Skrywer: Karla Janse van Vuuren
Sepiekykers ken haar as suster Naomi wat al vir 14 jaar deel is van die Binnelanders-familie, maar Je-ani Swiegelaar het onlangs ook een van die hoofrolle vertolk in die vollengte fliek My F*k Marelize. Afrikaans.com het uitgevind dat dié rol vir haar ekstra-spesiaal was, aangesien die fliek in Namibië afspeel, en sy self haar wortels daar het. “Ek is in Windhoek gebore, en het tot die ouderdom van 11 in ’n klein dorpie, Tsumeb gewoon. Ons het toe Kaap toe verhuis, en later ook in Pretoria gebly. Die trek Suid-Afrika toe was ’n groot skok vir my sisteem. In Tsumeb het ons orals met ons fietse gery, en altyd veilig gevoel. Hier in Suid-Afrika, in die stad, was alles baie anders. Ek is ook, glo dit of nie, ’n vreeslike introvert en baie skaam, so dit was maar ’n uitdaging om nuwe vriende te maak.”
Je-ani vertel dat sy nie van kleintyd daarvan gedroom het om aktrise te wees nie. “Ja, baie akteurs is groot introverte, ons kruip weg agter karakters eerder as om onsself te wees. My groot loopbaandroom was om die fisioterapeut vir die Stormers te wees,” lag sy. “Maar ek het besef my punte gaan my nie daar kry nie, en toe het ek onderwys oorweeg. Die pennie het egter ‘gedrop’ toe die drama-akademie waarvan ek deel was in 2003 New York besoek het. Toe ek daar as 17-jarige op die verhoë by Broadway rondloop, het ek gedink, wow, hierdie is iets wat ek kan doen.” Sy het dadelik terug by die huis haar ouers ingelig dat sy wil gaan drama studeer. “Ek dink ek is een van die min akteurs wie se ouers van die begin af ondersteunend was.”
“Ek het geweet ek het die gawe om ’n storie te kan vertel, maar die bedryf is baie uitdagend.”
Je-ani het haar dramagraad by die Universiteit van Pretoria voltooi, en sy woon nou al sowat 10 jaar in Johannesburg. Sy het eers klein rolle gehad in Villa Rosa en Getroud met Rugby, maar dis die rol van Naomi in Binnelanders wat sy in 2012 losgeslaan het wat haar regtig standvastigheid gegee het. “Ons spot by Binnelanders en sê dat die karakters volksbesit word. My karakter is geliefd, en dis ’n voorreg om haar te speel. Naomi is al deur diepe waters, en ek dink deur haar karakter word universele stories vertel waardeur baie mense gaan. Dit is ’n voorreg én ’n verantwoordelikheid om stories te vertel wat mense se harte raak. Dit klink geyk, maar ’n groep akteurs wat so nou saamwerk, word regtig soos ’n familie. Ons skiet soms van seweuur in die oggend tot seweuur die aand, so ons raak maar geheg aanmekaar.”

Haar rol as Heidi Horn in 2025 se My f*k Marelize was ook vir haar ’n heerlike uitdaging.
Die fliek is geïnspireer deur die 17-sekonde video wat in 2019 soos ’n veldbrand versprei het van die tiener Marelize Horn wat met haar fiets teen ’n rugbypaal vasry, en haar ma Heidi wat dan die immergroen woorde prewel. Agter dié skreeusnaakse video, was daar egter ’n ware verhaal met ’n ongelooflike diep storie. “Mense dink omdat ek self van Namibië is, was ek een van die dryfvere agter die fliek, maar dit is glad nie waar nie. Ek en die regisseur, Zandré Coetser, wou al lankal saam ’n projek aanpak. Sy het my in Desember 2023 gebel en vertel van die idee. Ek het net dadelik gesê, ek gaan nie met ’n fiets teen ’n paal vasry nie! Nee, sê Zandré, jy gaan haar ma speel. Dit was nogal vir my snaaks om te besef dat ek nou op daardie punt in my loopbaan is dat ek iemand se ma gaan speel. Maar ek is altyd daar vir ’n mooi storie, en as daar ’n lessie te leer is, so ek het dadelik ingestem. Ons het nooit gedink die fliek gaan so baie opslae maak nie. Ons het geweet ons is deel van iets spesiaal en goed, maar tot die kykers dit nie gesien het nie, weet ons nie hoe goed dit gaan doen nie.”
Die fliek is bekroon as die gehoor se gunsteling tydens die 13de jaarlikse Silwerskermfees, en Je-ani en Zandélle Meyer (wat Marelize speel), het ook albei toekennings vir hul rolle ontvang.
“Marelize was die eerste vollengte fliek wat ek voltooi het, en dit het baie lang ure vereis. Ons het die fliek in net 12 dae in Namibië geskiet, en ons moes maar baie uitdagings hanteer – soos reën as ons tonele buite moet skiet. Daar is soveel meer veranderlikes wanneer dit kom by ’n fliek soos dié, sepietonele is baie meer voorspelbaar en vinniger om te skiet.”

Nog ’n groot uitdaging wat Je-ani vanjaar aangepak het, was die Ysterman-kompetisie wat sy op 19 April in Nelson Mandela-baai saam met die akteur Gerald Steyn voltooi het. Dit vereis eers 3,86 km se swem in die see, dan ’n 180 km-fietsrit, en laastens ’n 42 km-maraton. “Ek wou dit graag doen voordat ek 40 word, en dit gebeur vanjaar op 3 Julie,” lag sy. “Ons het vreeslik hard gewerk en vir ses maande basies sonder ophou geoefen en reg geëet. Ons doen die kompetisie ook vir liefdadigheid, so dit gaan nie oor ons twee nie.”
“Dit was maar taai om al die oefen en voorbereiding in te pas rondom my werk.”
Sy vertel dit was senutergend om in die blokke te staan om weg te spring, en die swem in die see het bietjie soos ’n “wasmasjien” gevoel. “Op so 2,5 km toe swem daar dolfyne onder my, dit was nogal intens, veral omdat ek eers gedink het dis haaie! In daardie oomblik het ek geweet ek gaan vandag die resies klaarmaak. Die 180 km op die fiets was regtig ’n uitdaging, my lyf was maar vinnig seer op so 30 km, en vir 150 km moes ek regtig vasbyt. Toe dit kom by die hardloop was my rug erg styfgesit, en ek moes maar op my tande byt. My kop was fine, maar my lyf wou ingee. Nooit het ek egter ’n oomblik gehad waar ek wou opgee nie. Ten spyte van die pyne, het ek die dag regtig geniet – ons ondersteuners het in hulle massas uitgekom. Ek glo nie ek sal weer ’n volle Ysterman doen nie, dalk weer ’n halwe een!”
Je-ani gaan vanjaar by die Innibos-fees wees wanneer dit haar 40ste verjaarsdag is. “Ek het die organiseerders sommer laat weet daar gaan partytjie gehou word! Ek en my ouers wou graag die Tour de France gaan volg het, maar as gevolg van die onstuimigheid in die wêreld tans, het ons besluit om dit maar eerder te kanselleer.”
“Dit is vir my ’n voorreg om nog ’n jaar ouer te word.”








