Irlen-sindroom: Wanneer gedrukte teks tussen die bladsy en die brein verlore raak.

Tuis 5 Leerhulp 5 Artikels 5 Algemeen 5 Irlen-sindroom: Wanneer gedrukte teks tussen die bladsy en die brein verlore raak.
Irlen sindroom

Skrywers: Annelie van Jaarsveldt & Martelean Venter, Irlen-spesialis

In Groeipyne op RSG van 21 en 28 Mei 2026, het Anthea Fredericks met die opvoedkundige sielkundige Martelean Venter gesels oor Irlen – ’n visuele persepsieprobleem. Martelean is een van slegs drie Irlen-diagnostici in Suid-Afrika. Hulle het gesels oor wat Irlen behels, oor die siftings- en toetsingproses en ook die rol wat die gekleurde brillense en dekbladsye in die behandelingsproses speel.

Hoewel baie mense nog nooit van Irlen gehoor het nie, is dit nie ’n onbekende sindroom nie, en is daar heelwat inligting beskikbaar. Tog, word die toestand dikwels verkeerd gediagnoseer en val die persone wat hieraan ly deur die krake. afrikaans.com skep graag bewusmaking sodat ouers wat vermoed dat hulle kinders Irlen het die nodige hulp vir hulle kinders kan kry. Martelean Venter verduidelik vir ons in meer detail.

Wat is Irlen?

Irlen is ’n visuele persepsieprobleem, m.a.w. daar is ‘n probleem met die manier waarop die brein visuele inligting verwerk. Dit is dus ’n brein- en nie ’n oogprobleem nie.

Die rede hoekom daar gepraat word van ’n breinprobleem is omdat dit gaan oor die verkeerde visuele prosessering (lig en kleur) in die brein en nie oor die werking van die oog nie. Daarom is dit wel moontlik dat iemand ’n voorskrifbril nodig het omdat hulle nie behoorlik kan sien nie, maar dan ook Irlen het. In ander gevalle is daar niks fout met die visie nie en het die persoon net Irlen. Mens kan dus praat van ’n brein-liggaam-leer-konneksie. Hou ook in gedagte dat Irlen op ’n kontinuum van lig tot baie erg kan voorkom en daar dus voortdurende verandering kan plaasvind.

Wat sê die statistiek?
  • 14% van die algemene bevolking het Irlen.
  • 46% individue met lees- of leerprobleme, disleksie ingesluit, het Irlen.
  • 35% individue wat kopbeserings of harsingskudding opgedoen het, het Irlen.
  • 33% individue met aandag- en konsentrasieprobleme, AGHS ingesluit, het Irlen.
  • Individue met hoofpyne en migraines wat nie werklik op mediese behandeling reageer nie, en waar daar ook nie medies bepaal kan word hoekom die persoon met hoofpyne sukkel nie, het waarskynlik Irlen, maar data is nog nie beskikbaar nie.
Verkeerde diagnose

Dit gebeur dikwels dat Irlen misgekyk word of selfs nie eers oorweeg word nie, en die kind bloot met aandagafleibaarheid-hiperaktiwiteit (AGHS) of disleksie gediagnoseer word, juis omdat hy kriewel en onrustig voorkom, sukkel om te konsentreer, of skynbaar sukkel om te lees, spel en leer. So ’n kind ervaar distorsies op hulle bladsye en/of in hulle omgewing, maar is nie noodwendig bewus van die distorsie nie. Dink self: As jy nog altyd teks of die omgewing op ’n sekere manier waargeneem het, is dit jou “normaal”. As die kind nog klein is, kan hy ook nie verduidelik wat hy “sien” nie. Wanneer die Irlen-simptome egter behandel word, reageer daardie selfde kind se lyfie anders en raak hulle rustiger, konsentreer beter en is sommer minder angstig. Daar moet dus gekyk word na die kernoorsaak van die kind se probleem.

Wat is die waarheid?

So baie mense het nog nooit van Irlen gehoor nie en gevolglik aanvaar hulle die diagnose van AGHS of disleksie, maar nou kom daar iemand wat reken hulle kind het Irlen. Wat nou? Martelean sê dat dit ‘n baie groot probleem is en dat die antwoord nie altyd voor die hand liggend is nie. Daarom is haar raad aan ouers om ’n sifting deur Irlen-toetsers te laat doen indien hulle vermoed dat hulle kind Irlen het.

Martelean voel sterk daaroor dat daar in elk geval seker gemaak moet word of jou kind nie dalk Irlen het nie, veral as hy met ander toestande gediagnoseer is. Irlen kan wel saam met AGHS, disleksie, en ander soortgelyke toestande voorkom, maar dink nou self as dit Irlen is wat die probleme veroorsaak en dit misgekyk is of nie as moontlikheid ondersoek is nie!

Hoe verskil Irlen van disleksie?

Die antwoord hierop is nie maklik nie en dit hang af van wat jou definisie van disleksie is. Eenvoudig gestel is dit disleksie as die kind gedurig die “b” en “d” verwar, en nie die klank by die letter kan pas nie, maar as hy dit nie kan doen nie omdat hy die letter verkeerd geprosesseer het, is dit Irlen. Martelean meen dat ‘n mens nie ‘n disleksiediagnose kan maak alvorens jy nie ook vir Irlen getoets het nie. Veral omdat mens al twee kan hê.

Op die Irlensindroom-webtuiste word die verskil soos volg uiteengesit:

Wat is die oorsaak van die leesprobleme?

  • Sukkel die kind om akkuraat en vlot te lees?
  • Is hy huiwerig om hardop te lees?
  • Is die kind se begrip swak, m.a.w. hy weet nie wat hy gelees het nie.

Daar kan twee duidelike redes vir hierdie algemene probleme wees, naamlik:

  • Disleksie of Irlen.
Disleksie:
  1. Disleksie is ‘n probleem met taalprosessering, m.a.w. die kind sukkel om klanke te identifiseer en hoe hierdie klanke deel vorm van letters en woorde.
  2. Disleksie is ‘n fonologiese tekort, m.a.w. die kind sukkel om die basiese klankeenhede in die letters en woorde wat op die bladsy gesien word, voor te stel/te weergee en te onthou.

Waar is die probleem gesetel?

In die linker- temporale lob van die brein.

Irlen:
  1. Irlen is ‘n probleem met visuele prosessering,a.w. die brein kan nie die visuele inligting wat hy ontvang, korrek interpreteer of prosesseer nie.
  2. Irlen behels visuele distorsies en fisiese ongemak, m.a.w. woorde kan beweeg, uit fokus lyk, beweeg en verander en dit kan onder andere tot hoofpyn, oogstremming, naarheid, en uitputting lei.

Waar is die probleem gesetel:

In die visuele korteks van die brein.

  • Intervensie of ingryping is nodig, want: 
  1. Disleksie affekteer die kind se vermoë om leesvaardighede aan te leer en intervensie fokus dan daarop om die kind se fonemiese bewustheid te verbeter deur gebruik te maak van spesifieke lees- en multisensoriese onderrigmetodes.
  2. Irlen affekteer die kind se vermoë om leesvaardighede aan te leer, maar kan ook sy vermoë om bestaande leesvaardighede te gebruik, raak. Intervensie in dié geval fokus daarop om die hindernisse wat in die pad staan om die vaardighede aan te leer en te gebruik, te verwyder. Maar … dit is nie ‘n leeronderrigmetode nie.

In die geval van Irlen word gekleurde brillense en dekblaaie (“overlays”) aangewend om breinfunksie in die visuele korteks te normaliseer, visuele distorsies uit te skakel en om fisiese ongemak te verwyder.

Irlene
Dit is moontlik om disleksie en Irlen te hê en albei toestande kan ‘n invloed hê op ander areas wat buite die leesspektrum val.

Simptome wat op Irlen kan dui

Martelean sê dat sy verkies om agt of nege van die volgende simptome uit te lig. Indien die kind of persoon wat getoets word dan een of meer van die simptome het, sal sy spesifiek vir Irlen toets, ongeag vorige diagnoses, juis omdat dit ’n aanduiding van Irlen kan wees.

Die persoon ondervind probleme met:

  • Lees, leer, skryf, spelling, wiskunde
  • Aandag en konsentrasie
  • Die lees van musieknote
  • Angstigheid
  • Hoofpyn/migraine
  • Ligsensitiwiteit
  • Dieptepersepsie – loop in goed vas, sukkel om fiets te ry, m.a.w. jou tipiese “lomp” kind
  • Distorsie in gedrukte teks of in die omgewing

Hierdie simptome kan ook ander oorsake hê, sê Martelean, maar as dit Irlen is, hanteer ’n mens die oorsaak van die probleem en nie net die simptoom nie.

Byvoorbeeld: Medikasie om die kind se konsentrasie te help, kan dalk help om die kind te laat stilsit of sy konsentrasie verbeter, want dit is waarvoor dit gemaak is, maar … dit gaan nie die distorsie op die bladsy wegneem nie.

Wanneer toets jy?

Sommige kinders het leesprobleme en sukkel om die mas op te kom, maar daar is ook kinders wat redelik goed vaar op skool, maar agterlosige foute maak, veral in wiskunde. Of daar is die kinders wat onderpresteer en ekstra hard moet werk om gemiddelde punte te kry. Dit is tipies die kind wat ook Irlen kan hê. Jy kry dus kinders wat oënskynlik goed lees, maar tog is dit vir hulle moeilik om te leer. Dit is wanneer die rooi vlag behoort op te gaan en daar vir Irlen getoets moet word.

Wat is sifting (“screening”)?

Martelean verduidelik dit so:

Met ‘n siftingstoets kan mens reeds sê of iemand Irlen het of nie en kan die korrekte dekblad (“overlay”) solank voorsien word.

Die volgende stap is dan om ‘n Irlen-diagnostikus of -spesialis te raadpleeg om te bepaal wat die kleur van die spesifieke filter is wat die persoon benodig.

Kleur maak saak!

Martelean beklemtoon dat die kleur wat gekies word uiters belangrik is en beslis nie net lukraak gekies kan word omdat die persoon van ’n spesifieke kleur hou nie.

Dit is ook belangrik dat die kleur van die dekblad en die kleur van die filter (vir die brillense) NOOIT dieselfde moet wees nie.

Daarom kan jy nie die kleur van die dekblad na ‘n oogkundige neem en vra dat hulle vir jou lense maak wat met daardie kleur ooreenstem nie. Net soos wat ‘n voorskrif vir ‘n persoon met visieprobleme perfek reg moet wees sodat die persoon beter of duidelik kan sien, net so moet die kleur van die lens reg wees sodat die frekwensie van die lig wat die brein ingaan spesifiek vir daardie persoon geskik is.

Jy kan dus nie net enige kleur vir iemand gee nie, want dit kan die teenoorgestelde effek hê en dus die hele prosesseringsproses vererger.

Maak seker dat die oogkundige wat jou kind toets, wel in Irlen-diagnoses opgelei is. Hulle behoort ’n geldige sertifikaat te kan wys. Sertifikate word elke vyf jaar hernu.

Meer oor die verskil in kleur van die brillens en die dekblad

Die kleur veroorsaak dat die frekwensie van die lig wat in jou brein ingaan, deur die lense en dekblad verander word. Dit is ook moontlik dat die kleur aangepas moet word omdat hormone, medikasie of breinontwikkeling ‘n invloed kan hê. Daarom is dit baie belangrik om jaarliks geassesseer te word om seker te maak dat alles nog reg is. Gelukkig het Suid-Afrika een van slegs vier laboratoriums in die wêreld waar die lense plaaslik gekleur kan word. Dit is dus nie ‘n lang proses omdat dit van elders bestel moet word nie.

Wat wel ‘n feit is, is dat hierdie lense en behandeling ‘n enorme verskil maak en dat daar altyd ‘n verbetering waargeneem kan word.

Indien jy vermoed dat jou kind, of jy self, dalk Irlen het, is dit noodsaaklik om so gou moontlik die regte persoon te kontak sodat die siftingsproses kan plaasvind en die proses kan begin.

Soos Martelean met oortuiging sê: “As dit Irlen is en dit word reg behandel, is die verskil wat jy sien lewensveranderend.”

Kontak:

Martelean Venter by 081 879 8029

Leanne Greef by 012 547 0952

Marietha Nell (Polekwane) – 082 936 8330

Gaan kyk ook by www.irlen.com. Daar is ‘n selftoets Self Tests – Irlen om te doen, veral as daar nie geredelik sifters naby jou is nie.

Luister gerus na die twee episodes oor Irlen soos in Groeipyne op RSG van 21 en 28 Mei 2026 uitgesaai is en waar Martelean Venter met Anthea Fredericks oor Irlen gesels het:

https://omny.fm/shows/groeipyne/groeipyne-irlen-sindroom

Groeipyne: Irlen-sindroom (Deel 2) – Groeipyne – Omny.fm

Kyk hier om Irlen te verstaan en hoe die kleurfilters werk.

En as jy wonder hoe gedrukte teks vir die persoon met Irlen kan lyk, kyk na die volgende video op YouTube vir van die voorbeelde: Irlen Syndrome Sample Print Distortions

Gaan lees ook meer oor Irlen hier:

What is Irlen Syndrome? | Irlen Syndrome Foundation

More Information About Signs and Symptoms of Irlen Syndrome

Irlen vs Dyslexia | Irlen Syndrome Foundation

www.irlen.com

by | Jun 12, 2026 | Algemeen, Artikels, Leerhulp

Deel hierdie plasing