Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
“Kunsmatige Intelligensie vervang nie menslike oordeel nie … dit versterk menslike potensiaal.”
– Professor Ignatius Gous, tydens die Akademie se 2026-Studentesimposium vir die sosiale en geesteswetenskappe
Tydens die sesde Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Studentesimposium vir die sosiale en geesteswetenskappe, wat in Februarie 2026 aangebied is, het professor Ignatius Gous, stigter van Future Sharp, ’n inisiatief wat fokus op effektiewe leerstrategieë, ’n insiggewende referaat gelewer oor “Identiteit, Meesterskap en Nalatenskap in die era van Kunsmatige Intelligensie”. Professor Gous, emeritus professor en voorheen verbonde aan Unisa, is ’n spesialis in leerstrategieë.
Hierdie studentesimposium bied jong navorsers die geleentheid “om hul werk in Afrikaans met ’n akademiese gehoor te deel, insiggewende terugvoer te ontvang en ʼn bydrae tot die bevordering van Afrikaans as akademiese taal te lewer”.
Afrikaans.com gee graag ’n kort opsomming van prof Gous se referaat:
Tydens sy referaat het professor Gous gesê dat die fondament van navorsing by die persoon self (die navorser) begin en dat Kunsmatige Intelligensie (KI) nie die menslike eienskappe van oordeel, kreatiwiteit, etiek en verantwoordelikheid kan vervang nie. Wat KI wel kan doen, is om die menslike potensiaal te versterk en om selfrefleksie, etiese monitering en motivering te ondersteun. Om dus KI, met die gepaardgaande outomatisering, insigte en spoed, op oordeelkundige en etiese wyse in te span tydens die navorsingsproses, kan uiteindelik lei tot uitmuntende navorsing.
Professor Gous het ook daarop gewys dat die grondslag van ’n buitengewone navorser gebaseer is op sy intrinsieke eienskappe en sielkundige samestelling. Hierdie dimensie fokus derhalwe op die innerlike dryfvere wat volhoubare navorsingspraktyk moontlik maak.
Etiese integriteit as fondament in die KI-era
In die era van Kunsmatige Intelligensie openbaar uitmuntende navorsers ses duidelike kenmerke en vorm dit saam ’n samebindende menslike kern. Hierdie kenmerke is:
- Etiese integriteit wat dien as morele kompas;
- ’n Konsensieuse werksetiek;
- Selfrefleksie wat die proses en terugvoer na etiese verantwoording evalueer;
- Entoesiasme;
- Leergierigheid wat die vonk vir verkenning skep; en
- Fokus wat deurlopende uitvoering van die navorsingstaak dryf.
Volgens professor Gous, beklemtoon hierdie eienskappe dit wat mense uniek maak in vergelyking met kunsmatige intelligensie. Die mens het etiese oordeel, intrinsieke motivering en aanpasbare selfbestuur. Navorsing toon ook dat dit juis hierdie eienskappe is wat die menslike anker vorm en navorsers help om in ’n KI-wêreld waar outomatisering roetinetake oorneem, KI op ’n etiese en effektiewe wyse te gebruik en sodoende te verseker dat navorsing nie net doeltreffend is nie, maar ook verantwoordelik en innoverend bly.
KI het sy plek in ’n veranderende wêreld
Soos raakgelees in ’n aanlyn artikel, lig Afrikaans.com enkele punte uit oor die voor- en nadele van kunsmatige intelligensie en spesifiek wat dit vir die IT-beroep kan beteken. Die voordele:
- Verbeterde doeltreffendheid
KI se vermoë om herhalende take vinnig en doeltreffend te outomatiseer, laat meer tyd toe vir die IT-spesialis om ingewikkelde en strategiese take te verrig.
- Voorspellende analise
KI gebruik data-analise om tendense te identifiseer en toekomstige gebeure te voorspel – ʼn waardevolle hulpmiddel wat ʼn duidelike insig in die toekoms van sagteware-ontwikkeling gee.
- Optimale sekuriteit
KI kan gebruik word om sekuriteitsbedreigings te voorspel en te identifiseer – ʼn waardevolle hulpmiddel om netwerk- en data-integriteit te handhaaf.
Die nadele:
- Gebrek aan menslike intuïsie
KI beskik nie oor menslike intuïsie en oordeelsvermoë nie. Dit vereis die insig van die mens om die menslike element by te voeg.
- Afhanklikheid van datagehalte
KI-algoritmes is slegs so akkuraat soos die data wat aangebied word. Dit is die IT-spesialis se taak om die integriteit en akkuraatheid van die data wat gebruik word, te verseker.
- Hoë koste en tegniese uitdagings
KI-stelsels kan duur wees en vereis gespesialiseerde kennis van gevorderde tegnologie.
“Die toekoms van die IT-bedryf lê dus in die gebalanseerde benutting van hierdie kragtige tegnologie deur die menslike intuïsie en kundigheid met die rekenkundige intelligensie van KI-stelsels te kombineer.”
Lees die volledige artikel hier:
https://aanlyn.solidariteit.co.za/publieke/artikel/die-voor-en-nadele-van-kunsmatige-intelligensie
Addisionele bronne en lees meer:
- Hoe leerders KI effektief kan inspan om hulle te help met hulle skoolwerk: Klik hier.
- Luister ook na die potgooi van ’n gesprek op “Kompas” (RSG) waar prof Gous oor bogenoemde onderwerp gesels en verder uitbrei.
Gaan teken sommer vandag nog in by Afrikaans.com se eie kunsmatige intelligensie-platform: Afrikaans.ai








