Resep deur: Marie Brümm
Hou die winterkoue op ’n afstand met dié hartlike boontjiesop — propvol geur, eenvoudig om te maak en perfek vir koue dae wat vra vir warm, huislike kos en gesellige oomblikke saam om die tafel.
Bestanddele
1 sakkie (500 g) suikerboontjies
2 liter kookwater
300 g spek (bacon)
1 groot ui, fyn gesny
1 blokkie biefekstrak, verkrummel
2 x 50 g pakkies tamatiepasta
1 x 50 g pakkie oxtail-soppoeier (beesstert-soppoeier)
20 ml Worcestersous
500 ml koue water
2 wortels, grof gerasper
Aromat na smaak
2 t suiker
sout en peper na smaak
Metode
- Opsioneel: Week die boontjies oornag in baie koue water. Was en dreineer dit die volgende dag.
- Plaas die boontjies in ‘n groot drukkoker. Voeg die kookwater by, sit die deksel op en kook dit tot sag. Geweek oornag: ongeveer 20–25 minute onder druk. Nie geweek nie: ongeveer 35–45 minute onder druk.
- Braai die spek (bacon) en ui in olyfolie. Krummel die beesaftrekselblokkie bo-oor en braai tot goudbruin.
- Voeg die wortel en boontjies (met die water) by en meng dit goed deur.
- Meng die tamatiepasta, soppoeier en Worcestersous met ‘n 500 ml koue water.
- Voeg dit by die sop. Geur die sop met Aromat, suiker en sout en peper en laat dit goed deurkook tot dit effens verdik het. (Genoeg sout)
- Steek die kaggelvuurtjie aan en bedien dit saam met tuisgebakte brood.







