Skrywer: Nicolette Kritzinger
Waarom spandeer ons soveel tyd daaraan om te kritiseer?
Een middag oorval die lus my vir iets stouts. Iets wat ek weet gaan bydra tot ’n ekstra sentimeter om my middel en my gaan laat twyfel in my lewenskeuses. Ek trek my onvleiendste sweetpakbroek aan en vind my weg na my plaaslike supermark.
Ek vat kortpad verby die melkrak toe ek my skielik vasloop in ’n ongemaklikheid.
’n Tannie beduie koorsig met haar kierie. Die arme slagoffer is ’n jong man in sy laat dertigs. “Jumaine Viljoen – General manager” lees sy naamplaatjie. Sy het hom voor die jogurtrak geannekseer.
“Ek gaan dit nou vir jou reguit sê, want iemand moet,” preek sy. Jy kan sien hierdie tannie neem gereeld die onus op haarself om die draer van slegte nuus te wees. Sy sal aanvoer dat dit haar burgerlike plig is om te kla. Bets, en Bets alleen, sal swak dienslewering in hierdie land op sy rug keer.
Hierdie situasie lyk of dit baie binnekort gaan ontaard in ’n storie wat ek by ’n volgende braai gaan vertel.
So, ek ontwikkel dadelik ’n belangstelling in die suurroom op die oorkantste rak.
Die tannie stoomroller voort: “Ek gaan nie doekies omdraai nie … Die visrak ruik soos vis.” Ek en Jumaine is ewe verward.
“Hoe anders moet dit dan ruik, Mevrou?” vra hy onskuldig. Ek dink dis ’n heel eerlike vraag.
Dis asof daardie woorde tannie Bets se oerbrein aktiveer. Haar gesig word die kleur van die liter aarbeijogurt in die rak agter haar en sy pof haar wange soos ’n op-hitte pou.
Ek sal die geluid van haar skrilstem nooit vergeet nie. Dis sowat ’n oktaaf hoër as wat die menslike oor as “aangenaam” sou beskryf.
“Moenie met my speel nie, mannetjie!” En dan… die woorde wat elke Afrikaanssprekende soos Goliat laat voel: “JY KEN MY NIE!”
“Jy dink jy is ’n wysneus, nè. Vat liewer daai neus en dan gaan ruik jy hoe stink dit by daardie rak!” Sy storm weg. Wel, so vinnig soos wat iemand bo 80 met ’n kierie kán wegstorm. Dis ’n helse antiklimaks.
Ek en Jumaine staar met groot oë na mekaar. Ek weet nie wie lyk meer geskok nie – ek, hy of die geelstert op die visrak nie.
Kyk, kom ons jok nou nie vir mekaar nie. Daar is iets geweldig ontstellend aan daardie heel visse op die ys in supermarkte. Iemand het hierdie arme wesens uit die dieptes van die oseaan gaan trek sodat hulle op ’n hopie ys in Checkers of Pick n Pay kan lê en deur mense se siele kan staar. Ek het nog altyd gewonder of enigiemand in die geskiedenis van Suid-Afrika al ooit een van daardie visse gekoop het. En of hulle nog leef om die storie te vertel.
Nietemin, ek kom omtrent elke dag in hierdie supermark en ek het nog nooit die vis geruik nie.
Ek en jy ken albei so ’n tannie. Die mens is darem maar lief daarvoor om te kla en te kritiseer.
“Dis te koud.”
“Dis te warm.”
“Sy’s te vet.”
“Sy’s te maer.”
“Hulle gee hul kinders te veel pak.”
“Kyk nou! Dis omdat hulle hul kinders nie genoeg pak gee nie.”
Ons kan nie wag vir spesiale geleenthede sodat ons bietjie kan kla, kerm en kritiseer nie – verjaarsdae, troues, babatees, Kersfees …
“Ek weet nie wat Lena besiel het om in so ’n pofrok te trou nie. Sy het soos ’n draairoomys gelyk.”
“Jaco moet regtig maar die braaiery los. ’n Goeie veearts sou my skaaptjop nog kon deurtrek.”
“Ek dog Marinda verwag net een kind … sy eet dan vir drie.”
Een effens onaangename ervaring by ’n restaurant of winkelsentrum en ons spring op sosiale media sodat ons agter ’n skerm kan wegkruip terwyl ons mense vertrap en besighede se reputasies vernietig.
Laat iemand nou net oor ’n druppel water op jou winkelvloer gly of hul bolip met ’n koppie koffie brand, dan lê die dagvaarding oor twee dae op jou lessenaar.
Bedien nou net vir iemand ’n stuk wortelkoek wat nie aan hul klamheidstandaarde voldoen nie, dan storm hulle huis toe sodat hulle ’n vieslike resensie op Facebook kan los.
’n Bekende Afrikaanse kanaal saai onlangs per ongeluk die verkeerde episode van ’n gewilde reeks uit. “Dit verdien niks minder as die doodstraf nie,” skryf iemand op sosiale media. Ek wil jou net herinner dat ons nie hier te doen het met ’n massamoord nie. Iemand het net vergeet om die regte knoppie te druk.
Dis asof daar ’n goeie skoot dopamien afskei wanneer daardie “send”-knoppie gedruk word. ’n Diep tevredenheid ervaar word as ons skinder oor iemand se slegte aartappelslaai, hulle 1950’s haarstyl of die spitbraai by hul troue.
Ons spandeer so baie tyd daaraan om te kritiseer en so min tyd om te dink waar hierdie woorde te lande kom. Wie sit aan die anderkant van daardie skerm? Waardeur gaan daardie persoon op wie jy vandag in die winkel ’n Karen getrek het?
Ek dink soms nog aan Jumaine.
Mens voel altyd meer gebind aan iemand as jy saam deur trauma is.
Ek wonder hoe hy gevoel het toe hy daardie aand, na ’n aaklige dag by die werk, vir sy vrou moes vertel hoe sy dag was.
“’n Tannie het my vandag in die suiwelrak met ’n kierie gedreig.”
“Hoe so, my lief?”
“Omdat vis soos vis ruik.”
Ek kan nie help om te wonder hoe anders Jumaine se aand sou wees as tannie Bets gekies het om liewer sy haarstyl of sy mooi glimlag te komplimenteer nie.








