Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Hoe vang ’n mens ’n hele taal vas?
Vir ’n eeu lank probeer die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) presies dit doen – nie net deur woorde te lys nie, maar deur die lewe, klank en kleur van Afrikaans in al sy vorme te bewaar.
Die WAT is vanjaar amptelik 100 jaar oud – dit het op 25 Maart 1926 met prof. J.J. Smith as die eerste hoofredakteur tot stand gekom. Dr. Phillip Louw, die huidige hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, vertel aan Afrikaans.com dat die afgelope 100 jaar baie groot mylpale gehad het, maar hy kan twee uitsonder: “Die voltooiing en publikasie van die eerste deel op 7 Mei 1951 is ’n baie belangrike mylpaal. Soos baie ander omvattende woordeboeke wêreldwyd het die projek moeilike beginjare gehad. Daar is geworstel met hoe omvattend die woordeboek moes wees, hoe die materiaal versamel moes word, wat gebruik sou word om die woordeboekartikels te skep, die spellingstelsel om na te volg, ens. Om daardie eerste deel van die WAT gepubliseer te kry, het bloedsweet van ʼn gideonsbende gekos!
“Meer onlangs sou ek die besluit van die Trust en Buro se leierskap om fondse te werf spesifiek om die voltooiing tot by Z van die eerste uitgawe van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal te versnel, uitsonder. Die ‘Tienjaarplan’ is tans goed op dreef en ons behoort Z teen die einde van 2028 te bereik. Wat die implementering van die ‘Tienjaarplan’ so besonders maak, is die verskeidenheid donateurs wat ingestem het om dit te ondersteun – dit toon werklik vir hoeveel trusts en maatskappye Afrikaans se behoud en ontwikkeling nog hulle erns is.”
Natuurlik het die rol en doel van die WAT oor die afgelope eeu baie verander. Aanvanklik was die bedoeling om ’n standaardwoordeboek soortgelyk aan die Nederlandse Van Dale-woordeboek te publiseer, vertel Phillip. “Daarvoor is drie jaar opsygesit. Gaandeweg het dit egter duidelik geword dat die behoefte bestaan vir ’n omvattende woordeboek wat Afrikaans in die volste moontlike omvang kan beskryf. Dus nie net die standaardvariëteit wat in formele, geskrewe kontekste gebruik word nie, maar die hele spektrum vanaf geselstaal deur tot akademiese en ambagstaal. Dit het beteken dat daar baie klem moes wees op werklike taalgebruik.
In die WAT se kluis, ons enjinkamer, is daar 3,5 miljoen indekskaartjies wat oor dekades heen met liefde en sorg voorberei en ingestuur is deur vrywilligers van oor die hele land heen.
“Elke kaartjie bevat ’n woord, ’n voorbeeldsin waarin daardie woord voorkom, en die bronverwysing. As dit skryftaal is, word die skrywer en publikasie as bronverwysing gegee en as dit spreektaal is, word die area waar dit gehoor is, afgebaken. Hierdie kaartjieversameling is een van Afrikaans se versteekte skatte – die resultaat van die grootste skarewerwingsprojek ooit onderneem vir ons taal. Selfs al is daar nou ook meer elektroniese bronne beskikbaar, vorm die kluiskaartjies steeds die basis van ons leksikograwe se werk. Hierdie fokus op die taal soos dit regtig gebruik word, stel die WAT dan in staat om ’n spieël te wees waarin die volle Afrikaanse taalgemeenskap hulle taalgebruik gereflekteer kan sien.”
Met so baie woorde in die skatkamer, is dit ’n aanhoudende uitdaging om te besluit watter woorde word opgeneem in die WAT.
“Die WAT is ’n beskrywende bron. Dit is dus baie belangrik dat ons proses begin by bewysstukke van ’n woord se werklike gebruik, soos in ons kaartjieversameling of in die verskeie elektroniese bronne wat ons raadpleeg. Die belangrikste kriteria is dus dat die woord veelvuldige kere deur verskillende mense in verskillende media gebruik is. ’n Gesaghebbende bron moenie in die slaggat trap om eendagsvlieë of woorde wat vir bemarkingsdoeleindes geskep is en weer verdwyn as die veldtog verby is, op te neem nie. As ons dus nie seker is of ’n woord gaan bly voortbestaan nie, sal ons dit eers op ’n dophoulys plaas om die gebruik daarvan te monitor.”
Die vraag moet gevra word, hoe lank neem dit om ’n enkele woord volledig na te vors en te beskryf? Phillip verduidelik dit hang regtig af van die betrokke woord. “’n Eenvoudige woord met net een betekenisonderskeiding en geredelik beskikbare voorbeelde kan binne ’n paar uur bewerk word, maar ’n woord met baie verskillende woordsoortelike gebruike, betekenisonderskeidings en/of uitdrukkings kan jou dae lank besig hou. As daar dan nog tegniese gebruike van ’n woord ook is, moet die woordeboekmaker eers ’n vakkundige medewerker nader om leiding met die definisie te gee. Geen twee woorde bied dieselfde uitdagings vir ’n leksikograaf nie!”
Afrikaans is lewend en divers, en dit is ook belangrik dat die WAT hierdie veranderende aard weerspieël, meen Phillip.
“Ek wil ons inisiatiewe uitsonder om ons missie vir die WAT as die gesaghebbende skatkamer van inklusiewe Afrikaans gestand te doen. Dit beteken elke Afrikaanssprekende moet die woordeskat wat hulle in alle kontekste daagliks gebruik in die WAT kan vind – van akademiese en ambagstaal deur tot sleng en die geografiese variëteite van Afrikaans. In hierdie verband is die onlangse voltooiing van ’n subprojek om die WAT se dekking van Kaapse Afrikaans te sistematiseer en uit te brei ’n besondere hoogtepunt. Ons het nou ook reeds begin met die volgende subprojek vir Gariepafrikaans. Ons wil nou saamwerk met die ProVaria-groep om uiteindelik ’n omvattende beskrywing van hierdie wonderlike variëteit, wat subvariëteite soos Namakwalands en Griekwa-Afrikaans insluit, te voltooi.”
Soos enige projek, het die WAT natuurlik verskeie uitdagings. “Befondsing bly uiteraard ’n projek soos die WAT se grootste uitdaging,” sê Phillip.
“Sedert ons regeringsbefondsing drasties verminder is, maak ons staat op die goedgunstigheid van donateurs om die WAT produktief te hou. Die WAT Trust speel ’n sleutelrol hierin. Ek kan met alle dankbaarheid getuig van die gewilligheid van ’n breë groep ankerdonateurs, maar dan ook net sprekers van die taal wat betrokke raak via ons Borg ’n Woord-inisiatief, om die WAT se werk te ondersteun. Uiteraard bereik ons binnekort Z en dan sal die groot uitdaging wees om die momentum en befondsing te behou om die tweede uitgawe van die WAT aan te pak.”
Om die WAT se 100 jaar te vier, word daar ook vanjaar ’n spesiale Eeufeesboek uitgegee, vertel Phillip. “Die boek se titel is En nog WAT. Ons wonderlike kollega, Jana Luther, het dit op eie houtjie aangepak en al die winste aan die WAT bewillig. Sy skryf sedert 2018 vir Beeld, Die Burger en Netwerk24 ’n tweeweeklikse taalrubriek, ‘Woordewisseling’. Langer weergawes word soms in die RSG-program Taaldinge uitgesaai. Om die 100ste bestaansjaar van die WAT te herdenk, kies sy uit dié versameling – vir taalliefhebbers – die 100 stukke in hierdie bundel.”
Vir meer inligting, besoek www.wat.co.za.







