doelbewus geleenthede vir pret te skep.”
“Dit kan behels dat julle gereelde afspraakaande beplan, aktiwiteite hervat wat julle voorheen saam geniet het, of ’n nuwe stokperdjie aanpak wat vir albei maats betekenisvol is. Gedeelde ervarings help om positiewe interaksies te skep wat nie rondom ouerskapverantwoordelikhede sentreer nie,” is Jacqui se raad.
Dit is nie nodig om ’n vakansie Mauritius toe te beplan om weer julle konneksie te ontdek nie. Klein, konsekwente oomblikke van konneksie is dikwels belangriker as een groot gebaar af en toe. “Drink byvoorbeeld soggens saam koffie voordat die kinders wakker word, of ’n glas wyn nadat hulle gaan slaap het, of stuur vir mekaar weekliks ’n lukrake WhatsApp-boodskap waarin jy die ander persoon bedank vir drie dinge wat hulle vir die gesin of vir jou gedoen het. Dit help ook om te weet wat jou maat se ‘liefdestaal’ is en seker te maak dat jy minstens een keer per week daarby aansluit, of dit nou ’n daad van diensbaarheid, woorde van bevestiging, ’n klein geskenkie, fisieke aanraking of kwaliteittyd is. Dit help om die vriendskap lewendig te hou en om steeds ’n bietjie ‘pret’ saam te hê,” voeg Susan by.

Kenners kan nie genoeg die belangrikheid van kwaliteittyd beklemtoon nie.
“Dit speel ’n belangrike rol in die handhawing van emosionele intimiteit, vriendskap en konneksie binne ’n huwelik. Dit stel paartjies in staat om die verhouding te koester wat die grondslag van die gesin vorm. Dit is belangrik dat ouers onthou dat hulle ook ’n gesonde verhouding vir hul kinders wys. Kinders baat daarby om toegeneentheid, spanwerk, kommunikasie en konneksie tussen hul ouers te sien. Om tyd in die paartjieverhouding te belê, neem nie iets van die kinders weg nie; dit versterk eerder die gesinsisteem as geheel,” sê Jacqui.
Paartjies wat ’n sterk, gesonde huwelik kan balanseer met die uitdagings van ouerskap het dikwels een geheim – doelbewuste pogings. Dit help nie om agter te kom iets pla, maar dan niks daaraan te doen en te hoop dat dit vanself sal regkom nie. “Sterk paartjies fokus daarop om verbind te bly met hul maat, hetsy deur gedeelde belangstellings, dikwels in die vorm van oefening soos om saam te gaan stap of draf.”
“Hulle moedig ook hul maat aan en maak seker dat die ander persoon tyd het vir hul eie belangstellings of tyd saam met vriende, omdat hulle weet dit is wat hulle nodig het. Hulle sorg dat hulle die daaglikse take van die gesinslewe gelykop verdeel, of ten minste volgens mekaar se sterkpunte werk. Hulle probeer ’n balans handhaaf tussen gesinstyd, paartjietyd, alleentyd en werk. Hulle tree in om mekaar te help wanneer dit nodig is, sonder om te kla. Hulle het ’n gedeelde doel vir hul lewe as paartjie en vir hul gesin,” verduidelik Jacqui.
Uiteindelik is dit tot jou kinders se voordeel dat alles nié net om hulle draai nie, maar dat jou huwelik ook die aandag en die tyd kry wat dit verdien. “Onthou dat jou verhouding met jou maat die eerste voorbeeld van ’n gesonde verhouding is waaraan jou kind blootgestel sal word. Daardie verhouding is die rede waarom hulle hier is, en nie andersom nie. Deur tyd te maak om jou verhouding met jou maat te laat groei en verdiep soos jou kinders grootword, wys dit vir hulle dat die rede vir hul bestaan sterk en gesond is. Dit bied vir hulle ’n voorbeeld van wat hulle moontlik eendag self in ’n verhouding kan nastreef. Wees die voorbeeld van dit wat jy eendag vir hulle sou wou hê,” sê Susan.







