Geskryf namens die AON deur
Lizette van Huyssteen van die Practica Program
Die faktore wat ’n rol speel tydens die aanleer van vaardighede
Vaardighede is nie boekekennis nie
Die vaardighede wat kinders in die 21ste eeu moet aanleer, is nie ’n stel feite wat hulle moet memoriseer, verstaan en toepas nie. Dit is eerder persoonlikheidseienskappe wat kinders help om in ’n veranderende wêreld suksesvol te wees. (Dink aan eienskappe soos deursettingsvermoë, aanpasbaarheid, kreatiwiteit, empatie, selfregulering en samewerking.) Hierdie eienskappe kan nie “geleer” word soos ’n wiskundige formule nie. Hulle moet ervaar, geoefen en geleef word. Verder ontwikkel hulle die beste terwyl kinders nog jonk is.
Tien faktore speel ’n rol
Persoonlikheidseienskappe word in jong kinders vasgelê wanneer leer prakties en spelenderwys plaasvind, binne ’n ouderdomsgepaste en kindervriendelike omgewing, met volop herhaling en ryk gesprekvoering. Hierdie leer moet ingebed wees in veilige, geborge verhoudings met sleutelvolwassenes wat as positiewe rolmodelle dien. Die ontwikkeling van hierdie eienskappe word verder versterk wanneer ouers en onderwysers saamwerk, omdat insette vanuit verskillende oorde vaslegging vergemaklik en almal saam meer tyd en aandag kan belê.
Ter opsomming:
- ’n Grondslag moet reeds voorskools gelê word.
- Leerervarings moet prakties wees.
- Leer moet spelenderwys plaasvind.
- Leerervarings moet ouderdomsgepas wees.
- Die omgewing moet kindervriendelik wees.
- Heelwat herhaling is nodig.
- Gesprekvoering is belangrik.
- Leer moet binne veilige, geborge verhoudings plaasvind.
- Sleutelvolwassenes moet as goeie rolmodelle optree.
- Ouers en onderwysers moet saamwerk.
Vroeë leer is hier sleutelbelangrik
Kinders kan kennis op enige stadium verwerf, maar die ontwikkeling van persoonlikheidseienskappe is tydsgebonde. Hoekom? Omdat ’n jong kind se brein homself letterlik bou en snoei om daardie kind voor te berei om suksesvol te wees in die omgewing waarin hy of sy gebore is. Kinders word gebore met al die biljoene breinselle wat hulle ooit gaan hê, maar breinskanderings wys dat driejariges bykans twee keer meer verbindings tussen breinselle het as volwassenes. Hierdie verbindings vorm die “breinpaadjies” wat boodskappe vervoer. In die vroeë jare is hierdie kommunikasienetwerke nog ongedifferensieerd – vol gapings, deurmekaar, en die aksone wat breinselle met mekaar verbind is nog rigtingloos en tingerig. *Dis hoekom jong kinders nog nie so vinnig en effektief soos volwassenes kan dink, beweeg en redeneer nie.
’n Jong brein bou en snoei homself
Die brein gebruik ’n besonderse metode om mettertyd meer gesofistikeerd te word: dit brei die kommunikasienetwerke uit wat gereeld gebruik word, sodat die breinpaadjies tussen verskillende dele meer direk en doeltreffend van plek tot plek kan strek. Verder vorm die brein ’n beskermende lagie om verbindings in hierdie aktiewe netwerke – ’n proses wat die paadjies isoleer en versterk, sodat hulle mettertyd beter kan fokus en boodskappe steeds vinniger kan aanstuur.
*Die boodskappe wat langs gewilde paadjies beweeg, versnel uiteindelik tot 100 – 250 keer vinniger as voorheen.
Maar daar is ’n beperking – ’n kind se skedel kan nie onbeperk groei nie
Omdat daar fisiese beperkings is aan die grootte van ’n kind se skedel, kan alle breinpaadjies nie behou word nie – die brein sal eenvoudig te groot word. Gevolglik sterf die verbindings wat selde gebruik word geleidelik af, om plek te maak vir dié wat aktief is en gereeld gestimuleer word. Netwerke wat dikwels gebruik word, word so uitgebrei en versterk, en dié wat nie gebruik word nie, kwyn weg en verdwyn. ’n Kind se genetiese samestelling, saam met sy of haar ervarings en interaksies met sleutelvolwassenes, bepaal dus grootliks hoe die kommunikasienetwerke in daardie kind se brein uiteindelik sal lyk.
Meer nog – dit bepaal ook die spoed waarteen boodskappe tussen verskillende kombinasies van breindele beweeg.
*Dit verklaar hoekom iemand op een gebied vinnig kan dink, terwyl dieselfde persoon op ’n ander gebied vashaak. Dit is dus sinvol om doelgerig te fokus op die vroeë ontwikkeling van 21ste eeuse vaardighede – deur vir elke kind ’n omvattende grondslag te lê wat spelenderwys – in interaksie met sleutelpersone – gevorm word. Praktiese wenke en assesserings is ook nodig om individuele kinders se vordering te monitor en te ondersteun.
Temperament en persoonlikheid
Ons verwag nie van alle kinders om dieselfde persoonlikheid te hê nie. Elke kind word met ’n unieke temperament gebore – ’n basiese stel emosionele reaksies en neigings wat deur genetiese oordrag bepaal word, en wat nie verander nie. Persoonlikheid word op temperament gebou. Net soos mense met verskillende temperamente almal goeie maniere kan aanleer, kan kinders met uiteenlopende temperamentstyle ook leer om empaties, kreatief, veerkragtig en selfgereguleerd te wees – elkeen op sy of haar eie unieke manier.
’n Spanpoging is die enigste oplossing
Die ontwikkeling van 21ste eeuse vaardighede is breingebaseerd én verhoudingsgebonde. Verder is dit afhanklik van gereelde herhaling en ’n betekenisvolle konteks. Dit beteken dat hierdie kritiese vaardighede – wat eintlik niks minder as persoonlikheidseienskappe is nie – nie suksesvol deur middel van geïsoleerde, kort lesse oorgedra én vasgelê kan word nie.
Die 21ste eeuse vaardighede sal as deel van ’n lewenstyl aangeleer moet word. Die uitdaging wat ons as mensdom in die gesig staar weens nuwe ontwikkelings in die werkplek, kan gevolglik net oorkom word as ons as ouers en onderwysers sélf die 21ste eeuse vaardighede bemeester – sodat ons om ons kinders se onthalwe hande kan vat en saamwerk soos nooit tevore nie.
Hierdie artikel is met vergunning van die Afrikaanse Onderwysnetwerk geplaas. Om meer te lees, klik hier.







