Skrywer: Anita van Niekerk
Nuwe tuiste, nuwe wêreld: Wat word van Afrikaans-wees as jy emigreer?
Die Freysens, voorheen van Pretoria, het in 2018 van SA na SA geskuif. “Suid-Afrika na Suid-Australië,” sê ma Corné wat saam met haar man, Hannes, en drie kinders – die tweeling Jason en Luke (nou 21) en hul dogter, Alexia (13) – in Adelaide kom nesskrop het.
Immigrant-wees los jou nooit
Maklik was dit nie. “Alles is anders. Dit het ten minste vier jaar gevat om so biétjie ons voete te vind. Ná agt jaar voel ek steeds soos ’n immigrant,” sê Corné. Die kinders gaan goed aan, en almal geniet die vryheid van veilig leef en die feit dat alles werk en silwerskoon is.
“Maar, ek moes vrede maak dat ek altyd ’n immigrant, ’n vreemdeling, in hierdie land sal bly,” sê Corné.
Toe Corné op haar depressiefste was, het haar pa, Theo (81) se raad baie gehelp. Hy is self ’n immigrant wat meer as 70 jaar gelede saam met sy ouers van Nederland af Suid-Afrika toe verhuis het.
“My pa sê dat hy steeds, na al die jare, soos ’n immigrant voel. Hy praat die taal, verstaan die kultuur, maar tog pas mens nooit heeltemal in nie.” Daar is nie ’n fondament wat jou as’t ware ’n ingebore begrip van die basiese werkinge van jou nuwe land gee nie.
Corné kan haar daarmee vereenselwig. Sy het ’n suksesvolle bemarkingsagentskap in Suid-Afrika bedryf, maar hiér moes sy hoor: “You don’t have Australian experience”.
Haar man, Hannes, wat self ’n hoë pos in Suid-Afrika beklee het, moes as drywer begin.
Nou, ná jare se harde werk en klippe kou, het albei meer bevredigende beroepe – en dis nodig, want om ’n dak oor jou kop te hê in Australië, is peperduur. (Dit help darem dat baie van die voordele, soos skole en medies, verniet is.)
Corné sê haar pa se raad was goud werd. Sy woorde:
“Onthou, as eerstegenerasie in ’n nuwe land, dra jý die pyn. Maar jou kinders, en hulle kinders, en dié se kinders, gaan die vrugte pluk.”
En die pyn is ’n realiteit. “Immigrasie breek jou, en dan moet jy van vooraf weer alles opbou,” vertel Corné. “Dit sal ook help om so ’n groot skuif vroeër in die lewe te maak, en nie soos ons, in ons veertigs nie. In hierdie lewensfase is mens se vriendekring reeds gevestig. Ek moes vrede maak dat ons nie weer sulke diep vriendskappe gaan bou soos in Suid-Afrika nie. Hier laat die mense jou nie sommer toe in hulle lewens nie. Jy bly die uitlander.”
Onthou die “hoekom”.
Maar die kinders pluk die vrugte.
“As mens besluit om te emigreer, moet jy baie duidelik wees oor jou hóékom – want dis waarop jy terugval op dae wanneer jy eintlik net jou tassies wil pak en teruggaan huis toe.”
Die Freysens se “hoekom” was om vir hulle kinders meer toekomskeuses te gee.
Die boeties, Jason en Luke, wat pas voltyds in die Australiese Lugmag begin werk het (teen massiewe salarisse), kan dit beaam.
“Ons bewonder ons ouers se dapperheid dat hulle hulle hele lewe verskuif het, ter wille van ons. Ons het goed aangepas en is gelukkig hier,” sê Luke.
“Maar daar’s ook baie dinge wat ons van Suid-Afrika mis,” voeg Jason by. “Die moeilikste is om jou familie en vriende agter te los. En die koskultuur is nie so lekker soos in Suid-Afrika nie. Die Australiërs het nie hulle eie koskultuur nie. Ander lande se kos word hulle kos.”
Luke: “Ons mis Suid-Afrika se smaaklike, geurige geregte, lekker kitskos en restaurante.
Jason: “… en die lekkergoed en poedings…
Ma Corné: “…en brandewyn en Coke onder ’n lapa…
Luke: “…en regte braaivleis op ’n regte, egte houtvuur. Hier barbeque almal op gas, en die hout brand nie. Dit rook net.
Jason: “En jy kan nie, soos in Suid-Afrika, sommer gou slaptjips by ’n hoekkafee koop nie. Hier is alles erg higiënies, gesond en streng gereguleer…
Luke: “Want die mense is fanaties oor reëls…
Jason: “Seker omdat daar nie eintlik groot probleme is om oor te bekommer nie. So, elke klein dingetjie is ’n ‘probleem’ wat met ’n reël beheer moet word.”
“Maar dis hoekom alles so goed werk. Dis deel van die prys wat mens daarvoor betaal,” sê Corné.
Oor Afrikaans-wees in Australië
Vir die deursnee-Aussie klink Afrikaans baie aggressief op die oor. Luke vertel: “Op ’n keer het ’n skoolvriend by ons huis opgedaag. My ma het vir my in Afrikaans gevra: Wil jy water hê?”
Die vriend wou bekommerd weet: “Is this a bad time?” Nee, hoekom?
“Your mom sounds angry.”
Jason en Luke is ook al gewoond dat wanneer hulle met mekaar praat, kalm en rustig, dink mense hulle baklei.
“En ek moes my harde stem se desibels afdraai,” beaam Corné. En spaarsamig raak met ons aweregse Suid-Afrikaanse humor, “veral omdat ek alles in my kop van Afrikaans na Engels vertaal voor ek praat. Dit maak mens moeg!”
Sy vertel hoe ’n kollega op kantoor vreeslik gehoes het. “Are you okay? Don’t die on us,” het sy geskerts. Die man was erg geaffronteer dat sy so ’n verskriklike ding oor hom kon uitspreek.
En ai, die plat Aussie-aksent bly ’n moeilike ding. “In Afrikaans spreek ons ons vokale rond uit, voor in die mond. In Aussie-Engels trek jy die vokaal plat (met jou mond soos in ’n glimlag getrek). En die klanke vorm agter in die mond.”
“Hier het die mense ’n lui manier van praat,” soos jonger sus, Alexia, dit verduidelik. Toe sy op vyf saamgekom het Australië toe, wou sy glad nie Afrikaans praat nie. “Ek was bang die maatjies by die skool dink ek is weird.”
Maar nou is sy bietjie spyt, want haar ouers en broers praat steeds Afrikaans, die familie in Suid-Afrika is Afrikaans, en haar Aussie-maats hou van Afrikaans.
“Hulle dink die taal is cool, en vra dat ek vir hulle Afrikaanse woorde leer.”
Alexia se broers het haar uitgedaag om vanjaar, op hulle verjaarsdag (in April), een hele dag nét Afrikaans te praat. “Ek is hard aan die oefen om my woordeskat uit te brei, want as ek die uitdaging slaag, het hulle belowe om my $200 te betaal.” Sterkte, Alexia!
Taalmisverstande tussen die Aussie- en Suid-Afrikaanse manier van praat, is daar ook baie.
Corné vertel: “Een jaar, op Alexia se partytjie-uitnodiging, het ek geskryf: Girls, pack your costumes! Die ma’s bel toe en vra: “Is this a fancy dress?” Want dis nie ’n costume nie, dis ’n bather – amper soos baaikostuum in Afrikaans.
En toe Luke en Jason ’n skooluitstappie moes bywoon, staan daar op die brief: Bring thongs. “Toe bel ék en vra: Hoekom moet die seuns G-strings saamvat?” lag Corné.

Ons hoë Afrikaanse waardes
“Ons het van die begin af besluit om die kinders volgens ons Afrikaanse en Suid-Afrikaanse waardes groot te maak.” En dit wýs.
Die skool kon amper nie genoeg medaljes en sertikate uitdeel aan Jason en Luke nie – twee jongmanne wat kop en skouers bo hulle klasmaats uitgestaan het ten opsigte van respek en dissipline.
“Ouers en onderwysers het ons gedurig daaroor gekomplimenteer… maar kom ons wees eerlik: die standaard waarteen ons gemeet is, is vreeslik laag,” sê Luke.
“As jy grootmense met respek behandel, en boonop jammer, asseblief en dankie sê, dink hulle jy is wonderlik,” beaam Jason. “Maar ons het onsself altyd herinner om nie grootkop te kry nie, want wat ons hiér doen, is maar eintlik net die norm in Afrikaanse Suid-Afrika.”
Suid-Afrikaners is “lekker” mense
Al verloop die grootste deel van hul dag (by die werk en skool) in Engels, bly dié gesin steeds lief vir Afrikaans en hul Suid-Afrikaanse wortels.
Die seuns stem saam: “Daar is min dinge wat jou so diep laat ‘voel’, soos die taal van jou hart. Wanneer ons ’n vreemdeling ontmoet wat Afrikaans praat, voel dit dadelik soos familie.”
Ma Corné se gunsteling- Afrikaanse woord wat sy graag rondgooi, is “lekker”. “Dit pas by alles. “En die Aussies dink ook Suid-Afrikaners is lekker. Hulle hou van ons, want ons is plat-op-die-aarde, vol pret, hardwerkend en ons goeie waardes laat ons uitstaan,” sê sy.
Luke het die mooi woord “luuks” by sy pa geleer, en vir hom werk dít in enige konteks.
Jason en kleinsus Alexia se gunsteling, is die Afrikaanse gesegde: Meng jou met semels, dan vreet die varke jou. “Dis iets wat Mamma ons al van jongs af geleer het, en wat ons vir die res van ons lewens sal saamdra,” sê dié twee.
Ook die Suid-Afrikaanse ‘boer-maak-’n-plan’-ingestelheid is steeds deel van wie hulle is.
Luke: “Hier, in die lugmag, as iemand vashaak met iets, sal hy dit aan ’n ouer persoon gaan rapporteer. Ons kyk rond, vat en gebruik wat daar is, en los sommer self die probleem op.
Jason: “Steeds boer, in murg en been.”
Net so.
In die Freysen-huishouding word daar in Engels geleer en gewerk in Aussie-land…
Maar daar word in Afrikaans gespeel, gedink en gedroom.







