Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Wenner van eerste Skilder met Woorde-kompetisie nou voltyds kunstenaar
“Ek kan eerlik sê dat die Skilder met Woorde-kompetisie wat ek in 2021 gewen het, my loopbaankeuse en lewe in ’n nuwe rigting gestuur het,” vertel Marisa Steynberg van Johannesburg. Met haar kunswerk wat geïnspireer was deur Anton Goosen se Straattroebadoere het sy as 16-jarige die beoordelaars se voete onder hulle uitgeslaan.
“Die kompetisie was vir my so lekker omdat kunstenaars die vryheid het om regtig kreatief te wees, maar ook binne ’n struktuur. Ek hou daarvan dat jy sit en luister na ’n liedjie en dan laat gaan jy jou brein om vandaar af iets te skep.”
Marisa is vandag 21 en het pas haar studies by Open Window voltooi. Sy werk voltyds as ’n kunstenaar en doen illustrasies vir kinderboeke en werk ook by verskeie geleenthede, insluitende troues, waar sy “lewendig” kuns skep. “Ek verf byvoorbeeld die bruidspaar voor die kansel,” verduidelik sy. Voor die Skilder met Woorde-kompetisie, het sy dit oorweeg om na skool sielkunde te gaan studeer. “My oom het egter my skildery van Straattroebadoere by my gekoop, en dit het my laat besef dat ek kuns ’n loopbaan kan maak. As dit nie vir die kompetisie was nie, sou die idee nie by my posgevat het dat ek voltyds kunstenaar kan wees nie.”
Marisa vertel dat sy as driejarige reeds met kunsklasse begin het, en omdat sy tuisonderrig ontvang het, het sy baie vrye tyd gehad. “Ek was maar altyd besig om iets te skets of te verf. Ek gebruik allerlei mediums, van waterverf vir my kinderboekillustrasies, tot akrielverf vir die kuns wat ek skep by troues.” Sy moedig ander jong kunstenaars aan om ook vir kompetisies, en spesifiek die Skilder met Woorde-kompetisie, in te skryf. “’n Mens het nie altyd as jong kunstenaar die plek of die platform om jou kuns te wys nie. Jong mense is onder soveel druk by die skool, die huis en in die wêreld om ‘perfek’ te wees. Kompetisies is belangrik, want dit gee jou die geleentheid om op jou kuns te fokus. Skilder met Woorde is lekker, want jy luister na ’n liedjie, maak ’n mooi prentjie, en dalk wen jy nog ’n prys ook! En miskien inspireer jy ook iemand anders.”


Hoe werk die 2026-kompetisie?
Met die Afrikaans.com- Skilder met Woorde-kompetisie in samewerking met die kunstenaar Elsie Jooste, daag ons laerskool- en hoërskoolleerders uit om een van die volgende 15 bekende Afrikaanse liedjies te skilder:
- Lappop (Carike Keuzenkamp)
- Kinders van die Wind (Laurika Rauch)
- Tik Tok (Anton Goosen)
- Inge 2 (Piesangskille)
- Afrikaners is plesierig (Karen Zoid)
- Ou Ryperd (Dozi)
- Vier seisoene (Gian Groen)
- Skepe (Jo Black)
- Sonvanger (Valiant Swart)
- Namibsroos (Theuns Jordaan)
- Groen Trui (Jan Blohm)
- Verander (Spoegwolf)
- Dagdrome in Suburbia (Francois van Coke)
- Draadloosdae (Adam Tas)
- Royal Hotel (David Kramer)
Klik hier om die lirieke van die liedjies af te laai.
Stuur ’n hoëresolusie-foto van jou kunswerk aan Afrikaans.com by myafrikaans.com@gmail.com met jou naam, van, graad, die naam van jou skool, asook die naam van die liedjie waarop die kunswerk gebaseer is, daarby.
Inskrywings is nou oop en sluit 3 Julie 2026. Wenners sal in die eerste week van Augustus 2026 aangekondig word.
Vir die volledige kompetisiereëls en bepalings en voorwaardes, klik hier.







