Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Sy leef vandag vreesloos in alles wat sy aanpak – van haar werk tot aandete maak, vertel die gewilde Binnelanders-aktrise Melinda Viljoen aan Afrikaans.com. “Dit is vir my ongelooflik om te sien hoe die Here mens beloon as jy getrou is met wat Hy vir jou gegee het. Hy kyk na jou. Vandag is ek in my denke die mees standvastig wat ek nog was, ten spyte van die baie mental uitdagings wat oor my pad kom as werkende ma.” Melinda sê sy het juis die oudisie gaan aflê vir die rol van Tracy Smit “uit vrees”. “Ek het baie teater gedoen voor Binnelanders, die een solovertoning na die ander, en ook baie kortfilms saam met mense wat saam met my studeer het. Die oudisieproses vir televisie het my baie senuweeagtig gemaak, en ek het nie geweet wat om te verwag nie. Daarom het ek lank geweier om TV aan te pak. Soos ek die Here leer ken het, het ek besef dat ek die besluit uit vrees gemaak het. Die eerste oudisie wat ek gedoen het, was vir Binnelanders en ek het dit letterlik net uit gehoorsaamheid gedoen en om vrees te oorkom. En toe kry ek die rol!”

Dit is nou agt jaar sedert Melinda by die Binnelanders-familie aangesluit het, en haar karakter is beslis een van die kykers se gunstelinge. “Tracy sou uitgeskryf gewees het, sy het vreeslike beserings oorleef en was aanvanklik nie deel van die hospitaal-dinamika nie. Met elke storielyn kon sy haar voete meer vind in die wêreld, en dis regtig net guns dat sy vandag nog daar is.”
“Om Tracy te speel het my braaf gemaak as mens, dit het vir my gewys jy mag maar bang voel, solank jy deurdruk.”
Haar karakter is verlede jaar met ’n ander geliefde karakter, dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo) getroud en dit het vir groot opwinding onder kykers gesorg. “Ja, siestog, arme Tracy was maar ongelukkig in die liefde in die verlede. Sy en Tertius was goeie vriende, en ek hou baie van hoe hulle liefdesverhaal verloop het, want dit wys hoe vriendskap kan groei en liefde ontwikkel. Albei karakters verdien hulle gelukkige einde. Dit was ook groot pret om die troue te skiet, my rok is spesiaal vir my gemaak, en ek en Reynardt moes tot ’n dans leer, iets wat ek nie eens vir my eie troue gedoen het nie!” lag sy.

Melinda se eie liefdesverhaal draai om haar man Francois, en hulle twee dogtertjies, Liebe (2,5) en Heide (agt maande). Melinda het in Pretoria grootgeword, en het sedert sy agt jaar oud was dramaklasse onder Shareen Swart by die Performing Arts Lifestyle Institute (PALI) gedoen. Sy het ook na skool verder by PALI studeer. Vandag bly sy en haar gesin in Johannesburg, net ’n klipgooi van die ateljee waar Binnelanders verfilm word. “Vandat ek ma geword het, is ek meer sensitief en my hart breek makliker vir wat my karakter deurgaan. Ek kan myself meer in haar skoene sit. Daar is sekere emosies wat ’n mens nie ten volle kan begryp voordat jy nie self kinders het nie. Moederskap maak jou mushy – jou hart loop heeltyd buite jou lyf rond.”
“Ek voel moederskap het my beslis meer diepte gegee as aktrise.”
Balans is natuurlik ’n uitdaging vir werkende ma’s, en Melinda stem saam dat dit ’n weeklikse aanpassing vereis. “Voorbereiding is my beste vriend. Ek maak maaltye vooruit en beplan so goed ek kan – anders raak ek angstig. Ek is so dankbaar dat ek en Francois ’n span is wat ouerskap saam aanpak, ek sou dit nie alleen kon doen nie. Ek dink daai balans is iets wat ek vir die res van my lewe gaan uitpluis. Mens sukkel maar met skuldgevoelens as jy moet gaan werk en jou kind is siek.”
Sy vertel een van haar grootste moederskapuitdagings was om te borsvoed én te werk. “Dit is ’n groot uitdaging in die werksplek. Hoe maak ek seker my kind het genoeg melk? Dis maar stresvol – en stres is nou nie die beste maat van melkproduksie nie! Voordat ek ’n ouer geword het, was dit net mans by Binnelanders wat pa word het. Vir my was dit natuurlik ’n ander dinamika gewees. Ek het baie keer gesit met my borspomp terwyl my grimering vir die dag gedoen word. Liebe was gelukkig in die storie ingeskryf, wat dinge baie makliker gemaak word. Ek sien Heide nou baie minder as vir haar, en dis maar hartseer, mens voel jy loop baie mylpale mis.”
Moederskap was ook vir haar ’n groot kopskuif. “Vir die eerste keer dink ’n mens nie net aan jouself nie. As jong mens is jou eie emosies en gevoelens vir jou die belangrikste, en dan word jy ma, en verskuif die fokus. Ek is trots op hoe ek my oë kon verskuif van myself, dis swaar om heeltyd op jouself te fokus. Ek het vryheid ervaar in die wegkyk van myself en om na my gesin te kyk. Ek is ook trots op my vermoë om ’n goeie ma en vrou te kan wees, ten spyte van my tekortkominge. Ek wil vir my kinders leer om nooit ‘nee’ te sê vir iets uit vrees nie, en om nie toe te laat dat klein dingetjies hulle oorweldig nie. Ons moet ons harte sag hou in hierdie wêreld.”
“Wees sensitief vir mense, en kyk buitentoe.”

Sepies beweeg natuurlik teen ’n vinnige pas, emosioneel en professioneel. Melinda sê ook hier is voorbereiding die sleutel. “Dit is wel ’n aanhoudende proses en ek voel nooit ek het alles 100% onder die knie nie. Sommige weke is chaos en dan bevraagteken ek my lewenskeuses. Is dit die moeite werd? Kinders word so vinnig groot, niks kan jou daarop voorberei nie. Ek dink ook voor mens kinders het, dink jy soms terug na jou eie kinderjare en het jy die persepsie dat jou ouers perfek was en alles in plek was voordat hulle ouers geword het. Dit is selde waar, en ons kan so hard wees op onsself. Ons misluk steeds as ouers en het tekortkominge as mense.”
“Dit is waar ons die hulp en leiding nodig het van ons Hemelse Vader.”







