Skrywer: Annelie van Jaarsveldt & Estie Lippiatt, arbeidsterapeut
Die meeste van ons weet wat outisme is of wat dit beteken as ’n mens praat van “op die spektrum” wees. So ook is daar ’n verskeidenheid behandelings, tegnieke, benaderings en so meer om die kind met opvoedkundige, sosiaal-emosionele, geestesgesondheid- en/of ontwikkelingsuitdagings by te staan. Een so benadering staan bekend as DIRFloortime®.
Afrikaans.com het met arbeidsterapeut Estie Lippiatt gesels oor DIRFloortime® en die rol wat dit kan speel in die ondersteuning van kinders met ontwikkelingsuitdagings. Hier is haar perspektief op die benadering:
“As arbeidsterapeut is ek besonder opgewonde oor DIRFloortime®. Ek het onlangs die inleidende opleiding voltooi en kan eerlik sê dat ek lanklaas so geïnspireerd gevoel het deur ’n terapeutiese benadering. Wat my dadelik aangetrek het, is hoe natuurlik dit voel. Dit sluit aan by die manier waarop ek reeds met kinders speel en interaksie het, hetsy met my eie kinders of met die kinders waarmee ek in terapie werk.
“Wat ek veral waardeer, is die fokus op konneksie en regulering voordat daar op vaardighede of gedrag gefokus word.”
“DIRFloortime® herinner ons daaraan dat kinders eers veilig, verstaan en emosioneel gekonnekteerd moet voel voordat betekenisvolle leer en ontwikkeling kan plaasvind. Deur noukeurige observasie, speelse interaksies en sterk verhoudings kan ons kinders ondersteun om nuwe vaardighede te ontwikkel en hul volle potensiaal te bereik.
“Dit is ook bemoedigend om te weet dat hierdie benadering deur ’n groeiende navorsingsbasis ondersteun word. Ek sien daarna uit om my opleiding verder voort te sit en my kennis en vaardighede in DIRFloortime® verder uit te bou. Ek het nog baie om te leer, maar ek is opgewonde oor die reis en die moontlikhede wat hierdie benadering vir kinders en hul gesinne bied.”
Die D I R-model: ‘n Kort oorsig
Die DIR-model het ten doel om ’n gesonde grondslag vir sosiale, emosionele en intellektuele kapasiteit te lê eerder as om uitsluitlik op vaardighede en geïsoleerde gedrag te fokus.
Die D I R-konsep
D beskryf ontwikkeling (“development”) vanuit die individu se perspektief, m.a.w. waar hulle tans is en waarheen hulle op pad is in hulle persoonlike reis.
I beskryf die unieke maniere waarop elke individu (“individual”) die wêreld rondom hom ervaar, homself daarbinne reguleer, daarop reageer en sin maak daarvan. DIRFloortime® erken dat kinders verskillend reageer op sensoriese inligting soos klank, aanraking, beweging en visuele prikkels. Wanneer ons verstaan hoe ‘n kind sy wêreld ervaar, kan ons beter by hom aansluit en hom ondersteun om te leer, te speel en verhoudings te bou.
R beskryf hoe verhoudings (“relationships”) ons ontwikkeling aanhelp. Die mens is ’n sosiale wese. Daarom is verhoudings so belangrik vir ontwikkeling en groei.
DIR benut derhalwe hierdie emosionele aspek wat deel uitmaak van verhoudings tussen mense om ontwikkeling te bevorder. Daarom is dit so ’n belangrike tegniek om te gebruik om veral kinders op die outismespektrum of met ander ontwikkelings- of emosionele uitdagings te help.
DIRFloortime®
DIRFloortime®, of net Floortime is ‘n ontwikkelingsgebaseerde benadering wat deur ‘n groeiende internasionale navorsingsbasis ondersteun word.
Die niewinsgewende organisasie, die International Council on Development and Learning – ICDL, is meer as drie dekades gelede onder leierskap van dr Stanley Greenspan en sy span in die lewe geroep. Sedertdien is dit hulle doelwit om elke persoon se ontwikkeling te probeer verstaan en te bevorder sodat hulle hul volle potensiaal kan bereik. Dit is na aanleiding hiervan dat DIRFloortime® ontstaan en ontwikkel het.
Floortime word gebruik om ’n individu se ontwikkeling deur ’n respekvolle, speelse, vreugdevolle en betrokke proses te bevorder. Dit gebruik die trefkrag van verhoudings en menslike konneksies om betrokkenheid, kommunikasie, selfregulering, gedeelde sosiale probleemoplossing, positiewe gedrag en denke op ’n kreatiewe en georganiseerde wyse te bevorder. Floortime word wêreldwyd met groot sukses deur onderwysers, arbeidsterapeute, spraakterapeute, geestesgesondheidskundiges, ouers en versorgers gebruik.
Floortime – enige tyd, enige plek
Floortime is nie tyd- of plekgebonde nie en beteken ook nie noodwendig dat jy op die vloer moet sit nie. Die kern van die benadering is om by die kind aan te sluit waar hy is. Dit kan in die huis, in die tuin, in die supermark en op die speelgrond plaasvind. Dit kan saam met ander kinders of net met ‘n volwassene as deel van die spel, plaasvind. Dit kan ook enige tyd van die dag gedoen word – na ete, in die bad, of wanneer julle in die bed lê. Dit kan in die motor gedoen word, of wanneer jy wasgoed was, skottelgoed was – werklik oral en enige tyd.
Dit is iets wat in die kind se natuurlike omgewing gedoen word. As ouers goed onderleg is in die tegniek, is dit ook nie nodig dat ’n professionele persoon te alle tye teenwoordig hoef te wees nie.

Hoe werk dit? Konneksie voor korreksie
(Connection before correction)
DIRFloortime® is spelgebaseerd en is ‘n benadering wat fokus op die kind en die belangrikheid om die kind se voorbeeld te volg wanneer daar saam gespeel word. Dit erken dat ontwikkeling en leer die beste plaasvind wanneer ‘n kind emosioneel veilig, gekonnekteerd en gereguleer voel. Sonder hierdie grondslag word dit baie moeiliker vir die brein om nuwe inligting te verwerk, te leer en verhoudings te bou.
- Spel word deur die kind gelei
Dit moedig versorgers aan om saam met die kind op hulle ooghoogte/vlak en/of op die vloer te speel. Die kind word dan toegelaat om die leiding tydens die spel te neem.
Hoekom is dit nodig? Dit bevorder ‘n gevoel van outonomie en onafhanklikheid vir die kind.
- Emosionele begrip
Die DIRFloortime®-benadering erken die belangrikheid van emosies in geestes- en breingroei. Deur die kind se leiding in spel te volg, kry die versorger ‘n kykie en insig in die kind se belangstellings en emosies.
Hoekom is dit nodig? Dit is een van die beste maniere om die kind uit te daag en te bemoedig om te ontwikkel en te groei.
DIRFloortime® beteken nie dat die volwassene bloot passief volg wat die kind doen nie. Die doel is om eers by die kind aan te sluit deur sy belangstellings en emosies te verstaan, en dan deur speelse interaksies nuwe geleenthede vir kommunikasie, probleemoplossing, denke en verhoudings te skep. Die volwassene word dus ‘n aktiewe speelmaat wat die kind help om verder te ontwikkel. In baie opsigte word die volwassene die belangrikste “speelding” in die spel, aangesien dit die interaksie, gedeelde vreugde en emosionele konneksie tussen mense is wat ontwikkeling bevorder.
Kyk gerus na die kort video oor wat DIRFloortime® is.
Kyk ook na die verduideliking deur Maude le Roux van Maude le Roux Academy (www.maudeleroux.com) oor wat DIRFloortime® is:
DIR®/Floortime method – What it is and why I love it! Part 1
Waar is daar terapeute in Suid-Afrika?
As jy ‘n DIRFloortime®-terapeut in jou omgewing wil kontak, klik op die volgende skakel: https://www.dirdirectory.com/dirfloortime-practitioner en tik dan jou stad of omgewing in die soekblokkie aan die regterkant, bv. Western Cape, South Africa OF Centurion, South Africa en jy behoort ’n lys van moontlikhede te sien.
Lees ook meer hier:







